Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Liggaamsoefening ook goed vir die brein
Outeur: Wilma Stassen
Gepubliseer: 10/05/2018

Ons weet goed hoeveel voordele oefening vir jou fisiese gesondheid inhou – dit hou jou gewig in toom, verminder jou risiko vir hartsiekte en tipe 2-diabetes, en bied selfs beskerming teen party tipes kanker. Nuwe wetenskaplike bewyse kom nou ook aan die lig van die voordele wat oefening vir jou geestesgesondheid inhou.

Wêreld Beweeg vir Gesondheid-dag word op 10 Mei gevier. Hierdie jaarlikse wêreldwye inisiatief is deur die Wêreldgesondheidsorganisasie begin om die belangrike rol te beklemtoon wat liggaamsoefening in gesondheid en algehele welsyn speel.

“Navorsing toon dat deur vir slegs 150 minute (twee en ʼn half uur) per week te oefen teen ʼn matige-intensiteit (loop ingesluit), jy jou risiko verminder om vroeg te sterf aan van die vernaamste doodoorsake. Dit kom nou aan die lig dat fisiese oefening ook ʼn beskermende effek het op die brein en senuweefsel, en jou kanse verlaag om neurologiese toestande te ontwikkel," sê prof Wayne Derman, direkteur van die Instituut vir Sport- en Oefening-geneeskunde (ISOG) aan die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe.

“Ons weet al vir ʼn geruime tyd dat oefening kan help vir slaap, dit kan angstigheid verlaag en dit kan selfs jou gemoedstoestand en geheue verbeter. Nuwe navorsing toon nou dat dit ook beskerming kan bied teen demensie en voordelig kan wees in die behandeling van depressie," verduidelik Derman.

Hy vestig die aandag op van die nuutste navorsing oor hierdie onderwerp:

ʼn Multinasionale studie, wat ook data van Suid-Afrikaanse deelnemers insluit, is onlangs in die Journal of Experimental Gerontology gepubliseer en beklemtoon die gevare daaraan om onaktief te wees. Die navorsers het bevind dat mense wat vir meer as agt ure ʼn dag sedentêr (onaktief) is, ʼn 1.56 keer hoër kans het om geheueverlies en ander simptome van matige kognitiewe verswakking (MKV) te ervaar. MKV kan ʼn voorloper wees van neurologiese toestande soos Alzheimer se siekte.

ʼn Finse studie wat verlede maand in die joernaal Age and Ageing gepubliseer is, toon dat lae vlakke van fiksheid met ʼn verhoogde risiko vir demensie verband hou. Die studie het meer as 2000 Finse mans vir ʼn gemiddelde tydperk van 22 jaar gevolg, en het bevind dat diegene met ʼn hoë kardiorespiratoriese fiksheid (VO2max >36.5 ml/kg/min) ʼn 20% laer risiko gehad het om demensie te ontwikkel as mans met ʼn lae kardiorespiratoriese fiksheid (VO2max <23.7).

Die beskermende effek van oefening op die brein is in nog ʼn studie bevind. Chinese navorsers het onlangs in die joernaal Neural Plasticity berig dat oefening die progressie van kognitiewe verswakking in ouer bevolkingsgroepe kan verstadig, en moontlik ʼn koste-doeltreffende behandeling kan bied in die stryd teen demensie.

Navorsers van Noorweë het die resultate van 23 vroeëre studies gekombineer wat die effek van oefening op depressie ondersoek het. Hulle het in die Journal of Affective Disorders berig dat oefening ʼn betekenisvolle effek op depressie het in vergelyking met geen intervensie, maar dit was nie heeltemal so effektief soos sielkundige behandeling of antidepressante medikasie nie. Hulle stel voor dat oefening saam met tradisionele intervensies ingespan word om depressie doeltreffend te behandel.

“Hierdie navorsing dra by tot die reeds lang lys van voordele wat oefening vir die liggaam en brein inhou. Dit is ʼn koste-doeltreffende en toeganklike intervensie wat enigeen kan gebruik om nie net die kwantiteit, maar ook die kwaliteit van hul lewe te verbeter," sê Derman ter afsluiting.


Bronne

2018 Cui, M.Y, et al. Exercise Intervention Associated with Cognitive Improvement in Alzheimer's Disease. Neural Plasticity. March 2018

2018 Kurl. S, et al. Cardiorespiratory fitness and risk of dementia: a prospective population-based cohort study. Age and Ageing. April 2018

2018 Vancampfort. D, et al. Mild cognitive impairment and sedentary behaviour: A multinational study. Experimental Gerontology. Volume 108

2016 Kvam, S. et al. Exercise as a treatment for depression: A meta-analysis. Volume 202


Onderskrif: Prof Wayne Derman

Foto: Damien Schumann