Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Internasionale uitstalling voer eugenetiekbeweging terug na die Nazi-bewind se ‘wetenskap van ras’
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 08/05/2018

'n Internasionale reisende uitstalling wat deur die Verenigde State se Holocaust Memorial Museum byeen gebring is en lig werp op die Nazi-bewind se 'wetenskap van ras', asook die implikasies daarvan vir die mediese etiek en vir sosiale aanspreeklikheid, word tans deur die Universiteit Stellenbosch Museum aangebied en loop op 28 Mei 2018 ten einde.

Die uitstalling heet Deadly Medicine: Creating the Master Raceen word in Suid-Afrika aangebied deur die Suid-Afrikaanse Stigting vir die Joodse Volksmoord en Menseslagting (www.holocaust.org.za). Van Stellenbosch af reis die uitstalling na Johannesburg, Pretoria, Durban, Kaapstad en Namibië, waar dit by sentra vir die Joodse Volksmoord, sowel as by ander universiteite en museums in Suid-Afrika te siene sal wees. 

Aan die hand van afdrukke van foto's en dokumente, geskiedkundige films, en die getuienis van oorlewendes, ondersoek die uitstalling die manier waarop die vervolging van groepe wat biologies as minderwaardig beskou is, tot die amperse uitwissing van Europese Jode gelei het. Verder word besoekers uitgedaag om te besin oor die hedendaagse belangstelling in genetiese manipulasie wat die moontlikheid van menslike volmaaktheid en die nalatenskap van rassisme bevorder.

'n Aantal openbare lesings, filmvertonings, boekbekendstellings en paneelbesprekings is deel van die uitstalling en is deur 'n verskeidenheid Suid-Afrikaanse akademici, waaronder dosente van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, en die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US), aangebied. 

Die uitstalling is van besondere belang in 'n land soos Suid-Afrika waar kwessies oor mediese etiek steeds op die voorgrond is en daar voortdurend 'n behoefte bestaan om die land aan die menswaardigheid van die individu te herinner. 

Op Woensdag, 25 April, het prof Steven Robins van die Departement Sosiologie en Sosiale Antropologie, en dr Handri Walters, 'n navorser vir die Suid-Afrikaanse deel van die uitstalling, 'n praatjie gelewer oor Spectres of Racial Science: Understanding eugenics as a 'travelling science'. Die fokus het geval op die wyse waarop eugenetiek in die vroeë 20ste eeu 'n wêreldwetenskap geword het, veral op die Duitse eugenetiek, wat wortels in Duits-Suidwes-Afrika (nou Namibië) het en tot by die uithoeke van die aarde strek, ingesluit die US. Robins is die outeur van Letters of Stone, from Nazi Germany to South Africa, 'n diep persoonlike en pynlike besinning oor die ware gruwels en omvang van die Nazi's se rassebeleide oor die Jode, wat die kortlys van die Sunday TimesAlan Paton-toekenning vir Niefiksie in 2017 gehaal het. Lees die volle storie hier.

Die uitstalling verken die manier waarop die Nazi-leierskap, in samewerking met individue in professies wat tradisioneel met genesing en die openbare belang gemoeid is, die wetenskap gebruik het om vervolging, en uiteindelik 'n menseslagting, te regverdig. Die geskiedenis van die Joodse Volksmoord verskaf 'n waardevolle konteks waarbinne daar oor kwessies van ons tyd besin kan word. 

Die pamflet by die uitstalling benader die kwessie soos volg: “Deadly Medicinetoon hoe die Nazi-bewind onder Adolf Hitler daarna gestreef het om die genetiese samestelling van die bevolking deur maatreëls bekend as 'rassesuiwering' of 'eugenetiek' te verander. Dit benadruk ook die rol van wetenskaplikes in die biomediese velde, veral antropoloë, psigiaters en genetici – almal kundiges wat in die geneeskunde opgelei is – en hoe hulle gehelp het om dié beleide te regverdig deur dit in die praktyk toe te pas." 

Mediese proefnemings kan egter selfs verder teruggevoer word na Eugen Fischer en ander wetenskaplikes se studies van Afrika-oorloggevangenes in Namibië tydens die Herero- en Nama-volksmoorde, wat tot die dood van tienduisende individue gelei het. Hierdie studies het Duitse rassewetgewing, waaronder die Nuremberg-wette, sedert die vroeë 20ste eeu en daarna beïnvloed. 

“Met die implementering van die Nazi-rassesuiwering is die kategorieë van mense en groepe wat as 'n biologiese gevaar vir die gesondheid van die volk beskou is, verder uitgebrei deur die insluiting van Jode, die Roma (sigeuners), verstandelik en liggaamlik gestremde persone, en ander minderheidsgroepe.

“Onder die dekmantel van die Tweede Wêreldoorlog, en met die oorlog as voorwendsel, is Nazi-rassesuiwering geradikaliseer en was daar 'n verskuiwing van die beheer oor aanwas en huwelike na die uiteindelike eliminasie van persone wat as biologiese bedreigings beskou is."

Daar is beplan om 'n tweedaagse seminaarreeks getiteld Taking stock: Disability & Human Rights in contemporary South Africa as deel van die uitstalling aan te bied. Die eerste seminaar, getiteld Deadly Practices: Esidimeni and beyond, is op 16 April aangebied. Die tweede, Beyond the right to life: Disability, Personhood & Participation, vind op Maandag 7 Mei onder voorsitterskap van prof Leslie Swartz van die Departement Sielkunde plaas. Swartz, 'n gedistingeerde professor wat as kliniese sielkundige opgelei is, is 'n toonaangewende kundige op die gebied van gestremdheidsregte, spesifiek in lae-inkomstekontekste. 

Op Dinsdag 15 Mei stel me Bonita Bennett, Direkteur van die Distrik Ses Museum,die film Skinbekend. Dié film beeld die lewe van Sandra Laing uit. Laing is as 'gekleurde' geklassifiseer vanweë haar velkleur en die tekstuur van haar hare, ofskoon sy 'wit' ouers gehad het. Die vertoning word met 'n vraag-en-antwoord-sessie opgevolg. 

Die Universiteit Stellenbosch Museum is geleë te Ryneveldstraat 52, Stellenbosch, en kan by telefoonnommer 021 808 3695 geskakel word.

Foto: Kopskote wat die onderskeie rastipe uitbeeld: Die meeste Westerse antropoloë klassifiseer mense volgens 'rasse', gebaseer op fisieke eienskappe soos die grootte van die kop en die kleur van die oë, hare en vel. Hierdie klassifikasie is deur Eugen Fischer ontwikkel en het in die 1921- en 1923-uitgawe van Foundations of Human Genetics and Racial Hygieneverskyn (verskaf deur die Amerikaanse Holocaust Memorial Museum).