Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maties Rugby se geskiedkundige geskenk aan die US
Outeur: Maties Sport
Gepubliseer: 19/04/2018

ʼn Geskiedkundige dubbel in die Varsitybeker-reeks kompetisie. Daar is geen beter geskenk wat die Maties Rugbyklub aan die Universiteit Stellenbosch in sy Eeufees-jaar kon gee nie.

Maties Rugby het Maandagaand (16 April 2018) die Varsitybeker vir die eerste keer sedert 2010 omhoog gelig en net ʼn week vroeër het die Maties Young Guns vir die eerste keer ooit die Varsitybeker-reeks se o.20-toernooi gewen.

Dit was Maties se vierde sege in die Varsitybeker-reeks. Die span het ook in 2016 en 2017 in die eindstryd gespeel.

In dié geskiedkundige eindstryd het Maties die Pukke met 40-7 geklop – die grootste punteverskil nog in ʼn eindstryd in die reeks. Die rustydtelling was 10-7 in die guns van die Maties. 

Flank Johann van Niekerk is as Speler van die Wedstryd aangewys. Maties-vleuel Duncan Saal is as Agterspeler van die Toernooi aangewys en die klipharde Marno Redelinghuys as Voorspeler van die Toernooi.

 

Selfoongebruikers klik hier​.

Die Varsitybeker-dubbel het Maties Sport se Hoofdirekteur Ilhaam Groenewald van oor tot oor laat glimlag. “Wat ʼn begin tot die jaar is dit nie vir Maties Rugby nie. Dit is ʼn jaar van passie, toewyding en harde werk wat vrugte afgewerp het. Die bewys hiervan is die dubbele sege in die Varsitybeker-reeks. ʼn Geskiedkundige eerste vir die Young Guns en nou na agt jaar is ons weer die wenners van die FNB Varsity-beker."

Sy het bygevoeg: “Sedert ek in 2014 by die Universiteit Stellenbosch aangesluit het, is daar baie gepraat oor Maties wat nie Varsitybeker-titels wen nie. En dit was nie weens ʼn gebrek aan harde werk nie, dit het net nie gebeur nie. Die fokus van die hoë prestasie-program verwys na die punt waar ʼn sport begin met die organisering van talent-identifisering, die uitvoer van sistemiese programme om talent te ontwikkel en om potensiaal tot die maksimum te benut.

“Net soos enige ander span in ʼn hoë-prestasie omgewing, het ons gefokus gebly en ons visie was nog altyd om te wen, om die regte personeel en afrigters aan te stel en te behou, om sterk leierskap te kies en om seker te maak ons bly in lyn met die gedeelde visie van Maties Sport en natuurlik die Universiteit. Ek is oortuig dat ons Rugbyklub ʼn ware voorbeeld is van die uitnemendheid wat ons aan ons studente, personeel, gemeenskap en belanghebbendes wil bied met die doel om by te dra tot die volhoubaarheid van die US se mededingendheid."​