Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
25 jaar van internasionale skakeling aan die US gevier
Outeur: Amanda Tongha
Gepubliseer: 16/04/2018

Personeellede, studente, internasionale vennote en belanghebbendes van oor die hele wêreld het op Vrydag 13 April in die Endlersaal op Stellenboschkampus byeengekom om 'n kwarteeu van internasionale skakeling aan die Universiteit Stellenbosch (US) te vier. Vierhonderd gaste het die galageleentheid ter viering van 25 jaar van formele internasionale aktiwiteite aan die Universiteit bygewoon. Dít was die hoogtepunt van 'n week van aktiwiteite wat US Internasionaal van 10 tot 14 April as deel van sy jaarlikse byeenkomste van die Stellenbosse Internasionale Akademiese Netwerk (SIAN) en die US Program vir Internasionale Administrateurs (SUPIA) aangebied het.

Die galaviering Vrydagaand het afgeskop met 'n feestelike onthaal, gevolg deur besinning oor 25 jaar van internasionale skakeling aan die US, en 'n vertoning deur die plaaslike musiekgroep Hotwater. US Internasionaal het ook van die geleentheid gebruik gemaak om 25 individue vir hulle bydraes tot die internasionale kantore op Stellenboschkampus sowel as by Tygerberg en die Universiteit van Stellenbosch Bestuurskool te vereer.

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, het erkenning verleen aan personeel, studente en vennootinstellings se bydraes tot en ondersteuning van internasionalisasie aan die US. Hy het ook die sterk verband tussen die Universiteit se Eeufees en die kwarteeuvieringe van internasionalisasie aan die US verduidelik. “Wat ons vandag as 'n universiteit is, is in 'n groot mate danksy internasionalisasie. Ons maak staat op internasionalisasie om ons die toekoms in te dra noudat ons die US se tweede bestaanseeu betree."

Ook prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisasie, het US Internasionaal gelukgewens en gaste verseker dat hoewel die Universiteit voortdurend sy internasionale reikwydte uitbrei, die instelling altyd in Afrika gewortel sal bly. “Die Universiteit Stellenbosch sal 'n fisiese teenwoordigheid in uitgesoekte streke handhaaf en die voortou neem in van die netwerke wat die bevordering van wetenskap en ontwikkeling oor die vasteland heen ondersteun."

Mnr Robert Kotzé, Senior Direkteur: US Internasionaal, wat die kantoor op die been gebring het, het gesê hy sien uit na die volgende 25 jaar. Hy het die gehoor van historiese mylpale, US-leiers se bydraes oor die jare, die toename in studentemobiliteit en die al hoe groter vennootskapslandskap vertel, en beklemtoon watter positiewe impak dít op die instelling sowel as personeel en studente se lewens het.

Internasionale aktiwiteite aan die US kan teruggevoer word tot 1993, toe die Kantoor vir Internasionale Betrekkinge gevestig is. Dít was dan ook die begin van gekoördineerde werk om internasionale skakeling te ontwikkel en uit te brei en internasionale akademiese netwerke en mobiliteit stelselmatig te bevorder. Internasionale aktiwiteite het 'n aanvang geneem met formele institusionele ooreenkomste met die Eberhard Karls Universität Tübingen (Duitsland), die Universiteit van Leiden (Nederland) en die Katholieke Universiteit Leuven (België).

Verteenwoordigers van hierdie drie vennootinstellings – tesame met 28 ander universiteite van 20 lande – het gedurende die week aan die galaviering sowel as die SIAN- en SUPIA-byeenkomste op kampus deelgeneem. Vir laasgenoemde vergaderings het personeellede van US Internasionaal, vennote en belanghebbendes oor aspekte van internasionalisasie beraadslaag. Die vennootuniversiteite het ook deelgeneem aan 'n Study Abroad-skou, waar US-studente en -personeel inligting oor geleenthede aan die verskillende buitelandse instellings kon kry. Boonop het die Internasionale Kosaand en die wynplase in die omgewing deelnemers die geleentheid gebied om die plaaslike kultuur te beleef.

​Afgevaardigdes het die US vir sy internasionalisasiewerk geloof. Dr Romanus Shivoro, koördineerder van eksterne skakeling aan die Universiteit van Namibië, het gesê dit is goed om vennote van universiteite van Afrika én elders te ontmoet. “Internasionalisasie is hier om te bly. 'n Universiteit wat nié die konsep van internasionalisasie aanvaar en verwelkom nie, sal uitsak in die ontwikkeling van die hoër onderwys." 

Foto's van die 25 Jaar geleentheid hier.​

​Foto's: Anton Jordaan