Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Mandela het nie swart mense uitverkoop – sprekers by kollokwium
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 13/04/2018

Dit is maklik om te sê Mandela het swart mense uitverkoop en te vergeet dat baie van ons huidige probleme opgelos kon gewees het as ons op sy nalatenskap voortgebou het.

Dit was een van die kernboodskappe van sprekers by die derde jaarlikse Nelson Mandela-kollokwium wat op Donderdag (12 April 2018) by die Stellenbosch Universiteit (US) Museum op die Stellenbosch-kampus gehou is. Die geleentheid is gesamentlik deur die US Museum en die Nelson Mandela Museum aangebied.

Die tema van vanjaar se kollokwium was Stellenbosch University and Nelson Mandela at 100. Oud-president Nelson Mandela, 'n eredoktorandus van die US, sou in 2018, dieselfde jaar waarin die US sy Eeufees herdenk, 100 jaar oud gewees het.

Die sprekers by die kollokwium was prof Jonathan Jansen, Uitgelese Professor in die US se Fakulteit Opvoedkunde, dr Wilhelm Verwoerd, navorsingsgenoot by die Beyers Naudé-sentrum vir Publieke Teologie aan die US, skrywer en politieke kommentator me Malaika Mahlatsi (beter bekend as Malaika wa Azania), en me Nwabisa Makunga, adjunk-redakteur van The Herald.

 
  • ​Selfoongebruikers klik hiervir video.

Jansen het die rol wat Mandela gespeel het om Suid-Afrikaners te verenig beklemtoon en gesê ons moet sy nalatenskap van versoening weer tot sy reg laat kom.

“Ek glo dat 'n nalatenskap van radikale versoening ons land kan help genees."

In reaksie op diegene wat beweer Mandela het swart mense uitverkoop, het Jansen gesê dit is vandag baie gerieflik om sy leierskap in die onderhandelinge in die vroeë 1990's te veroordeel.

Hy het die uitdagings in basiese onderwys en dié rondom rassisme uitgelig en gesê “wat sedert Madiba gebeur het is die eintlike probleem. Ons het goeie beleide gehad, ons het baie goeie voornemens gehad en ons kon hierdie land verander het."

In aansluiting by Jansen, het Makunga gesê “ná 1994 het ons regtig die bal laat val omdat baie van ons nie die harde werk gedoen het wat nodig was om hierdie land werklik te verander nie."

“Ons moet onsself vra wat is ons bereid om op te gee om Suid-Afrika vorentoe te neem," het sy bygevoeg.

Makunga het gesê sy glo ook nie dat Mandela swart mense uitverkoop het nie.

Mahlatsi het aangevoer dat dit belangrik is om Mandela se nalatenskap “in sy geheel, in die politiek van tyd en ruimte," te ontleed.

Hoewel sy ook nie saamstem met diegene wat Mandela as 'n uitverkoper beskou nie, het Mahlatsi gesê refleksies oor sy nalatenskap moet ook omvangryke gesprekke oor die grondkwessie insluit en en wat ons daarmee bedoel.

Verwoerd het oor sy eie familiegeskiedenis gepraat en in die besonder die ontmoeting tussen Mandela en sy ouma. Hy het gesê hy is geïnspireer deur die voormalige president omdat hy radikale inklusiwiteit en 'n heel ander siening van wat familie beteken beliggaam het.

Verwoerd het bygevoeg dat ons versigtig moet wees hoe ons Mandela se nalatenskap eer sodat ons “sy hele lewe kan eer en nie net die glimlaggende oupa aan die einde van sy lewe nie".

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, het die gaste  verwelkoming en gesê dit is ʼn eer vir die Universiteit om sy Eeufees in dieselfde jaar as voormalige president Nelson Mandela te herdenk. Hy het gesê die doel van die kollokwium is om Mandela se waardes en nalatenskap te bevorder.

“Dit is 'n nalatenskap wat ons aanhou eer by die Universiteit Stellenbosch, en een wat ons van waarde sal wees soos ons die tweede eeu van ons bestaan binnegaan," het De Villiers bygevoeg.

  • Foto: Prof Jonathan Jansen, me Nwabisa Makunga, me Malaika Mahlatsi, en dr Wilhelm Verwoerd by die Nelson Mandela-kollokwium.
  • Fotograaf: TC Kieck.