Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Susters vang saam grade in polimeerwetenskap
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 23/03/2018

Die Harmzen-susters van Melkbosstrand het nie net dieselfde wetenskaponderwyseres by Hoër Meisieskool Bloemhof gehad nie, maar vandeesweek vang hulle onderskeidelik 'n PhD en MSc-graad in polimeerwetenskap onder leiding van dieselfde studieleier in die Departement Chemie en Polimeerwetenskap by die Universiteit Stellenbosch (US).

Elrika Harmzen-Pretorius is vier jaar ouer as haar suster, Nelmari Harmz​en, wat beteken dat Elrika in matriek was toe haar suster in Graad 8 daar aangekom het. Beide is vol lof vir hul onderwyser, me. Clarisa Steyn, vakhoof vir fisiese wetenskappe by Bloemhoef: “Ek wou nog altyd chemie studeer het, want ek was mal daaroor op skool," vertel Elrika.

“Sy was die beste wetenskap-onderwyser ooit, selfs al het sy my alewig Elrika genoem!" beaam Nelmari.

Beide is al van jongs af aan chemie-verwante beroepe blootgestel: hul oupa aan moederskant, Wouter de Waal, was 'n chemikus, en hul pa, Pieter Harmzen, werk in 'n kernkrag-fasiliteit in die Verenigde Arabiese Emirate.

Nogtans was dit 'n blote sameloop van omstandighede én belangstelling dat hulle uiteindelik in dieselfde navorsingsgroep van Professor Bert Klumperman beland het. Die Departement Chemie en Polimeerwetenskap is tans die enigste instelling in Suid-Afrika wat polimeerwetenskap op beide voorgraadse én nagraadse vlak aanbied. Boonop is Klumperman houer van die Suid-Afrikaanse navorsingsleerstoel in gevorderde makromolekulêre strukture. Altesaam vyf PhD-studente het in 2017 onder leiding van dié kranige akademikus hul navorsing in die polimeerwetenskap-afdeling afgehandel en graad gevang. Die ander vier is Dr Annette Kargaard, Dr Uaadhrajh Narsingh, en Dr Welmarie van Schalkwyk.

small_harmzen sisters 008.jpg
 

Nelmari sê dit was uiteindelik 'n groot voorreg om in dieselfde laboratorium as haar ouer suster navorsing te doen: “Sy het my baie gehelp en ek is bly ons kon hierdie ervaring deel. Maar ek is nou vir eers klaar met studeer!"

Sy het vandeesweek by Falke Eurosocks in Kaapstad begin werk, terwyl Elrika reeds verlede jaar as senior analis by die elektron mikroskopie afdeling van die US se Sentrale Analitiese Fasiliteit werksaam is.

Meer oor die polimeerwetenskapafdeling:

Die US is die enigste instelling in Suid-Afrika wat op beide voorgraadse en nagraadse vlak opleiding in polimeerwetenskap aanbied. Dit is te danke aan die baanbrekerswerk wat in die 1970s deur Professor Ron Sanderson verrig is. Hy was destyd die enigste polimeerwetenskaplike in Suid-Afrika en Afrika, en het eiehandig die Instituut vir Polimeerwetenskap gestig met noodsaaklike finansiële ondersteuning van industrie-vennote soos Sasol en Plascon. In 2000 is die Instituut in die Departement Chemie opgeneem en het dit daarna as die Departement Chemie en Polimeerwetenskap bekend gestaan. Die polimeerwetenskapafdeling spog vandag met 'n eie gebou en vyf moderne, goedtoegeruste laboratoriums met van die nuutste analitiese toerusting. Daar is agt voltydse akademici en 'n groep van meer as 50 nagraadse studente per jaar.

Professor Sanderson is in Augustus 2015 oorlede. Ter herdenking van sy bydra tot die stigting van polimeerwetenskap by die US en in Suid-Afrika, het die department die Ronald Sanderson Honneursbeurs in Polimeerwetenskap ingestel. Vir meer inligting, klik hier.

​Op die foto, by Donderdagaand se gradeplegtigheid:  mev. Elize Harmzen, Dr Elrika Harmzen, Nelmari Harmzen en hul pa, mnr. Pieter Harmzen.