Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US, KU Leuven ken eerste gesamentlike doktorsgraad toe
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 23/03/2018

Die Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US) het Donderdag (22 Maart 2018) sy eerste gesamentlike doktorsgraad toegeken.

Dr Kurt Schütte het 'n gesamentlike doktorsgraad in Sportwetenskap van die US en een van sy oudste vennote, die Katolieke Universiteit Leuven (KU Leuven) in België, by die vyfde seremonie van die US se Maart-gradeplegtigheid ontvang. Dit was ook die eerste doktorsgraad wat gesamentlik deur die twee instansies verleen is. Schütte se studieleiers was prof Ranel Venter van die US se Departement Sportwetenskap en dr Benedicte Vanwanseele van KU Leuven se Departement Bewegingswetenskappe.

“Ek is ongelooflik bly om hierdie unieke geleentheid kon te hê om inspirasie te vermeng en kennis van twee uitstaande universiteite te benut. Natuurlik was dit nie altyd maklik nie, aangesien ek die eerste was om ʼn gesamentlike doktorsgraad te doen en daar soms geen regte templaat of iemand se voetspore was om te volg nie," sê Schütte ʼn boorling van Somerset-Wes in die Wes-Kaap.

Hy is tans 'n na-doktorale navorser aan KU Leuven. Schütte se tesis het gefokus op hoe bruikbaar draagbare toerusting is om inligting oor moegheid, energieverbruik en beserings in hardlopers te bied.

Hy sê hy is dankbaar vir prof Venter se mentorskap, die kameraadskap tydens navorsingseksperimente en die insameling van data, asook die fantastiese befondsingsgeleenthede wat die US gebied het.

“Dit was 'n uiters opwindende geleentheid om in die buiteland te studeer en om nuwe Europese kulture te leer ken en in die buiteland te reis. Vir my was dit 'n groot voorreg en ek moedig alle studente aan om dit te doen as hulle die kans kry."

Schütte sê studente moet uitvind watter verskillende akademiese geleenthede beskikbaar is, en indien moontlik internasionale konferensies bywoon en ook diversiteit omarm.

“Ek glo persoonlik dat die blootstelling van verskillende perspektiewe van verskillende universiteite, my visie vir navorsing en kreatiwiteit vir nuwe eksperimente uitgebrei het."

Ander gesamentlike doktorsgrade

Schütte se gesamentlike doktorsgraad was nie die enigste een wat tydens die US se Maart-gradeplegtigheid toegeken is nie. Gesamentlike grade is ook aan dr Alanna Rebelo en dr Simon Couzinié verleen.

Rebelo, 'n nadoktorale navorser in die US se Fakulteit AgriWetenskappe, het haar PhD in Bewaringsekologie van die US en die Universiteit van Antwerpen in België ontvang, terwyl dr Simon Couzinié, ʼn dosent aan die École Normale Supérieure de Lyon, sy doktorsgraad in Geologie van die US en die Jean Monnet Universiteit in Frankryk ontvang het. Rebelo se doktorsgraad was ook die eerste in die Fakulteit AgriWetenskappe wat deur die US en die Universiteit van Antwerpen toegeken is. Die US het ooreenkomste vir gesamentlike doktorsgrade met 21 vennootinstellings en het tot dusver 23 sulke grade verleen.Rebelo.JPG

Rebelo het, onder andere, gekyk na die voordele wat palmiet-vleilande inhou vir ekosisteme, soos om die krag van vloede te verminder, water te suiwer, habitat vir biodiversiteit voorsien en die behoud van sediment. Haar studieleiers was prof Karen Esler van die US se Departement Bewaringsekologie en Entomologie en prof Patrick Meire van die Ekosisteembestuursgroep aan die Universiteit van Antwerpen.

Rebelo sy het haar doktorale reis deeglik geniet het en ook hoe dinge by ʼn internasionale instelling gedoen word.

“Ek het die meeste van alles van my navorsingsgroep gehou. Ek kon kursusse in die buiteland, konferensies bywoon en navorsingsreise onderneem. Ek was gelukkig om interessante navorsers van regoor die wêreld te ontmoet, asook om baie interessante vleilandstelsels te sien."

Dr Simon Couzinié sê hy voel geëerd en trots om die gesamentlike graad van die US en Jean Monnet Universiteit te ontvang. Sy studieleiers was prof Gary Stevens van die US se Departement Aardwetenskappe en Prof Jean-François Moyen van Jean Monnet Universiteit.

“Oor die afgelope drie jaar het ek voordeel getrek uit die hoëvlak navorsingsfasiliteite en akademiese hulpbronne by albei instellings, en ek is dankbaar vir my studieleiers en die natuurwetenskapsfakulteite wat my so 'n goeie geleentheid gebied het."

Simon.JPG“In Suid-Afrika het ek ook die geleentheid gehad om met plaaslike studente en kollegas saam te werk en vriendskappe te bou terwyl ek meer oor hierdie pragtige land geleer het. Ek beskou hierdie gesamentlike PhD-ervaring as 'n persoonlike en professionele prestasie."

In sy kommentaar op die drie gesamentlike doktorsgrade, het mnr Robert Kotze, Senior Direkteur van Universiteit Stellenbosch Internasionaal gesê, “Internasionale akademiese samewerking vorm normaalweg die basis vir die ontwikkeling van gesamentlike grade en die toekenning van 'n gesamentlike PhD kan gesien word as die hoogtepunt van die samewerking tussen die twee studieleiers."

“Dit bring nie alleen verskillende akademiese tradisies byeen nie, maar erken akademiese komplementariteit en bevestig die kandidaat se vermoë om navorsing in 'n internasionale konteks te doen."

Die toekenning van drie gesamentlike doktorsgrade in die US se Eeufeesjaar val ook saam met die instelling se viering van 25 jaar van internasionalisering. In 1993 het die destydse Kantoor vir Internasionale Betrekkinge sy deure geopen en vandag speel US Internasionaal 'n invloedryke rol in die posisionering van die US as veranker in Afrika met ʼn globale reikwydte.

  • Hooffoto: Dr Kurt Schütte saam met prof Ranel Venter by die gradeplegtigheidseremonie. Fotograaf: Anton Jordaan
  • Foto 1: Dr Alanna Rebelo by haar gradeplegtigheidseremonie. Fotograaf: Hennie Rudman
  • Foto 2: Dr Simon Couzinié (verskaf)