Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
’n Meestersgraad cum laude in haar senior jare
Outeur: Corporate Communications Division
Gepubliseer: 22/03/2018

Ouderdom is net 'n syfer en beteken weinig wanneer 'n mens op soek is na 'n tydverdryf om jou mee besig te hou.

Dit was die dryfveer wat gemaak het dat die 74-jarige Elizabeth Ann Robertson vandag (Donderdag, 22 Maart), haar MA-graad in Antieke Kulture in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe cum laude by die Universiteit Stellenbosch (US) se Coetzenburg-sentrum ontvang het.

Sy het haar Nagraadse Diploma in Antieke Kulture in 2014 by die Departement Antieke Studie aan die US behaal voor sy met haar meestersgraad-studie begin het. Die onderwerp van haar MA-verhandeling is Om groot te word as 'n Griek: Die uiteenlopende reise deur kindertyd in antieke Athene en Sparta.

Robertson is oorspronklik van Engeland en het op die jong ouderdom van 23 na Afrika gekom.

“Ek het my loopbaan in die Britse Kantoor vir Buitelandse Sake as 'n junior diplomatiekediens-beampte begin en ek is op aflosdiens na 'n paar Afrikalande uitgeplaas. Ek het my man ontmoet en ons is getroud terwyl ek in Lesotho gestasioneer was. My man is in 2010 oorlede," verduidelik sy.

'n Paar jaar daarna het sy na 'n woonstel in Stellenbosch getrek, maar die woonstel was bedoel vir studente. “Ek kon dit net drie maande daar uithou. Die studente in die gebou is gedurig aan die gang en dit was vir my moeilik om so te leef," sê sy laggend.

“Ek het toe na Somerset-Wes toe getrek. Hier het ek nie 'n siel geken behalwe my dogter en haar gesin nie. Ek het geweet dit sal nie regverdig wees om na hulle te kyk vir 'n sosiale lewe nie. Ek het geweet ek moes iets doen. In dié tyd het ek 'n advertensie in die koerant gesien vir die Nagraadse Diploma in Antieke Kulture by die Departement Antieke Studie aan die US. Ek het aansoek gedoen en is aanvaar. Toe die kursus in 2014 ten einde loop het ek gewonder: Wat gaan ek nou doen?" sê Robertson. Dit is toe dat sy met haar meestersgraad-studie begin het.

“Ek het nooit, ooit gedink ek sou 'n meestersgraad kon behaal nie. Ek moet ook sê ek sou nooit die graad kon voltooi het as dit nie vir my toesighouer, dr Samantha Masters, was nie. Sy was ongelooflik en het my aan die gang gehou. My twee kinders het my ook aangemoedig," vervolg sy.

Volgens Robertson se navorsing het die onderwysstelsel van die 6de en 5de eeu VHJ in Athene en Sparta, die twee mees prominente stadstate in daardie tydperke, van mekaar verskil wat struktuur, klem en oogmerke betref. Dit het ook verskil ten opsigte van die vlak van staatsingryping, aangesien hierdie stede verskillende sosio-politieke stelsels gehad het.

Athene het geen staatsondersteunde onderwysstelsel vir seuns gehad nie en die verantwoordelikheid om vir 'n seun se opvoeding te sorg het by die seun se pa berus. Dogters is voldoende in huishoudelike vaardighede binne die oikos onderrig. Dié woord in die antieke Grieks verwys na drie verbandhoudende maar afsonderlike konsepte: die gesin, die gesin se eiendom, en die woning. Die kinders van die stad Sparta, die seuns sowel as die dogters, het egter groot geword in 'n stelsel van verpligte staatsbeheerde onderwys, wat swaar gesteun het op fisiese opleiding ten koste van geletterdheid.

Robertson het die omvang en aard van die verskille tussen die kindertydse ervarings in die twee stede ondersoek om uit te vind tot watter mate, en op welke wyse, die sosio-politieke stelsels 'n invloed op die opvoeding van kinders en op hulle reis na die status van volwasse burgers gehad het.

Robertson het nog geen planne om met 'n PhD voort te gaan nie. Sy verduidelik dat die vorige jaar toe sy haar verhandeling voltooi het, baie moeilik was. Vir eers wil sy haar vrye tyd geniet en dit vul met leeswerk.

“Ek kyk nie televisie nie. Ek het nie eens 'n televisie in my huis nie. Ek lees."​