Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Sesde gradeplegtigheid: Bestuurskool trots op studente-getalle en gehalte van leer en onderrig
Outeur: Corporate Communications Division
Gepubliseer: 23/03/2018

By sy tweede gradeplegtigheid vir die week het die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, die grootste fakulteit aan die Universiteit Stellenbosch (US), Vrydag (23 Maart) 'n laaste aantal grade toegeken, wat sy totale getal graduandi vir die akademiese jaar 2017 op 3 232 te staan bring. 'n Eredoktorsgraad is ook aan prof Mervyn King toegeken. Gedurende die week se verrigtinge is altesaam 13 eregrade aan gerekende denkleiers toegeken as deel van die US se Eeufeesaktiwiteite[U1] .

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, het in sy verwelkomingsrede gesê die US herdenk sy ontstaan 100 jaar gelede met 'n viering van “die afgelope eeu se groot prestasies en baanbrekerontdekkings".

“Ons erken almal wat hierdie instelling help vorm het. Terselfdertyd erken die Universiteit sy bydrae tot die onreg van die verlede, en bly ons verbind tot regstelling en ontwikkeling."

De Villiers het bygevoeg: “Ekonomiese en Bestuurswetenskappe het groot welslae behaal om toegang tot die hoër onderwys te verbreed. Die afgelope dekade het die Fakulteit deelgeneem aan die Thuthuka-projek, wat daarop toegespits is om meer geoktrooieerde rekenmeesters uit voorheen benadeelde groepe op te lewer. Boonop is 40% van die Fakulteit se inkomste die afgelope jaar gebruik om studente se klasgeld te help betaal."

“Dit gaan nie net oor die getal studente wat ons inneem nie, maar ook oor die gehalte van leer en onderrig wat ons voorsien. 'n Aantal MBA's word byvoorbeeld vandag toegeken en dit is vir my aangenaam om uit te wys dat die Universiteit van Stellenbosch Bestuurskool die eerste bestuurskool by 'n Afrika-universiteit was wat ál drie groot internasionale akkreditasies op hierdie gebied verwerf het," het De Villiers gesê.

“Ons weet ook dat goeie oorsigbestuur absoluut noodsaaklik is in die privaat sowel as openbare sektor. In dié verband bied die US se Skool vir Publieke Leierskap, wat deel uitmaak van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, die nodige vaardighede aan graduandi – van wie baie in die plaaslike regeringsektor werk – om oorsigbestuursuitdagings die hoof te bied. Dit voorsien ook deskundige teenkorrupsieonderrig en -opleiding deur middel van 'n toegewyde navorsingsleerstoel en -sentrum."

Wat die ontvangers van die eredoktorsgrade betref, het De Villiers gesê hulle vergestalt nie net die graduandi-eienskappe wat by studente ingeskerp moet word nie, maar ook die kenmerke waarmee die US die toekoms moet aanpak noudat die instelling sy tweede eeu as 'n toonaangewende universiteit betree.

Kort nadat hy sy eredoktorsgraad ontvang het, het prof King aan graduandi gesê: “ Dankie vir hierdie eer en voorreg. Die pad na volhoubare ontwikkeling is 'n lang een. As professionele raadgewers vir julle toekomstige maatskappye, het julle 'n professionele plig. Julle sal die opsigters van hierdie planeet wees, en het die morele plig teenoor die generasies ná julle om 'n volhoubare planeet te probeer agterlaat. Julle het 'n belangrike bydrae te lewer. Julle het jare by hierdie wonderlike universiteit deurgebring. Moenie julle medegraduandi vergeet nie, want 'n mens se alumnikollegas bly vir die res van jou lewe vir jou belangrik."

 


Vir die Rektor se toespraak klik hier.​

Vir meer oor die eregrade klik hier.​​​​