Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Martin Smit nou kurator by Hortus Botanicus in Amsterdam
Outeur: Wiida Fouriue-Basson
Gepubliseer: 19/03/2018

Martin Smit, kurator van die US Botaniese Tuin, is aangestel as die nuwe kurator van versamelings by een van die wêreld se oudste tuine – die Hortus Botanicus in Amsterdam.

Toevallig gaan Martin ook in beheer wees van 'n wêreldbekende Pelargonium versameling wat oor belangrike genetiese materiaal beskik wat in die 1970s en 1980s deur botaniste van die Universiteit Stellenbosch (US) versamel is. Pelargoniums is al Suid-Afrika se geskenk aan die wêreld beskryf, met duisende variëteite wat veral in Europa in potplanthouers op vensterbanke pryk.

Volgens Martin is die versameling oorspronklik begin deur Adri van der Walt, destydse professor in botanie aan die US. Van der Walt het saamgewerk met die Duitser, Gerhard Fischer, en 'n groot deel van die versameling is uiteindelik Duitsland toe gestuur. In 2007 was die maatskappy, Fischer Pelargonium, een van die wêreld se voorste verskaffers van pelargoniums.

In sy afskeidsboodskap het Martin die uniekheid van die US Botaniese Tuin beklemtoon: “Min mense besef dat hierdie die enigste botaniese tuin in die hele Kaapse Floristiese Ryk is wat aan 'n universiteit verbonde is. Dit skep 'n unieke geleentheid vir navorsing en opleiding. In al die oorblywende vyf planteryke van die wêreld is daar tientalle en selfs honderde botaniese tuine wat verbonde is aan universiteite."

Het het ook sy personeellede en vrywilligers uitgesonder en bedank vir hul harde werk en ondersteuning, dikwels ten spyte van beperkte hulpbronne.

Vriende van die tuin en kollegas het onlangs met 'n swaar hart afskeid geneem van hierdie visionêre kurator wat binne die bestek van net vyf jaar die waarde en navorsingstatus van die US Botaniese Tuin weer in volle eer  herstel het.

Op Martin se inisiatief is die tuin se lank-vergete water reservoir opgeknap, net betyds om die plante deur die huidige droogte aan die lewe te hou. Hy het ook die rekordhouding van flora binne die tuin op standaard gebring deur dit te digitaliseer en via die IrisBg databasis met internasionale tuine te laat skakel. Die publiek kan nou ook 'n toep op hul slimfone aflaai en sodoende via die Tuinverkenner webblad die plante leer ken.

Die verwarmingstelsel vir die leliedamme is herstel sodat dit weer die bekende reuse waterlelie, die reuse Victoria-waterlelie (Victoria cruziana), kan huisves. Hierdie is die enigste tuin in Afrika, buiten Madagskar, waar dié besonderse lelie gesien kan word.

Die tropiese glashuis is ook opgeknap en vergroot en huisves onder meer die wêreld se kleinste waterlelie, Nymphaea thermarum. Dié kritiese bedreigde lelie het minder as 'n dekade gelede in Rwanda uitgesterf en daar is slegs 'n paar botaniese tuine wêreldwyd wat al daarin kon slaag om dié sensitiewe plantjie aan die lewe te hou en te vermeerder.

Me. Viola Calitz het namens die tuine se personeel Martin bedank vir sy energie, toewyding en dryfkrag: “Hy het verskeie groei- en opleidingsgeleenthede vir die personeel bewerkstellig en selfs geleenthede geskep om oorsee te gaan kers opsteek by ander tuine. Hy het die tuin onder internasionale aandag gebring en ons oorsese besoekers het aansienlik toegeneem. Sy visie en passie vir die tuin was duidelik sigbaar."

Mede-tuinboukundige assistant, mnr Bonakele Mpecheni, het hom alles van die beste toegewens vir sy nuwe loopbaan en dat die nuwe tuin hom na waarde sal skat en waardeer.

Prof Léanne Dreyer het namens die Department Plant- en Dierkunde hom bedank vir die ondersteuning vir navorsing en student-opleiding: “Martin besef die waarde van unieke wetenskaplike versamelings wat oor baie jare opgebou is. Hy het nie net proaktief opgetree om hulle kuratories te versorg en te beveilig nie, maar het sy kontakte wêreldwyd gebruik om die versamelings verder uit te brei. Daarbenewens het hy die waarde van die tuin in tersiêre onderrig verstaan en beklemtoon, en het uit sy pad gegaan om te verseker dat praktiese materiaal van diverse en unieke plantfamilies in die tuin beskikbaar was vir verskeie modules in Botanie."

Volgens Dr Paul Hill van die Instituut vir Plantbiotegnologie het studente en navorsers gebaat by verskeie unieke en opwindende nuwe spesies wat Martin tot die tuin se versameling gevoeg het. Hulle het ook ten nouste saamgewerk in 'n navorsingsprojek om die krities bedreigde poeierkwaslelie, Haemanthus pumilio, van uitsterwing te red.

Nog 'n vriend van die tuin, Dave Pepler, het in sy afskeidsboodskap gesê die tuin soos dit nou daar uitsien het tot stand gekom deur Martin se verbeelding, visie en ongelooflike kapasiteit vir harde werk.

 1.png

Op die foto, agter van links na regs, is Marga Rai (winkelbestuurder), Bonakele Mpecheni (tuinboukundige assistent), Dywilisi Motshokovu (tuinboukundige assistent), Martin Smit (kurator).Voor staan Mbali Mkhize (tuinboukundige assistent) en Viola Calitz (administratiewe beampte). Foto: Stefan Els