Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kaapstadse Fietstoer 2018 ʼn groot sukses vir #Maties100
Outeur: Corporate Communications Division
Gepubliseer: 13/03/2018

“Die fietsry was lekker, die Universiteit se naam is hoog gehou, en ons is goed op dreef met ons fondswerwing vir beurse. Dit was ʼn groot sukses."

So het prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), na afloop van die Kaapstadse Fietstoer op 11 Maart gesê. Die toer – die grootste fietstydren ter wêreld – is 109 km lank en het Sondag vir die 40ste keer plaasgevind.

Prof De Villiers het saam met meer as 50 personeellede, studente, alumni en vriende deelgeneem. Die groep het onder die vaandel #Maties100 gery om die Universiteit se honderdjarige bestaan te gedenk en geld vir studiebeurse in te samel.

(1) Arnold Schoonwinkel.jpgProf De Villiers het die wedren in 5 uur, 10 minute en 6 sekondes voltooi. Sy dogter Gera, swaer Charles Linnegar, en prof Arnold Schoonwinkel, die US se Viserektor: Leer en Onderrig, het saam met hom oor die eindstreep gery. (Foto links: Prof Arnold Schoonwinkel maak die resies klaar [Foto: Henk Oets]​​).

“Dit was so ʼn mooi dag. Ons kon nie vir beter gevra het nie. Ons was wel jammer om na die tyd te hoor daar was ongevalle tydens die Toer. Ons meegevoel aan die naasbestaandes," het prof Schoonwinkel gesê.

Dr Le Roux van der Westhuizen, wat in 1985 Studenteraadsvoorsitter was, het vinnig klaargemaak met ’n tyd van 3 uur, 21 minute en 7 sekondes, en US-alumnus Grant Neser vyf sekondes later.
“Dit was ʼn baie lekker ervaring. Ek ondersteun graag die saak van beurse en moedig ander aan om dieselfde te doen,” het Van der Westhuizen gesê. Dit was sy 16de Kaapstadse Fietstoer.

 Bykans R105 000 is reeds op die GivenGain-platform ingesamel, en regstreekse skenkings aan die Universiteit word nog verwerk. Die fondswerwing duur voort (besoek http://bit.ly/Maties100 om te skenk). 

(2) Le Roux, Francois, Sophia.JPG

​Prof Sophia du Plessis, ʼn US-dosent in Ekonomie, en haar man, Francois, het op ʼn tandem deelgeneem. “Dit was baie lekker. Dankie aan al die betrokkenes," het sy gesê. ( Foto regs: Dr Le Roux van der Westhuizen (links) saam met prof Sophia du Plessis en haar man, Francois [Foto: Anneke Muller]).

Sewe fietsryers van die resiesspan verbonde aan die BMT-fietswinkel van US-alumnus Chris Norton in Dorpstraat, Stellenbosch, was ook deel van die #Maties100-groep. Siyabulela Tutu het in 3 uur, 21 minute en 55 sekondes klaargemaak, en Luyanda Thobegunya ʼn enkele sekonde later.

“Ons het geweet hulle sal goed vaar, want hulle berei tans voor vir die Cape Epic (18-25 Maart)," het die BMT-spanbestuurder Unathi Msophi gesê. Die span bestaan uit ʼn groep vriende van Kayamandi op Stellenbosch. “Ek is bly ons kon tot beursgeld bydra, want dit help skep ʼn beter toekoms vir die jeug," het hy bygevoeg.

Die span se moreel is voor die tyd versterk deur 'n Twitter-boodskap van adv Thuli Madonsela, voormalige Openbare Beskermer en deesdae ʼn professor in die US se Fakulteit Regsgeleerdheid, wat soos volg gelui het: “Sterkte #Maties100. Dankie vir julle bydrae tot #maatskaplikegeregtigheid vir behoeftige studente."

Ná die fietstoer het die Alumnikantoor Matiedeelnemers in ʼn gasvryheidstent onthaal.

(3) Andrew, Andre.jpg

​Andrew le Roux, ʼn alumnus van Johannesburg en een van die Universiteit se gereelde skenkers, het saam met sy seun, André, gery. “Julle sal ons beslis weer sien. André wil volgende jaar by Maties studeer," het Andrew gesê. (Foto links:​ Andrew le Roux, ʼn alumnus, neem ʼn 'selfie' saam met sy seun André, ʼn voornemende student, kort voordat hulle wegspring.​) 

Nog ʼn pa-en-seun-kombinasie was Maartens en Daniel Heynike van Randburg, albei alumni. “Dit was my lekkerste rit ooit, en dis ʼn wonderlike Matie-fietshemp," het Maartens gesê. Dit was sy 5de Fietstoer.

Dr Henk Groenewald, op 76 waarskynlik die oudste ryer in die span, se tyd was 04:28:51. “Ek het 20 jaar laas aan die Argus deelgeneem, maar wou graag nog ʼn keer ry om terug te gee aan my alma mater," het hy gesê.

“Daar was ʼn wonderlike gees op die pad, en die Universiteit se handelsmerk is duidelik sterk. Keer op keer is ons met 'Maties!' aangemoedig wanneer mense ons hemde raakgesien het," het Desmond Thompson van die Afdeling Korporatiewe gesê.

Net 100 hemde is eksklusief vir die Maties100-inisiatief in die US se Eeufeesjaar gemaak. ʼn Beperkte aantal is nog te koop teen R2 000 elk om die beursfonds aan te sterk. Belangstellendes kan ʼn boodskap stuur na marvin@sun.ac.za.

* Om ʼn skenking aan die Maties100-beursfonds te maak, gaan na http://bit.ly/Maties100.

* Klik hier vir ʼn foto-album op Facebook. ​

Hooffoto: 'n Groepfoto van prof Wim de Villiers saam met van die #Maties100-lede wat ook die Kaapstadse Fietstoer 2018 voltooi het; en 'n enkelfoto van Dewaldt Cooke, ʼn alumnus, by die eindtreep (Foto: Henk Oets)​