Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Feeste help samelewing transformeer
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 09/03/2018

Feeste lewer 'n belangrike bydrae tot die transformasie van die samelewing.

Dit was die algemene strekking van 'n paneelbespreking oor feeste in Suid-Afrika en Amerika wat Donderdag (8 Maart 2018) by die Universiteit Stellenbosch (US) Museum op die Stellenbosch-kampus gehou is.

Die sprekers was mnr Ismail Mahomed, Hoof Uitvoerende Beampte van die Market Theatre Foundation, Prof Kurt Dewhurst, Direkteur van Kuns en Kultuurinisiatiewe by Michigan-Staatsuniversiteit (MSU) in Amerika, en prof Marsha Macdowell, Kurator van die MSU Museum en ook professor in die Departement Kuns, Kunsgeskiedenis en -ontwerp by MSU. Die geleentheid is gesamentlik deur die US Museum, die US Woordfees en die MSU se Alliansie vir Afrika-vennootskappe georganiseer. Die US is 'n lid van dié vennootskap.

Mahomed het in sy historiese oorsig van prominente Suid-Afrikaanse feeste gesê die transformasie van die samelewing is gewortel in ons feeste.

Hy het verwys na die eerste Witskrif oor Kuns en Kultuur wat in 1996 aanvaar is en gesê dit het duidelik gemaak dat die kunste 'n transformerende rol sal speel in ons samelewing.

“Die kunste behoort ons in 'n gesprek te bring wat soms pynlik is. Die kunste speel 'n belangrike rol om ons soms ongemaklik te laat voel."

“Die kunste laat ons ongemaklik voel sodat ons uit ons gemaksone kan beweeg en die manier waarop ons dinge doen kan heroorweeg en ons kan herposisioneer sodat ons uiteindelik kan verander ten einde die soort samelewing wat ons wil hê, kan bereik."

“Feeste kan nie gemaklike plekke word nie. Feeste moet 'n element hê wat ons steur, waar ons oor baie moeilike kwessies praat."

In sy praatjie oor die Smithsonian Volksfees in Washington DC en die Great Lakes Volksfees in East Lansing, het prof Dewhurst gesê hierdie soort feeste is lewendige uitstallings wat mense die geleentheid bied om met mekaar te kommunikeer.

“Daar is 'n kruisbestuiwing van mense."

Prof Macdowell het gesê die Great Lakes Volksfees help om inklusiewe gemeenskappe te bou en die verhouding tussen MSU en die stad East Lansing te verbeter.

“Dit bied ook 'n geleentheid vir intergenerasie-dialoog."

Die US Museum en die MSU Museum werk aan gesamentlike projekte tussen Suid-Afrikaanse en Amerikaanse instellings as deel van die MSU Alliansie vir Afrika-vennootskappe.

In September 2017 was mnr Bongani Mgijima, direkteur van die US Museum, deel van 'n afvaardiging wat MSU besoek het as deel van die US Museum en die MSU Museum se projek "Ubuntu: Museum and Communities" wat deur genoemde Alliansie befonds is.

  • Foto: Mnr Bongani Mgijima, prof Marsha Macdowell, mnr Ismail Mahomed en prof Kurt Dewhurst.
  • Fotograaf: Anton Jordaan