Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Onderwysstudente leer Woordfees-besoekers Xhosa
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 07/03/2018

Molo, unjani? Hallo, hoe gaan dit? Ngubani igama lakho? Wat is jou naam? Yimalini? Hoeveel kos dit? Iphi indlu yangasese? Waar is die badkamer? 

Dit is maar net 'n paar van die Xhosa-frases wat Woordfees-besoekers hierdie week as deel van die #Amagama-projek kan leer.

Dié projek word vanjaar vir die eerste keer by die Woordfees aangebied deur studente van die Fakulteit Opvoedkunde. 'n Groep van 13 onderwysstudente met Xhosa as hoofvak doen daagliks diens in die feeskern om feesgangers 10 nuwe woorde te leer.

“Die Woordfees se tema vir 2018 is '100%', en dit het uitgewerk dat feesgangers wat daagliks 10 nuwe Xhosa-woorde leer, teen die einde van die 10 dae 'n totaal van 100 woorde sou geleer het. Vandaar die #Amagama-projek – Amagama beteken 'woordeskat' in Xhosa," verduidelik Jana Nel, deeltydse dosent aan die Fakulteit Opvoedkunde en organiseerder van die projek.

“Die projek streef daarna om taalgrense sowel as kultuurgrense oor te steek sodat wedersydse begrip en respek aan mekaar getoon kan word. Wanneer een mens na 'n ander kan uitreik deur hom/haar in sy/haar moedertaal te groet, te vra hoe dit gaan en totsiens te sê, maak dit reeds 'n baie groot verskil. Ek is bevoorreg om self Xhosa magtig te wees en het al baie keer die positiewe voordele geniet wanneer ek met Xhosa-sprekendes in hul moedertaal gesels," sê sy verder.

Volgens die studente gesels hulle nie net met feesgangers oor die woorde van die dag nie, maar ook oor die woorde wat hulle reeds ken en meer in die algemeen oor taal en die waarde daarvan om 'n paar woorde of frases van nog een van Suid-Afrika se amptelike tale te bemeester.

Soos oudpresident Nelson Mandela tereg gesê hêt: “Wanneer jy met 'n man praat in 'n taal wat hy verstaan, gaan dit na sy kop. As jy met hom praat in sy taal, gaan dit na sy hart."

Vind die studente op die volgende plekke: Bloekomhoek, Plataan-kafee, HB Thom-teater, Erfurthuis, die Endler se voorportaal en die pendeldiensontmoetingspunt in Ryneveldstraat.