Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Waterverbruik en dehidrasie: ʼn Dermatoloog se perspektief
Outeur: Florence de Vries
Gepubliseer: 21/02/2018

Dehidrasie weens ʼn gebrek aan voldoende waterinname kan die menslike vel beïnvloed, wat weer ander gesondheidsuitdagings kan meebring.

 ʼn Tekort aan vloeistofinname oor ʼn lang tydperk kan gevaarlik vir mense wees, sê dr Suretha Kannenberg, ʼn dermatoloog verbonde aan die Afdeling Dermatologie van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), teen die agtergrond van die ernstige droogte wat in groot dele van die land posgevat het. “Mense kan nie net erg dehidreer nie, maar diegene met ernstige veltoestande soos atopiese ekseem en igtiose kan probleme ervaar.

In ʼn 2010-studie met die titel “Water, Hydration and Health” het Popkin et al. die belang van water ter voorkoming van voedingsverwante nie-oordraagbare siektes benadruk. Kannenberg voer aan dieselfde beginsel geld uit ʼn dermatologiese perspektief. “Tydens droogtetydperke moet individue met spesifieke veltoestande ekstra versigtig wees en voorsiening vir hul waterbehoeftes maak. Mense met spesifieke toestande sal meer gereeld moet bad om dit te beheer, terwyl mense met ʼn gesonde vel weer maklik ʼn paar dae lank nie hoef te bad of stort nie.”

Water bevat etlike chemiese eienskappe wat dit onontbeerlik vir mense maak, derhalwe word na hierdie hulpbron as ʼn bron van lewe verwys. Maar hoeveel water het die menslike liggaam nodig en wat gebeur as ons nie genoeg kry nie? Volgens Kannenberg is water baie belangrik vir die handhawing van algemene gesondheid. “Sowat 75% van babas en 60% van volwassenes se liggaamsgewig bestaan uit water. Mense se presiese daaglikse watervereiste varieer aansienlik en hang onder meer van liggaamsgewig, geslag, ouderdom en omgewingstemperatuur af.”

Mense kan tussen een en drie weke sonder kos oorleef, maar sonder water waarskynlik slegs sowat 100 ure, afhangend van etlike faktore. “Alle menslike liggame moet gereeld met water aangevul word. Sweet, urinering, ontlasting en asemhaling help die liggaam om van afvalprodukte ontslae te raak en die vloeistowwe wat by hierdie prosesse betrokke is, bestaan meestal uit water. “’n Tekort aan waterinname sal ’n opeenhoping van afvalprodukte in die liggaam meebring, wat tot ander probleme kan lei,” sê Kannenberg.

Dors is ʼn goeie aanduiding van dehidrasie, maar die dorssensasie verdwyn wanneer dehidrasie ernstig word. Volgens Kannenberg vul ons ons vloeistofvoorraad aan deur kos te eet wat vloeistof bevat – dit maak sowat 20% van ons vloeistofinname uit. Die ander 80% word voorsien deur die inname van enige soort vloeistof – nie net water nie.

Wat die vervanging van water as ʼn wasmiddel betref, sê Kannenberg handsteriliseerders en ander soorte waterlose skoonmaakmiddels is ʼn goeie keuse. “Was net met jou hande en gebruik ligte seep wat baie min afspoeling verg om jouself te was.”

Foto: www.pixabay.com