Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Top matrikulante van 2017 kom by US swot
Outeur: Corporate Communications/Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 09/01/2018

Die Universiteit Stellenbosch (US) is vanjaar die tuiste vir ʼn hele klompie van die top matrikulante van 2017. Die top drie, Janke van Dyk, Matthys Carstens (beide Wes-Kaap) en Joanna Smith (KwaZulu-Natal), is vanjaar Maties.

Van Dyk, wat die eerste plek beklee het, sê dat om by Maties te studeer, ʼn droom is wat vir haar waar geword het en dat sy baie opgewonde is om haar akademiese loopbaan aan die US te begin.

“Ek wil chemiese ingenieurswese op Stellenbosch studeer omdat ek hoor dat hul ingenieursfakulteit een van die beste in Suid-Afrika is."

Die agtienjarige Van Dyk, wat aan die Hoërskool Bellville in die Wes-Kaap gematrikuleer het, sê sy kan steeds nie glo sy is die topstudent vir die klas van 2017 nie: “Regdeur hoërskool het ek my top posisie behou, maar ek was baie geskok en verbaas. Om op so ʼn hoë vlak vereer te word, het my verras."

Janke van Dyk.jpg

Sy het bygevoeg dat sommige van die hoogtepunte van haar hoërskoolloopbaan die spel-kompetisie was wat deur die WOW-Projek van US Woordfees aangebied word. Sy het dié kompetisie in 2015 gewen toe sy in graad 10 was. Van Dyk het die eerste plek nasionaal by die kompetisie gewen wat elke jaar in Stellenbosch gehou word.

Die Vrystaatse top matrikulant, Doré Mostert, beplan ook om vanjaar op Stellenbosch te studeer. Mostert, Smith en Carstens sal almal Aktuariële Wetenskap studeer. Noord-Kaap se top matrikulant, Josefien Engelbrecht, beplan ook om Stellenbosch haar akademiese tuiste te maak en gaan medies  studeer.

Ander slimkoppe wat Matieland toe kom is Nicole en Lisa de Villiers van Nelson Mandelabaai wat ses onderskeidings behaal het. Nicole gaan regte studeer. Een van die top matrikulante wat die onafhanklik IEB-eksamen geskryf het, Mikhail Singh van Felixton College in KwaZulu-Natal, gaan ook vanjaar by die US wees. Hy het met 8 onderskeidings geslaag en gaan Aktuariële Wetenskappe studeer.

  • Die US verwelkom ook vanjaar ʼn drieling. Jana, Gerrit en Anli van Zyl van Beaufort-Wes het tussen hulle 11 onderskeidings verwerf. Dié broer en susters wat aan die Sentraal Hoërskool gematrikuleer het, begin al drie met hul BCom-grade.

 Foto verskaf van Janke van Dyk.