Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Dave wil SA storie help skryf
Outeur: Jackie Pienaar-Brink
Gepubliseer: 04/01/2018

Hy is die professor wat 'n lang vergadering met 'n gruwelike woordspeling opkikker. Ook die een wat ná jou voorlegging wil weet hoekom jy juis 'n spesifieke statistiese toets bo 'n ander een verkies het.

Hy is die vriend wat met 'n bordspel onder die arm kom kuier en die fotograaf wat vra dat jy op 'n sekere manier poseer. En hy is die kollega wat breed glimlag wanneer hy jou in die gang afgestap sien kom.

Dít – in sy eie woorde – is prof Dave Tabb.

Hy is ook 'n Amerikaner wat himself nogals moeisaam ontwortel het nadat hy in 2015 besluit het om deel van die Suid- Afrikaanse verhaal te word. Tóg lyk dit asof hierdie spesialis op die gebied van proteoominformatika op sowel werk- as persoonlike gebied redelik vinnig sy voete hier gevind het.

Tabb, wat deesdae 'n plaaslike  hoërskoolonderwyseres aan sy sy het,het op 1 Desember verlede jaar in die Afdeling Molekulêre Biologie en Menslike Genetika aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) ingeval.

Hy is die jongste van twee broers en was tot baie onlangs nog die enigste lid van sy familie met 'n paspoort. En hy is nie skaam om te sê dat die vooruitsig om na 'n ander vasteland te trek, hom geïntimideer laat voel het nie. Ondanks uitdagings soos 'n visaproses wat ses maande geduur het en die wete dat sy vergoeding in sy nuwe pos verlaag sou word, het hy deurgedruk. “Langs die pad is ek enigiets van 'hardkoppig' en 'gek' tot 'dapper' genoem. Ek sal volstaan met iemand wat volhard het."

Wat het hom na sy huidige pos aan die Universiteit Stellenbosch (US) aangetrek?

“Ek wou by 'n instelling werk waar my vaardighede die grootste moontlike impak maak. Ofskoon Suid-Afrika deur werklike uitdagings ten opsigte van openbare gesondheid in die gesig gestaar word, beskik die land oor 'n soliede navorsingsinfrastruktuur om dit die hoof te bied. Namate ál meer instellings massaspektrometers vir gebruik in biomediese navorsing aanskaf, glo ek sal 'n kritiese behoefte ontstaan aan mense wat opgelei is om met sodanige data te werk. Die US het 'n pos geadverteer wat gekoppel is aan die Suid-Afrikaanse Inisiatief vir Tuberkulose-bioinformatika en ons gesprek het kort daarna begin."

Tabb het 'n vyfjaar-aanstelling wat deels deur die Mediese Navorsingsraad gefinansier word. Dit beteken dat hy as bioinformatikahulpbron vir TB -navorsers die land oor dien.

 Hy glo daaraan om himself nuttig te maak, is sy kort en kragtige antwoord wanneer hy gevra word na sy werkbenadering. “As ons afdeling van my verlang om biostatistiese vrae te beantwoord, sal ek my bes doen om daaraan te voldoen. Ek glo dat proteomika en metabolomika toenemend in Suid-Afrika ingespan gaan word. Om hierdie ontwikkeling te bevorder geniet voorrang by my. Dit is vir my lekker om te verseker dat die meestersgraad- en doktorale studente in ons afdeling goed onderlê is in gesyferdheid."

Tabb het reeds in 1996, die jaar waarin hy sy BS c-graad aan die Universiteit van Arkansas verwerf het, werk op die gebied van proteomika begin doen. Die fokus was bioinformatika wat proteïenidentifikasie deur middel van tandem-massaspektrometrie moontlik maak. “Ek genereer nie die data nie, maar kan iemand help om vas te stel wat dit beteken," verduidelik hy.

Hy het in 2003 'n doktorsgraad aan die Universiteit van Washington behaal en daarna in Tennessee eers as nadoktorale student aan die Oak Ridge National Laboratory en toe as medeprofessor aan die Vanderbilt-universiteit gewerk.

Een van sy stokperdjies is om die prag van sy nuwe tuiste deur middel van sy blog, https://pickingupthetabb.wordpress.com, oor te dra.

Die afgelope dekade verskaf dit ook aan hom groot genot om in kore te sing; dié dat hy so geesdriftig sy gewig gegooi het agter die “Singing Sensations", 'n koor bestaande uit FGGW -akademici wat op die jaarlikse galaaand van die Fakulteit vir oe's en aa's sorg.

Waar sien hy homself oor tien jaar?

“Ek sal met intense bevrediging terugkyk op die loopbane van gegradueerdes wat aan die Suid-Afrikaanse Inisiatief vir Tuberkulosebioinformatika opgelei is. Ek sal 'n Davevormige duik in die wêreld sien en weet dat ek 'n verskil gemaak het."

Onderskrif: Prof Dave Tabb

Foto deur: Luigi Bennett