Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Registrasie vir 2018 gaan voort soos beplan
Outeur: Corporate Communication/ Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 19/12/2017

19 Desember 2017

Universiteit Stellenbosch reageer op President se aankondiging oor studentegelde

Terwyl daar groter duidelikheid nodig is oor 'n hele aantal sake wat in President Jacob Zuma se aankondiging oor gratis hoër onderwys vir arm en werkersklas-huishoudings genoem word, sal registrasie vir die 2018 akademiese jaar by die Universiteit Stellenbosch(US) voortgaan soos beplan.

Aanlyn-registrasie vir alle studente (eerstejaars en senior studente) open op 12 Januarie 2018. Eerstejaarstudente kan op kampus registreer vanaf 26 Januarie 2018. Die registrasietydperk vir eerstejaar- en senior studente eindig op 2 Februarie 2018.

Gaan asseblief die Registrasieskedule vir 2018 na vir spesifieke datums en tydgleuwe wat op die onderskeie fakulteite en programme van toepassing is, en hou die US se webblad dop vir verdere inligting. Soos wat die US groter duidelikheid of nuwe inligting oor die President se aankondiging ontvang, sal dit by www.sun.ac.za en www.sun.ac.za/welkom vir nuwelingstudente opgelaai word.

PRESIDENT SE AANKONDIGING WEK KOMMER

Die President se verklaring wek kommer in die hoëronderwyssektor oor befondsingsbronne en die langtermyn volhoubaarheid van sulke finansiële ondersteuning in die huidige ekonomiese klimaat, en die voortgesette voorsiening van oorbruggingsbefondsing (gap funding). Hy het genoem dat daar beperkings geplaas kan word op studentegeld-stygings om die omvang van oorbruggings-befondingsing wat aan universiteite betaalbaar is, aan bande te lê. 'n Afname in die bedrag wat in oorbruggingsbefondsing van die regering ontvang word, kan 'n beduidende negatiewe impak op universiteitsbegrotings hê.

In Suid-Afrika is openbare universiteite verantwoordelik om die vlakke en jaarlikse aanpassing van studentegelde te bepaal, wat dan deur die onderskeie universiteitsrade goedgekeur word. Die implikasie van die President se aankondiging vir hierdie aspek van die bestuur-en-beheer van openbare instellings is tans onduidelik, en sal voor registrasie uitgeklaar moet word. Dit is ook uiters belangrik dat so 'n ambisieuse projek in die belang van alle studente baie professioneel in werking gestel moet word, veral aangesien aangekondig is dat dit reeds vanaf 2018 op nuwe eerstejaarstudente van toepassing sal wees.

BASISLYN-STYGING VAN 8% VIR 2018

Die US het vroeër vanjaar 'n basislyntoename in die 2018-studiegeld vir alle huidige studente aangekondig, terwyl die nuwe gedifferensieerde fooie, met wisselende bykomende stygings per fakulteit wat op die onderskeie waardevoorstelle berus, met ingang van 2018 vir nuwe studente ingefaseer sal word.

Talle onsekerhede sal opgelos moet word voordat die US in staat sal wees om, na aanleiding van die President se aankondiging, meer gedetaillleerde inligting aan voornemende eerstejaarstudente of huidige studente te kan verskaf, of om te bepaal wat die impak sal wees op die instelling se 2018-begroting. Klik hier vir die geraamde studiegeld per program vir die eerste studiejaar.

Die US het herbevestig dat stygings in studiegeld getemper sal word deur finansiële ondersteuning. Die Universiteit is van mening dat studente uit families wat hoër onderwys kan bekostig, studiegeld behoort te betaal terwyl arm en werkersklasstudente nie weens finansiële uitdagings uitgesluit behoort te word nie.

Die US bly daartoe verbind om akademies verdienstelike studente in finansiële nood te ondersteun. Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, het reeds herhaaldelik die ongelykhede in die Suid-Afrikaanse samelewing erken. Terwyl diegene uit welgestelde en hoërmiddelklasgroepe self universiteitsonderrig kan bekostig of lenings van die finansiële sektor kan bekom, is daar ook 'n groot groep studente uit lae-inkomstehuishoudings wat oor weinig indien enige toegang tot die finansiële sektor beskik en geensins tot die finansiering van hulle studie en huisvesting kan bydra nie.

FINANSIëLE STEUN TEMPER STYGINGS

“Daarom ondersteun en volg ons 'n gedifferensieerde benadering. Die impak van die markverwante fooistygings vir 2018 sal getemper word deur finansiële steun aan akademies verdienstelike arm studente op grond van hulle totale jaarlikse huishoudelike inkomste. Die US se eie beurse sal ook tred hou met die stygings in klas- en huisvestingsgeld," sê prof De Villiers.

Die US bestuur 'n beurs-en-leningsportefeulje om studente finansieel te ondersteun. Hierdie finansiële bystand sluit 'n aansienlike bydrae uit die US se hoofbegroting sowel as van huidige en vorige skenkings in. Ongelukkig ís dit so dat die behoefte aan finansiële steun altyd die beskikbare finansiering sal oorskry. Die Universiteit het in 2016 beurse ter waarde van R725 miljoen bestuur (2015: R659 miljoen): Vir R283 miljoen se beurse (onder meer van NSFAS) was die US 'n agent, terwyl die oorblywende R442 miljoen se bystand (2015: R403 miljoen) uit die instelling se eie hulpbronne en navorsingskontrakte gekom het, waaronder R129 miljoen uit die US-hoofbegroting. In 2016 is 23% van die studente wat aan die US geregistreer het met beurse ondersteun.

Vanweë die opgelegde perke op die bystand wat die Nasionale Finansiëlehulpskema vir Studente (NSFAS) kan bied, het die US in 2017 self bystand verleen aan studente uit gesinne wat tussen R122 000 en R240 000 per jaar verdien – met ander woorde diegene uit die sogenaamde 'ontbrekende middel'. Die beursbedrag word deur 'n 'middeletoets' bepaal.

INTERNASIONALE STUDENTE

'n Gedifferensieerde fooistruktuur vir internasionale studente sal ook vanaf 2018 van krag wees, wanneer sekere kategorieë internasionale studente wat aan die US registreer vir die eerste keer 'n internasionale onderrigfooi (IOF) sal betaal. Die IOF bestaan uit 'n bykomende, vasgestelde, jaarlikse heffing vir die duur van 'n akademiese program en word hetsy by of voor registrasie ten volle betaal. Die IOF sal nie van toepassing wees op internasionale studente in doktorale programme of in nagraadse programme op die telematiese platform nie, en ook nie op internasionale studente met burgerskap van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) of permanente verblyfreg in Suid-Afrika nie.

Internasionale studente van buite Afrika sal voortaan 'n basiese IOF van R43 380 betaal vir baccalaureus-, honneurs- en nagraadse diplomaprogramme, en R21 690 vir magisterprogramme. 'n Verlaagde bedrag van R20 520 sal geld vir studente van Afrikalande buite die SAOG in baccalaureus-, honneurs- en nagraadse diplomaprogramme.

#SU99 VERLIG STUDIESKULDLAS

Die US se pre-eeufeesfondsinsamelingsveldtog, #US99, wat daarop gemik is om studieskuld te verlig, het ʼn nuwe ambisieuse teiken. Dít danksy vrygewige skenkings wat die aanvanklike teiken van R99 999 oorskry het. Die nuwe teiken is nou R999 999.

“Teen 1 Desember het skenkings wat op die GivenGain-platform ontvang is R24 000 beloop, tesame met donasies van alumni, personeel en studente, is ʼn verdere R32 500 ingesamel," sê Karen Bruns, Senior Direkteur van die US se Afdeling Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge. ʼn Beduidende skenking van R500 000 van een van ons lojale skenkers wat gereeld beursbefondsing bied, het ons in staat gestel om ons teiken te verhoog en sodoende meer gegradueerdes te help."

“Hoewel baie van ons studente beurse van verskeie vennote soos die regering, stigtings, besighede en trusts ontvang het, is daar dikwels nog ʼn uitstaande bedrag wat studente na afloop van hul gradeplegtigheid skuld," verduidelik Cheryl Benadie, skenkerbetrekkinge-bestuurder aan die US.

Om graad te vang is die einde van ʼn ongelooflike reis vir enige gegradueerde, aangesien hulle op die drumpel van ʼn nuwe begin staan, gewapen met ʼn welverdiende graad van die US, ʼn  internasionaal erkende instelling.

“Ongelukkig, vir sommige van ons eerstegenerasie gegradueerdes wat die professionele wêreld as ʼn eerstegenerasie professionele persoon betree, is die las van studieskuld soms oorweldigend. Ons erken en waardeer die ondersteuning van al ons skenkers en vennote. Die behoefte is altyd daar," voeg sy by.

Skenkings kan gemaak word via die GivenGain-platform: https://goo.gl/AaTm2q of via kredietkaart op die US se aanlyn portaal: https://goo.gl/JkCM4J. EFT betalings kan gemaak word via die volgende bankrekening, met die verwysing: Voorletters, van + R2090 DEBT.

ORGANISASIE NAAM: Universiteit van Stellenbosch

BANK: Standard Bank

TAK: Stellenbosch

TAKKODE: 05 06 10

REKENINGNAAM: Universiteit van Stellenbosch

REKENINGNOMMER: 073006955

BETALINGSVERWYSING: Voorletters, Van, R2090 DEBT

Die #US99-veldtog, wat op 20 September bekendgestel is, duur tot 27 Desember.

“Kleiner skenkings van R50, R100, R500, ens – maak op die einde van die dag ʼn groot bedrag – dít is die krag van kollektiewe skenking in aksie. Ons moedig u aan om asseblief die geskenk van finansiële vryheid hierdie feestyd te gee," sê Benadie.

  • Vir meer inligting oor die US se veldtog om studieskuld te verlig, kontak asseblief: Cheryl Benadie by tel: 021 808 9351 of e-pos: cbenadie@sun.ac.za / Anneke Muller by tel: 021 808 9906 of e-pos: annekem@sun.ac.za.