Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Insekte kruip onder Nomakholwa Stokwe se vel
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 07/12/2017

Insek-navorser gekies vir die African Academy of Science Affiliate-program

Teen die tyd wat dr Nomakholwa Stokwe skool verlaat het, het sy nog geen idee gehad dat insekte of nematodes (rondewurms) ʼn moontlike studieveld kon wees nie, wat nog te sê 'n loopbaanopsie! Dit het alles verander toe sy met haar BSc-graad begin het, en insekte 'n passie geword het. Deesdae doen hierdie 32-jarige dosent aan die Universiteit Stellenbosch navorsing oor natuurlike maniere om insekplae wat vrugteprodusente hoofbrekens besorg te beheer. Dit sluit wollerige appelplantluise en witluise in.

Vroeër vanjaar is sy ook genomineer as een van die 22 jong navorsers van regoor Afrika wat deel is van die 2017 inname van geaffilieerdes van die African Academy of Science. Die AAS Affiliate-program het ten doel om jong en vroeë-tot-middelloopbaan professionele persone te help ontwikkel tot navorsingsleiers. Die geleentheid strek tot in 2021.

In die afgelope jaar het sy haar voete as dosent gevind, nadat sy in Augustus 2016 as 'n personeellid van die Universiteit Stellenbosch se Departement Bewaringsekologie en Entomologie aangestel is. As ʼn lid van die Departement se Geïntegreerde Plaagbestuur-navorsingspan bevind sy haarself nou in die geselskap van talle van haar nagraadse lektore wat haar help ontwikkel het tot ʼn entomoloog met ʼn groot belangstelling in nematologie (die studie van grondlewende rondewurms).

Sy het voorheen gewerk as ʼn navorser by die Landbounavorsingsraad (LNR) Infruitec-Nietvoorbij op Stellenbosch. Daar was dr Stokwe onder andere verantwoordelik vir die bestuur van navorsingsprojekte waardeur geïntegreerde plaagbestuursopsies oorweeg word.

In hierdie tyd het sy haar PhD in Entomologie aangepak en suksesvol voltooi. Sy het navorsing gedoen om te bepaal of nematodes en fungi wollerige appelluise (Eriosoma lanigerum) kan parasiteer en dus kan help om hierdie plaag in Suid-Afrika te beheer. Appelluise is kleine insekte van 2 mm, en kom oorspronklik van Noord-Amerika. Die bestuur van hierdie plaag behels die gebruik van weerstandige onderstokke, asook chemiese en biologiese beheermaatreëls, of die integrasie van al drie strategieë. Daar is nog nie een enkele benadering wat produsente kan toepas nie.

“Appelluise word ook Amerikaanse roes of appelplantluise genoem," sê dr Stowe. “Hierdie insekte word nou wêreldwyd aangetref in appelproduserende lande, en word in Suid-Afrika aangetref sedert minstens die laat-1890's."

'n Oorsigartikel wat sy saam met kollega dr Antoinette Malan geskryf het, het onlangs in die vaktydskrif African Entomology verskyn. Daarin skryf hulle dat hierdie insekte ʼn grootskaalse bedreiging vir appelproduksie in Suid-Afrika inhou. “Die luise vorm digte kolonies bedek met wit, wasagtige, draderige afskeidings op die bogronde dele en die wortels van appelbome," vertel sy.

Haar studies het al heelwat interessanthede opgelewer. Tydens haar MSc-graadstudies aan die Universiteit Stellenbosch oor biologiese maniere om die obskure witluis (Pseudococcus Viburni) te beheer, het sy  ʼn nuwe spesie grondlewende nematode ontdek.