Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Dodelike kriptokokkale fungi in openbare ruimtes, waarsku navorsers
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 07/12/2017

Groot populasies van potensieel dodelike kriptokokkale fungi is gevind in verrotte houtmonsters vanaf ou bome, wat in twee openbare ruimtes in die Kaapse middestad en die Noord-Kaap versamel is.

In sub-Sahara Afrika is kriptokokkale meningitis, naas tuberkulose, die hoofoorsaak van sterftes onder MIV/VIGS-pasiënte. In 2016 het Suid-Afrika die grootste nasionale siftingsprogram ter wêreld geloods ten einde kriptokokkale meningitis op te spoor in pasiënte met die MI-virus. Mense word geïnfekteer deurdat hulle die mikroskopiese spore in die lug inasem. Hierdie spore word vrygestel deur patogenies kriptokokki wat in die omgewing voorkom.

Die kriptokokkale fungi is deur PhD-student Jo-Marié Vreulink gevind en geïdentifiseer, en maak deel uit van haar navorsing in die Departement Mikrobiologie by die Universiteit Stellenbosch (US). 'n Artikel: “Presence of pathogenic cryptococci on trees situated in two recreational areas in South Africa" wat die bevindings van haar navorsing bevat, is nou gepubliseer in die vaktydskrif Fungal Ecology

Dit is die eerste keer dat beide Cryptococcus neoformans en Cryptococcus gattii in sulke groot hoeveelhede op bome in Suid-Afrika gevind is. Tot op hede het slegs twee studies (een in 2009 en een in 2011) berig oor die voorkoms van hierdie patogene in die Suid-Afrikaanse omgewing.

C. neoformans veroorsaak 'n ernstige vorm van meningitis, veral in individue met 'n verswakte immuunstelsel. Oor die algemeen is gesonde persone se immuunsisteme egter in staat om die infeksie af te weer. In teenstelling hiermee, kan C. gattii egter aanleiding gee tot meningitis by gesonde individue.

Alhoewel patogenies kriptokokki alreeds vanuit 'n kliniese perspektief deeglik nagevors is, is baie min inligting beskikbaar oor hul ekologie en hoe hul wisselwerking met die omgewing is. Hierdie tipe inligting kan help om die kriptokokkale fungi se verspreiding vanaf bome na die algemene publiek hok te slaan.

Meer as 'n dekade se soektog

Volgens prof. Alf Botha van die US se Departement Mikrobiologie en Vreulink se studieleier, is hy al sedert 2003 op soek na Cryptococcus in Suid-Afrika. Wêrelwyd is daar navorsingsgroepe wat hulle daarop toespits om hierdie fungi in die omgewing op te spoor.

Sy navorsingsgroep het nou saamgewerk met prof. Teun Boekhout van die Westerdijk Fungal Biodiversity Institute in Nederland ten einde te verseker dat die kriptokokkale fungi wat versamel is, geïdentifiseer en geklassifiseer word volgens die mees moderne taksonomiese metodes. 

Vreulink sê hulle het aanvanklik gesoek vir patogenies kriptokokki in verrotte houtmonsters uit ongerepte areas in Suid-Afrika, maar met weinig sukses. In 2007, soos dit duidelik geword het dat hierdie fungi wêreldwyd in areas gevind word waar daar 'n kombinasie van duiwe, ou bome en groot getalle mense voorkom, het sy 'n ander rigting ingeslaan en begin om in openbare ruimtes te soek.

Groot was haar verbasing toe die eerste monsters wat sy van 'n openbare park in die Kaapse middestad geneem het, meer kolonies oplewer as wat sy kon hanteer!

“Een Vrydagmiddag laat toe ek alleen aan die werk was, het ek besluit om die petribakkies met die monsters wat ek in Kaapstad versamel het, na te gaan. In die meeste van die petribakkies was daar bruin kolonies ‒ kenmerkend van hierdie kriptokokkale patogene – aan die groei. Dit was vir my so 'n buitengewone gebeurtenis dat ek onmiddellik begin het om hierdie kolonies oor te dra na ander petribakkies sodat hulle geïdentifiseer kan word. Ek was doodbang dat die kolonies deur ander mikroörganismes toegegroei sou word as ek dit oor die naweek net so sou laat," onthou sy.

Die navorsing vir haar MSc en PhD studies het gefokus op die biologie en ekologie van hierdie bruin kolonies enkelselligge giste. Sy het onder meer hulle genetiese samestelling vergelyk met die van patogene kriptokokki wat geïsoleer is by pasiënte in Suid-Afrika, sowel as met dié van patogene kriptokokki afkomstig van gebiede buite Suid-Afrika. Sy het ook gekyk na hulle weerstandigheid teen antiswammiddels wat algemeen gebruik word, en hoe omgewingsfaktore hulle oorlewing in bome beïnvloed.

Terwyl Vreulink verrotte houtmonsters in slegs twee openbare ruimtes versamel het, glo sy dat hierdie patogene oral voorkom. “Metodes wat gebruik word om hierdie fungi te isoleer vanuit die omgewing is eenvoudig nie sensitief genoeg om dit op te spoor nie.

Maar daar is nog baie werk wat voorlê. Tans fokus sy op die ekologie van hierdie giste: “Ons wil die populasiedinamika verstaan, die genetika, en die interaksie tussen hierdie fungi en die omgewing. Dit sal ons 'n aanduiding gee van waar hierdie giste moontlik in die omgewing teenwoordig kan wees. Indien ons kan verstaan hoe hulle daar buite oorleef, kan ons hierdie kennis gebruik om beter te voorspel hoe hulle dit regkry om te oorleef in hul menslike gasheer en dit dan uiteindelik beter behandel.  

“Maar my navorsing genereer tans meer vrae as antwoorde, wat dit selfs nóg meer opwindend maak!"

  • Die artikel “Presence of pathogenic cryptococci on trees situated in two recreational areas in South Africa" is in die nuutste uitgawe van Fungal Ecology gepubliseer. Medeouteurs is Kantarawee Khayhan van die Universiteit van Phayao in Thailand, Ferry Hagen van die Canisius-Wilhelmina Hospitaal in Nederland, Teun Boekhout van die CBS-KNAW Fungal Biodiversity Centre in Nederland, Hester Vismer van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie, en Angela Botes, Leandra Moller en Alf Botha, almal van die Universiteit Stellenbosch.
  • Die navorsing het gefokus op eensellige fungi, dus giste. Hulle is patogeen omdat hulle mense infekteer en siektes veroorsaak.

 

Media navrae

Prof Alf Botha

T: 021 808 5856

E: abo@sun.ac.za

 

Jo-Marie Vreulink

Departement Mikrobiologie, Universiteit Stellenbosch

T. 021 808 5856

E: 14073242@sun.ac.za

 

Prof Teun Boekhout

Westerdijk Fungal Biodiversity Institute, die Nederlande

E: t.boekhout@westerdijkinstitute.nl