Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US en Tennis Suid-Afrika kondig strategiese vennootskap aan
Outeur: Media release
Gepubliseer: 29/11/2017

​Die Universiteit Stellenbosch (US) en Tennis Suid-Afrika (TSA) het die ondertekening van 'n strategiese vennootskapsooreenkoms met die doel om ’n nuwe wêreldklas- nasionale tennissentrum by die universiteit te ontwikkel, aangekondig.

Die projek, wat nog in sy vroeë beplanningsfase is, sal op 'n grondslag van gesamentlike finansiering bedryf word en sal toesien dat die nuwe tennissentrum –

  • ​sekere elemente van TSA se hoëprestasieprogramme aanbied;
  • as 'n moontlike venue vir plaaslike en internasionale toernooie optree;
  • 'n platform bied vir voetsoolvlakontwikkeling in die wynlanddistrik; en
  • 'n plaaslike tersiêre onderrigoplossing vir talentvolle jong plaaslike tennisspelers verskaf wat wil studeer terwyl hulle hul tennisloopbaan voortsit.

“Die US is opgewonde oor die potensiaal van die vennootskap om by te dra tot die ontwikkeling van tennis in Suid-Afrika, en veral in ons streek," sê Ilhaam Groenewald, Hoofdirekteur: Maties Sport. “Hierdie soort inisiatief is in lyn met ons strategiese doelwitte, en ons is daartoe verbind om met TSA saam te werk om Stellenbosch in 'n hoëprestasiesentrum vir tennis te ontwikkel."

Richard Glover, uitvoerende hoof van TSA, het bygevoeg: “Hierdie projek is nog in sy kinderskoene en ons gedeelde visie gaan nog 'n paar jaar neem om ten volle verwesenlik te word, maar dit dui op 'n belangrike stap vorentoe vir ons sport. Die US is 'n wêreldklasinrigting en ons glo ons vennootskap sal 'n fantastiese hoëprestasieplatform bied vir jong tennisspelers uit alle gemeenskappe reg oor Suid-Afrika. Hierdie aankondiging is nog 'n opwindende stap vorentoe vir TSA."

Die partye beplan om, betyds vir die 2019 akademiese jaar, af te skop met 'n tussentydse sentrum – wat die bestaande geriewe by die universiteit sal gebruik – met die volledige sentrum wat kort daarna sal volg.

Nog besonderhede oor hierdie projek sal in 2018 gedeel word.