Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe EBW-dekaan gereed vir uitdaging
Outeur: Faculty of Economic and Management Sciences
Gepubliseer: 16/11/2017

Die verbreding van toegang vir studente, versterking van navorsinguitnemendheid, versnelling van transformasie van die personeelkorps en versekering van die relevansie van die kurrikulum.

Dit is die vier kernelemente wat prof Ingrid Woolard, nuutaangestelde dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US), as die sleutel tot die voortgesette sukses van die fakulteit geïdentifiseer het.

Prof Woolard dien tans as dekaan van die handelsfakulteit en professor in Ekonomie aan die Universiteit van Kaapstad (UK). Sy volg prof Stan du Plessis wat vroeër vanjaar as aangewese bedryfshoof by die US aangestel is, op.

Sy is die eerste vrou wat as dekaan in die 92-jarige geskiedenis van die fakulteit aangestel word.

“Ek sien uit na die uitdaging om die US se grootste fakulteit te lei. Die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe is bekend vir sy studentgesentreerde benadering en uitstekende resultate en ek is opgewonde om by so ʼn toegewyde span aan te sluit.”

Die US-Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, het Woolard se aanstelling verwelkom.

“Ons is verheug dat sy by die US as Dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, ons grootste fakulteit, gaan aansluit. Sy is ʼn internasionaal gerekende en gerespekteerde akademikus en sal verdere bestuurservaring na die Universiteit bring. Sy sal ook betekenisvol kan bydra tot ons toekomsfokus soos wat ons ons tweede eeu as ʼn toonaangewende openbare universiteit in Suid-Afrika begin,” het hy gesê.

Ter toeligting van die vier kernelemente wat sy geïdentifiseer het, het Woolard gesê:

“Ons moet harder druk om toegang te verbreed en verbeterde finansiële steun en leerondersteuning aan studente uit arm en gemarginaliseerde gemeenskappe te voorsien. En sodra ʼn student toegelaat is, het ons ʼn verantwoordelikheid om ʼn omgewing wat studentesukses bevorder, te voorsien. Die universiteit kan nie ʼn draaideur wees nie.”

Sy beskou ʼn vroeëwaarskuwingstelsel – waarin studente wat risikogevalle is so vroeg moontlik geïdentifiseer word – as ʼn belangrike element van hierdie strategie.

Woolard wil ook graag ʼn kultuur van navorsinguitnemendheid in die Fakulteit kweek.

“Navorsing-‘supersterre’ moet erkenning kry en sodanig beloon word dat dit ander kollegas inspireer. Akademiese personeel wat in die verlede nie besonder navorsingaktief was nie, moet aangemoedig word om dit te doen deur die voorsiening van simpatieke navorsingmentors wat help om hul vertroue op te bou en hindernisse te oorkom.

“As ons boonop meer strategies oor nagraadse studieleiding dink, deur byvoorbeeld nader aan die ‘wetenskapmodel’ te beweeg waar studente met ʼn stel onderwerpe of temas werk wat deur die navorsinggroep gekies is (eerder as met uiteenlopende onderwerpe wat deur individuele studente gekies is), sal dit help om die reputasie van die navorsingsgroep op te bou en die las op studieleiers te verminder.”

Woolard se eie navorsingsbelange sluit in die meet van armoede en ongelykheid, werkloosheid, maatskaplike beskerming en fiskale beleid.

Sy voel baie sterk oor die transformasie van die personeelkorps en het verskeie suksesvolle strategieë by UK geïmplementeer, onder meer ʼn maandelikse ontmoeting met swart akademiese personeel om seker te maak dat die stem van hierdie groep gehoor word. Onder haar leierskap is die posisie van adjunkdekaan: transformasie geskep en is daar aangekondig dat ʼn geteikende gelykheidverklaring gebruik moet word wanneer akademiese poste aanvanklik geadverteer word.

“Ons moet die transformasieproses versnel deur aggressiewe werwingstrategieë te gebruik en die kwessies van ʼn onwelkome institusionele kultuur aan te spreek,” het sy verduidelik.

Wat betref die relevansie van die kurrikulum, meen Woolard dat die Fakulteit meer werke deur Afrika-vakkundiges by die kurrikulum moet insluit asook deurlopend moet verseker dat die kurrikulum voldoen aan die vereistes van professionele liggame sowel as die behoeftes van die openbare sektor.

Woolard sal op 1 Mei 2018 by die US aansluit.