Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Russel Botman het gewerk vir gelykheid, transformasie - Regter Zak Yacoob
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 19/10/2017

Wyle prof Russel Botman was verbind tot die bereiking van gelykheid en het gewerk om armoede in die samelewing uit te wis.

Só het Regter Zak Yacoob, afgetrede regter van die Konstitusionele Hof van Suid-Afrika, op Woensdag (18 Oktober 2017) gesê.

Hy het die derde jaarlikse Russel Botman-gedenklesing by die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch (US) gelewer. Die lesing, ter nagedagtenis van prof Russel Botman, voormalige Rektor en Visekanselier van die US, is aangebied deur die Fakulteit Teologie in samewerking met die kuratoria van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika, die Nederduitse Gereformeerde Kerk en die Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie.

 
  • Selfoongebruikers klik hier vir die video.

Yacoob het in sy toespraak Botman se verbintenis tot onder meer gelykheid, geregtigheid, transformasie, menswaardigheid en vryheid beklemtoon.

Hy het gesê gelykheid, wat noodsaaklik is vir die bereiking van 'n ware maatskaplik-regverdige demokrasie, het Botman na aan die hart gelê.

“Ons moet die professor onthou deur onsself te verbind tot die bereiking van omvangryke gelykheid deur regstellende aksie."

“Ten einde professor Botman te onthou, moet ons almal voortgaan om met ywer, moed, vasberadenheid en opoffering te werk aan die visie van ons toekomstige samelewing wat in ons Grondwet in die vooruitsig gestel word."

Yacoob het gesê ons moet alles moontlik doen om die transformasie van ons samelewing te bespoedig, swak en kwesbare mense te bemagtig, en tot die uitwissing van diskriminasie by te dra.

Hy het gesê as prof Botman vandag geleef het, sou hy ons aangemoedig het om sosio-ekonomiese regte vir miljoene Suid-Afrikaners wat steeds in armoede vasgevang is ʼn werklikheid te maak.

“Die implementering van sosiale en ekonomiese regte is noodsaaklik vir die heropbou van die samelewing en, soos die professor in sy Aberdeen-lesing genoem het, instrumenteel in die verligting van armoede."

Ongelukkig slaan die regering nie ag op hierdie boodskap nie, het Yacoob gesê.

“Die mislukking van die staat om sosiale en ekonomiese regte te implementeer, is 'n growwe skending van al die burgerlike en politieke regte in die Grondwet."

Yacoob het gesê korrupsie is die rede waarom die regering sukkel om hierdie regte te implementeer.

Hy het alle Suid-Afrikaners aangemoedig om hulle teen korrupsie uit te spreek, aan aktiwiteite teen korrupsie deel te neem, die burgerlike samelewing te versterk en by elke geleentheid korrupsie te beveg.

Yacoob het gesê as Botman vandag geleef het, sou hy aan die voorpunt van die stryd teen korrupsie gewees het, ongeag die gevolge.

In haar repliek op Yacoob se toespraak, het prof Sandy Liebenberg van die US se Fakulteit Regsgeleerdheid Botman se verbintenis tot transformasie beklemtoon.

“Met Russel se inhuldiging het die tempo van transformasie aan die Universiteit Stellenbosch versnel. Russel het verstaan dat sosio-ekonomiese regte oor geregtigheid handel."

Sy het bygevoeg dat Botman 'n model van visioenêre en etiese leierskap was.

Prof Wim de Villiers, die Rektor en Visekanselier van die US, het die gaste verwelkom en gesê die feit dat die Universiteit op koers bly om meer toekomsgerig en inklusief te wees, is in ʼn groot mate aan Botman te danke.

“Botman se nalatenskap het ons die afgelope paar jaar op koers gehou. Ons is baie aan prof Botman verskuldig."

  • Foto: Regter Zak Yacoob lewer die Russel Botman-gedenklesing.
  • Fotograaf: Stefan Els