Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vissermanne, hoe goed ken julle julle visvangwurms?
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 18/10/2017

Bloedwurms, wonderwurms, gruiswurms, maanskynwurms of poedingwurms? Watter een van hierdie klomp gebruik jy die meeste vir visaas en hoe kry jy dit in die hande?

Hierdie vrae maak deel uit van ’n nasionale vraelys wat deur navorsers van die Universiteit Stellenbosch (US), SANParke se Tuinroete Nasionale Park en die Knysna-kom Projek onder vissermanne versprei word.

Dr Carol Simon, ’n marinebioloog aan die US, sê die doel van hierdie vraelys is om ’n beter idee te kry van hoe groot die aanvraag na borselwurms is wat as aas gebruik word langs die Suid-Afrikaanse kuslyn. Terselfdertyd hoop hulle ook om konsensus te bereik oor die algemene name wat in Suid-Afrika gebruik word om hierdie aasspesies te benoem.

“Ons navorsing toon dat algemene name waarmee na aasspesies verwys word, dikwels nie konsekwent gebruik word in veldgidse en inligtingsbrosjures en -pamflette nie en soms selfs nie eens in die wetenskaplike vaklektuur nie,” verduidelik sy.

’n Enkele algemene naam kan byvoorbeeld verwys na ’n groep soortgelyke wurms, óf na verskillende spesies, óf ’n wurm kan meer as een algemene naam hê. Dit kortwiek die effektiewe bestuur van ’n belangrike hulpbron. 

“Ons het foto’s van wurms wat gereeld bymekaargemaak word vir aas, in die vraelys opgeneem en vra dan vir vissermanne om die algemeen bekende name daarvan vir ons te gee.   Gegrond op hierdie inligting sal ons dan ’n lys saamstel volgens die algemene gebruik van die name.”

Die eindproduk sal ’n taksonomiese sleutel wees tot die visvangwurms van Suid-Afrika, met ’n bykomende identifikasie-veldgids vir vissermanne.

Dr Simon sê hierdie werk is belangrik aangesien marienewurms belangrike ekologiese funksies vervul ten opsigte van ons riviermondings en sandstrande. Maar hulle is ook uiters belangrike hulpbronne vir bestaans-, sowel as stokperdjievissers.

Voorafgaande data dui daarop dat sommige spesies wat in Suid-Afrika gebruik word, ook wêreldwyd wyd verspreid voorkom.

“Ons moet regtig uitvind wat alles daarbuite is indien ons ’n ware idee wil kry van ons biodiversiteit. Met nuwe en opwindende diagnostiese tegnieke wat ontwikkel word, is taksonomie deesdae vergelykbaar met speurwerk of forensiese wetenskap. Ons wil weet waar hierdie spesies vandaan kom, hoe dit daar gekom het, en of dit verwant aan ander spesies is,” voeg sy by.

Hierdie projek word gefinansier deur die Nasionale Navorsingstigting.

 Klik hier om die vraelys te voltooi.

Medianavrae

Dr Carol Simon

Universiteit Stellenbosch

E-pos: csimon@sun.ac.za

Tel: 021 808 3068