Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Regter Zak Yacoob vanjaar spreker by Russel Botman Gedenklesing
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 17/10/2017

Regter Zak Yacoob, afgetrede regter van die Konstitusionele Hof, is die spreker by die jaarlikse Russel Botman Gedenklesing. Die lesing ter nagedagtenis aan die lewe van wyle prof Botman, voormalige Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), word jaarliks deur die Fakulteit Teologie in samewerking met die kuratoria van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika, die Nederduitse Gereformeerde Kerk, en die Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie, aangebied.

  • Die geleentheid vind plaas op Woensdag, 18 Oktober 2017 om 18:30 in die Attie van  Wijk Ouditorium by die Fakulteit Teologie in Dorpstraat 171, Stellenbosch. Ligte verversings word vanaf 18:00 bedien.

Die tema van regter Yacoob se lesing is: Religious Philosophy, Practice and our Constitution.

Prof Sandra Liebenberg, HF Oppenheimer Leerstoel in Menseregte aan die US se Fakulteit Regsgeleerdheid, sal ʼn respons op die lesing lewer.

Tydens die geleentheid word ʼn portretstudie deur kunstenaar Fiona Metcalfe onthul, en ʼn gedenkbundel oor die lewe en nalatenskap van prof Botman bekendgestel. Die ontvangers van die Russel Botman Beursfonds word ook aangekondig.

Russel Botman is in 2000 by die US aangestel as professor in die Departement Praktiese Teologie en Missiologie. Hy was ook die stigter van die Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie. In 2002 is hy aangestel as Viserektor: Onderrig en in 2007 word hy aangestel as die US se eerste swart rektor en visekanselier. Onder sy visioenêre leierskap is die HOOP Projek in 2010 geloods, met die klem op sosiale relevansie, gelyke geleenthede en akademiese en navorsings-uitnemendheid. Visie 2030 wat in 2013 aanvaar is, is deel van sy nalatenskap: met die oogmerk dat die US ʼn innoverende, inklusiewe en toekomsgerigte instelling sal wees.

Russel Botman is onverwags op 28 Junie 2014 oorlede.

  • Skakel met Helette van der Westhuizen bytel 021 808 9560 of per e-pos by hvdwest@sun.ac.za vir meer inligting.