Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Genetiese navorsing kan mediese behandeling help verbeter
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 16/10/2017

Nuwe kennis wat deur middel van genomika (die studie van 'n organisme se gene en hul funksies) geproduseer word, sal aanhou om effektiewe medisyne te lewer en hoop te bied dat geneesmiddels gevind kan word om verskeie toestande te behandel.

Só het prof Maritha Kotze van die Afdeling Chemiese Patologie in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) aan die Universiteit Stellenbosch op Donderdag (12 Oktober 2017) in haar intreerede gesê.

Kotze het gesê data wat uit ons genomiese databasis verkry kan word, kan  gebruik word om die rol van genetika in gesondheid en siekte te bestudeer en inligting te verskaf wat dokters kan help om die mediese behandeling van hul pasiënte te verbeter.

“Kollektiewe kennis wat ingewing word deur vergelykende doeltreffendheidstudies en gevorderde molekulêre tegnologie, wat saam met standaardpatologie uitgevoer word, het die afgelope klompie jare kliniese voordele vir baie pasiënte ingehou."

Kotze het bygevoeg dat genetiese navorsing ook kan help met die voorsiening van presisie-medisyne. Presisie-medisyne verwys na ʼn model waarvolgens voorkomende en terapeutiese intervensies by die individu se biologiese eienskappe aangepas word.

Sy het egter gemaan dat presisie-medisyne “nie verkeerdelik as die vermoë om 'n unieke behandeling vir elke pasiënt te ontwerp vertolk moet word nie, maar eerder as geleidelike verbeteringe beskou moet word wat uiteindelik tot vinnige, akkurate en koste-effektiewe genomiese dienslewering kan lei by die plek waar sorg voorsien word".Kotze1.JPG

Kotze het gesê die belofte om pasiëntesorg by die siekbed te verbeter, het tot daartoe gelei dat sommige bekommerd was dat genomika net opgehemel word en die voordele oordrewe is.

“Die realiteit is dat problem met kostes, verkeerde interpretasie van komplekse inligting en etiese besorgdheid oor genetiese diskriminasie die toepassing van presisie-medisyne beperk."

“Sonder 'n goed gedefinieerde strategie om die beperkinge van genetika om alleen die kliniese manifestasie van komplekse siektes en reaksies op behandeling te verklaar, sal presisie-medisyne tussen ophemeling, hoop en die werklikheid vasgevang bly."

“Geïndividualiseerde behandeling wat op komplekse genomiese inligting gebaseer is vereis die integrasie en interpretasie van ander data as dié waaraan praktisyns gewoond is."

Kotze het gesê hopelik sal die integrerende patologie-gesteunde genetiese toetsmodel wat vir kliniese gebruik ontwikkel is verbeterde bestuur van pasiënte en voorkoming van siektes oor die breë spektrum van siektes fasiliteer.

Sy het bygevoeg dat 'n in-diepte begrip van genomika en die kompleksiteit van die natuur ons kan help om ophemeling en die werklikheid van mekaar te skei.

“Gapings in inligting word steeds gevul deur die deurlopende insameling van data en studies oor gesondheidsuitkomste wat verband hou met roetine-dienslewering, die regte behandeling, vir die regte pasiënt, op die regte tyd."

Kotze het gesê 'n groot uitdaging vir die toepassing van genetiese navorsing in die kliniese praktyk is die tekort aan klinici wat op die gebied van genomika opgelei word.

  • Hoofoto: DNA-stringe (Pixabay)
  • ​Foto 1: Prof Maritha Kotze saam met profs Eugene Cloete, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, Jimmy Volmink, Dekaan van die FGGW, en Rajiv Erasmus, Hoof van die Afdeling Chemiese Patologie, by die intreerede. Fotograaf: Rudolf Boshoff