Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US doen stappe vir voorkoming en hantering van gendergeweld
Outeur: Dumile Mlambo
Gepubliseer: 16/10/2017

Geweld op grond van gender is ʼn beduidende dog voorkombare hindernis tot geslagsgelykheid. In reaksie op die toenemende bedreiging van geweld van hierdie aard in die land in die geheel het die Universiteit Stellenbosch die instelling se zerotoleransie-benadering tot die saak tot ʼn nuwe vlak verhef.

Ten einde hierdie kritieke saak te voorkom en te hanteer, het die Universiteit onlangs aangekondig dat ʼn antigeslagsgeweld-reaksie daargestel sal word, waarvolgens sake verbonde aan gendergeweld gekoördineer en gemoniteer sal word. Die besluit volg op die vrystelling van die US se EndRapeCulture-verslag 2017.

Op grond van die bevindinge en aanbevelings van die verslag, het die Eenheid vir Gelykwaardigheid (EvG), wat by die Sentrum vir Studentevoorligting en ‑ontwikkeling in die Afdeling Studentesake gesetel is, voorgestel dat ʼn portefeulje vir ʼn kultuur wat gendergeweld en verkragting teenstaan, ingestel word om sommige van die groot uitdagings wat in die verslag genoem is, te hanteer.

Volgens mnr Jaco Greeff Brink, hoof van die EvG, sal ʼn toegewyde Antigeslagsgeweld-koördineerder vir ʼn driejaartydperk met ingang Januarie 2018 aangestel word, wat sy/haar dienste aan alle US-personeel en -studente beskikbaar sal stel.

“Een van die vernaamste funksies van hierdie portefeulje is om met ʼn omvattende institusionele aksieplan vorendag te kom wat die kultuur van gendergeweld en verkragting by die US betref”, sê Brink. Hy voeg by dat die US-bestuur se goedkeuring van hierdie nuwe pos ʼn aanduiding is dat hulle die bekamping van genderweld en die beëindiging van verkragtingskultuur as strategies belangrik vir die US beskou.

Brink voeg by dat die aanstelling van ʼn koördineerder slegs gehoor gee aan een deel van die verslag se aanbevelings, maar sê dat strategiese vennootskappe met ander belangrike rolspelers, wat die Transformasiekantoor, Menslike Hulpbronne, Kampussekuriteit en ʼn voorgenome moniteringskomitee insluit, in die toekoms gevorm sal word.

“Dit is uiters krities in ons gedeelde verantwoordelikheid en reaksie rakende diepgaande kwessies met betrekking tot gendergeweld”, sê hy.

Die nuwe portefeulje sal onder beskerming van die EvG staan, wat ʼn kollektiewe benadering tot sosiale geregtigheid en diskoers oor sosiale ongelykwaardigheid by die US bevorder. Die EvG gaan uit van die standpunt dat ʼn proses van billikheid nodig is om groter gelykheid in die samelewing te bewerkstellig. Die eenheid koördineer ook aanmeldings oor onbillike diskriminasie en teistering en implementeer ook ʼn omvattende institusionele MIV/vigs-reaksie.​