Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Discovery-toekennings gee navorsing oor landelike gesondheid ʼn hupstoot
Outeur: Liezel Engelbrecht
Gepubliseer: 05/10/2017

Twee kliniese assistente in huisartskunde van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe het onlangs ʼn welkome finansiële hupstoot ontvang vir hul navorsing wat die verbetering van landelike gesondheidstoestande teiken. 

Drs Karlien Doubell en Milton Groenwald het albei ʼn Landelike Genootskapstoekenning van die Discovery-Landelike Stigting ontvang. Hierdie toekennings word gegee aan kliniese assistente in huisartskunde wat toewyding tot ʼn loopbaan in landelike gesondheidsorg geopenbaar het.

“Die toekenning fokus op MMed-navorsing met ʼn bydrae tot mediese kennis in die plaaslike gesondheids- en gemeenskapskonteks," sê Groenewald. Doubell meen die heersende ongelykheid in gesondheidsorg in Suid-Afrika word meegebring deur ʼn tekort aan hulpbronne en finansiering, ook vir navorsing. “Dis hoekom dit so wonderlik is om hierdie toekenning te ontvang." Doubell het R25 000 en Groenewald R10 000 vir hul onderskeie studies ontvang.

Groenewald se navorsing sal fokus op groei, verbandhoudende siektetoestande en mortaliteit by kinders jonger as vyf jaar in die Oudtshoorn-subdistrik nadat hulle behandeling vir ernstige akute wanvoeding ontvang het. “Die studie sal die impak van die huidige rehabilitasie- en voedingsbestuursprogram assesseer deur ʼn stel aanwysers ses maande ná ontslag te ondersoek. Wanvoeding is ʼn belangrike erkende oorsaak van kindersterftes in Suid-Afrika. Dit raak ook kinders se intellektuele vermoë en op lang termyn die vermoë om tot ʼn geskoolde arbeidsmag en uiteindelik die ekonomiese status en groei van die land by te dra," verduidelik hy. “Ek is dankbaar dat ek ʼn bydrae kan lewer tot kindergesondheid, veral tot die verbetering van kindervoeding en ʼn laer mortaliteit."

Doubell gaan in die Witzenberg-subdistrik navorsing doen oor ʼn gehalteverbeteringsiklus vir TB-kontakbestuur. “Soos in die res van Suid-Afrika, plaas TB ʼn groot las op inwoners van die Witzenberg-subdistrik. Ons sukkel steeds met die vroeë opsporing van gevalle, dus kom mense in ʼn laat stadium en in ʼn verskriklike toestand by die plaaslike hospitaal en klinieke aan," sê sy. Doubell meen die studie kan tot beter TB-kontakbestuur in landelike gebiede en primêre gesondheidsorgfasiliteite oor Suid-Afrika heen bydra. “Ek is baie passievol oor landelike gesondheidsorg en dit verskaf my groot vreugde dat ek weet ek kan gemeenskappe help wat dit die nodigste het."

Onderskrif: Drs Milton Groenwald en Karlien Doubell.