Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kommunikasie uit die Raad (vergadering van 27 September 2017)
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 29/09/2017

​Die derde geskeduleerde vergadering vanjaar van die Raad van die Universiteit Stellenbosch (US) het Woensdag 27 September 2017 plaasgevind.

Die Raad het die Kampushernuwingsprojek uitgebrei, fondse toegeken vir die oprigting van die nuwe Leer- en Onderrigsentrum, en die halfjaarlikse finansiële verslag goedgekeur.

Ons het terugvoer gekry oor die implementering van die Taalbeleid, die Viserektor: Leer en Onderrig se jaarverslag ontvang, en is op hoogte gebring van vordering met die gebruik van inligtingskommunikasietegnologie in leer en onderrig.

Ander sake wat bespreek is, sluit in vergoedingsaanpassings vir 2018, die begroting vir volgende jaar, studentedemografie en die US se styging op ranglyste van top universiteite wêreldwyd.

Die Raad is ook geraadpleeg oor 'n nuwe institusionele visie en strategie, en is ingelig oor die Universiteit se Eeufeesplanne vir volgende jaar.

Meer besonderhede volg onder.

Vriendelike groete

George Steyn
Voorsitter: US Raad

 

Kampusvernuwingsprojek uitgebrei

Die Raad het die uitbreiding van die US se Kampusvernuwingsprojek (KVP) goedgekeur en daarmee die projektydlyn tot 2027 verleng en 'n bykomende R1,456 miljard aan die inisiatief toegesê.

Die hoofkomponente van die uitgebreide projek is die Fisangebou van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, die Ingenieurswesekompleks, en die opknapping en uitbreiding van 'n aantal ander geboue op Stellenboschkampus.

Die bykomende bedrag sal uit die jaarlikse reële opbrengs op die US se langtermynbeleggings gefinansier word, tot 'n maksimum van 4% – dieselfde finansieringsmodel as wat vir die bestaande KVP goedgekeur is. Tog sal pogings voortduur om bykomende finansiering van bedryfsvennote, skenkers en die staat te bekom.

Konstruksie van nuwe Leer- en Onderrigsentrum gaan voort

Die Raad het aanvullende finansiering opsygesit vir die konstruksie van die nuwe Leer- en Onderrigsentrum, wat agter die Neelsie opgerig sal word. Dít beteken konstruksie kan nou vanaf die einde van Oktober volgens plan begin.

Die finale geraamde koste is R255,7 miljoen. Die meeste van die finansiering is reeds bekom – hoofsaaklik van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) en 'n aantal Universiteitskenkers (mnr Jannie Mouton het aanvanklik R50 miljoen geskenk en onlangs 'n verdere R13 miljoen). Die Raad het nou R16,8 miljoen gereserveer indien verdere pogings om nóg finansiering te werf onsuksesvol is.

Die nuwe Leer- en Onderrigsentrum sal opgerig word op die kruispunt van die noord-suid- en oos-wes-asse wat oor Stellenboschkampus loop. Dít strook met die voorneme om die sentrum 'n meerdoelige fasiliteit te maak wat deur verskillende fakulteite gebruik sal word. Die kontak tussen studente van verskeie vakrigtings sal innovasie aanmoedig. Die gebou sal spog met gevorderde tegnologie vir 21ste-eeuse leer en onderrig. Dit sal na verwagting teen die einde van 2019 voltooi wees.

Halfjaarlikse finansiële verslag

Die Raad het die US se halfjaarlikse finansiële verslag goedgekeur vir indiening by die DHOO. Dit handel oor die instelling se finansiële prestasie vir die tydperk 1 Januarie tot 30 Junie 2017.

Die begroting van 2017 is vir die eerste helfte van die jaar met welslae bestuur. Die instelling is finansieel gesond en het sy beskikbare finansiering en netto batewaarde vermeerder. Privaat skenkings het verwagtinge oortref en beleggings het goed gevaar.

Tog moet sekere risiko's in ag geneem word, soos die onbekende uitwerking van die verwagte verandering in die staatsubsidieformule op die Universiteit se eerste geldstroom, die impak van die swak wêreldekonomie, sowel as druk op studentegelde.

Die Raad het kennis geneem van die Universiteit se voortgesette verbintenis tot omsigtige finansiële beplanning en bestuur met die oog daarop om die langtermyn- finansiële volhoubaarheid van die instelling te verseker.

Vergoedingsaanpassings vir 2018

Die Raad het 'n verslag van sy Vergoedingskomitee ontvang oor vergoedingsaanpassings vir 2018. Die verslag beveel 'n algemene inflasiegekoppelde aanpassing van 6% aan vir alle personeellede wat in die vorige siklus 'n prestasiepunt van 3 of hoër behaal het. 'n Besluit in hierdie verband is onderworpe aan finale goedkeuring van die US se begroting vir 2018 by die laaste vergadering van die Raad op 27 November, sowel as die finale staatsubsidietoekenning.

Begroting 2018

Die Raad is ingelig oor prosesse wat tans deur die hele Universiteit aan die gang is om die begroting vir 2018 gereed te kry vir goedkeuring by vanjaar se laaste Raadsvergadering. Die onsekerheid oor die hersiene subsidieformule en 'n moontlike nuwe studentegeldbedeling maak dit noodsaaklik dat die Universiteit alles moontlik doen om sy inkomste te vermeerder en sy hulpbronne meer doeltreffend te benut.

US maak opgang op twee wêrelduniversiteitsranglyste

Die Raad het die nuus verwelkom dat die US sy plek op twee erkende lyste van die wêreld se voorste universiteite verbeter het. Die Times Higher Education-wêrelduniversiteitsranglys plaas die US nou in die kategorie 351–400 nadat dit verlede jaar nog in die kategorie 401–500 geval het. En op die QS-wêrelduniversiteitsranglys is die Universiteit nou tweede in Suid-Afrika (in die algehele 361ste plek teenoor sy vorige 395ste plek).

In albei gevalle is die US se navorsingsuitnemendheid aangevoer as 'n hoofrede vir sy verbetering op die ranglyste. Dít weerspieël die Universiteit se status as 'n toonaangewende navorsingsintensiewe instelling in die land en op die vasteland.

Die Raad het kennis geneem van die US se genuanseerde benadering tot universiteitsranglyste, gedagtig aan die meningsverskille oor die metodologie om die ranglyste saam te stel. Akademiese uitnemendheid bly ononderhandelbaar vir die US, en geen poging word aangewend om die instelling se plek op enige ranglys kunsmatig te beïnvloed nie.

Verslag van die Viserektor: Leer en Onderrig

By hierdie vergadering van die Raad het die Viserektor: Leer en Onderrig, prof Arnold Schoonwinkel, 'n beurt gekry om 'n jaarverslag voor te lê.

Die Raad het kennis geneem van uitstaande prestasie op ál agt strategiese fokusgebiede van hierdie verantwoordelikheidsentrum, naamlik uitnemendheid in leer en onderrig, studentetoegang met sukses, grootte en vorm, programvernuwing, meertalige programaanbod, nuwe kennismarkte, finansiële steun vir studente, sowel as inligtingskommunikasietegnologie in leer en onderrig. Laasgenoemde aspek het ook 'n aparte agendapunt uitgemaak (sien hieronder).

Klik hier vir die volledige verslag, en hier vir die PowerPoint-weergawe.

Inligtingskommunikasietegnologie in leer en onderrig

Die Raad het 'n vorderingsverslag ontvang oor die belegging van R218 miljoen in inligtingskommunikasietegnologie in leer en onderrig wat hy in 2014 gemaak het.

  • Die installasie van 'n veseloptiese netwerk op Stellenboschkampus is voltooi. Die beskikbaarstelling van koordlose internet (WiFi) vorder ook fluks, en 73% van klaskamers bied nou reeds WiFi-steun vir veelvuldige toestelle per student.
  • Die dosentesteunprogram maak goeie vordering om leertegnologieë op ander maniere by die kurrikulum te integreer. Die plasing van leertegnologieraadgewers en gemengdeleerkoördineerders in fakulteite werp vrugte af, en meer as 500 inisiatiewe is verledejaar aangeteken.
  • Die gebruik van SUNStream raak al hoe gewilder, met departemente wat die 'lewende klaskamer'-konsep gebruik om gelyktydige leer vir buiteklasstudente te fasiliteer.
  • Die mobiele SUNLearn-toepassing is nou ook beskikbaar en werk goed. Dit bied studente en dosente kitstoegang tot hul SUNLearn-kursusse, en sommige inhoud kan afgelaai word vir niegekoppelde gebruik.
  • Die telematikaskoolprojek, wat in samewerking met die onderwysdepartemente van die Wes-, Oos- en Noord-Kaap aangebied word, gaan van krag tot krag. Dit bied kurrikulumsteun vir leerders in graad 10, 11 en 12. Altesaam 663 skole word nou bereik.
  • Die US se eerste, suksesvolle massiewe oop aanlyn kursus (MOOC), “African Philosophy of Education", is teen die einde van 2016 bekend gestel, en 5 000 deelnemers wêreldwyd het vroeër vanjaar daarvoor ingeskryf. Die kursus het 'n buitengewoon hoë voltooiingsyfer van 38,5% behaal.

Studentedemografie

Volgens die jaarlikse Junie-sensus staan die US se totale studentetal nou op 31 639, van wie 'n derde nagraadse inskrywings is.

Die Universiteit het in 2012 altesaam 25,9% bruin, swart Afrikaan-, Indiër- en Asiër- (BSIA-) nuwelingeerstejaars gehad. Dié syfer het vanjaar tot 34,8% geklim. Oor die algemeen maak BSIA-studente nou 40,1% van voorgraadse inskrywings uit, en 47,2% op nagraadse vlak. Verskeie fakulteite het aangedui dat hulle bykomende toegespitste werwingsaksies van stapel gestuur het om BSIA-inskrywings te verhoog.

Nuwe institusionele visie en strategie

Die Raad is ingelig oor vordering met die ontwikkeling van die US se Visie 2040 en 'n nuwe Strategiese Plan 2019–2024. Lede van die Raad het ook insette gelewer oor konsepelemente van die visie en missie sowel as voorgestelde waardes wat by so 'n dokument ingesluit behoort te word, en sal ook nog skriftelik verdere bydraes kan lewer.

Die Universiteit se huidige Institusionele Voorneme en Strategie 2013–2018 loop volgende jaar ten einde. 'n Taakgroep onder leiding van prof Hester Klopper, Adjunkvisekanselier: Strategie en Internasionalisasie, is in Julie verlede jaar saamgestel om leiding te bied in die proses om 'n nuwe plan te skryf. Die Institusionele Beplanningsforum het in Februarie vanjaar bydraes gelewer, gevolg deur die Uitvoerende Bestuursvergadering in Julie, en 'n aantal werkgroepe beraadslaag ook die afgelope tyd oor verskillende aspekte van die nuwe raamwerk.

Fakulteite en PASD- (professionele administratiewe en steundienste-)afdelings word tans oor visie- en missie-elemente sowel as waardes geraadpleeg, en 'n studentevraelys oor US-waardes word ook beplan. Boonop sal personeel en studente na verwagting bykomende geleenthede ontvang om bydraes te lewer.

Die Raad sal weer oor aspekte van die voorgestelde nuwe raamwerk geraadpleeg word, en 'n konsep- strategiese plan behoort in Maart volgende jaar by die Raad ingedien te word. Daarna sal die formele goedkeuringsprosesse volg, en sal 'n finale konsep in Junie 2018 vir goedkeuring voor die Raad dien.

Die US se Eeufees 2018

Die Raad is op hoogte gebring van planne om die US se 100ste bestaansjaar as 'n openbare universiteit in 2018 te herdenk.

Die Eeufeesprojek, met prof Hester Klopper en dr Barbara Pool aan die stuur, het op 25 Augustus 'n mylpaal bereik toe die visuele identiteit vir hierdie inisiatief onthul is (klik hier vir ʼn kort animasie). Die US se huidige korporatiewe identiteit is vir dié doel aangepas en 'n bykomende element is vir meer informele toepassings bygevoeg. Dit word tans Universiteitswyd versprei om vanaf Januarie volgende jaar gebruik te word.

Ook die Eeufeesboodskap is by dié geleentheid onthul. Dit word vervat in die tema “100 jaar van leer, groei en saam vorentoe beweeg", en die uitdrukking “forward together, saam vorentoe, masiye phambili".

'n Eeufeeswebtuiste word tans gebou en sosiale media sal ook ingespan word. Bestaande geleenthede op die Universiteit se jaarkalender sal die grondslag uitmaak van die Eeufeesprogram. 'n Musiekfees op Coetzenburg op 2 Maart 2018 sal die eerste hoofgeleentheid wees, wat saamval met die opening van die US Woordfees.

Ander beplande elemente sluit in 'n BBP-geleentheid in Maart en 'n fondswerwingsgala in Oktober, twee Eeufeesboeke en ander publikasies, 'n lesingreeks, verskeie tentoonstellings, en 'n verskeidenheid gedenkwaardighede en ander items. Die groter gemeenskap, ander universiteite en bykomende belanghebbendes en vennote sal ook betrek word.

Implementering van die Taalbeleid

Die Raad is ingelig oor die implementering van die Universiteit se Taalbeleid, wat die Raad in Junie 2016 met die instemming van die Senaat goedgekeur het vir toepassing met ingang van 2017.

Fakulteitsverslae weerspieël baie min afwykings van die taalimplementeringsplanne wat vir 2017 goedgekeur is. Waar daar wel geringe afwykings was, is geldige verklarings verskaf. Die Universiteit se Ombud het geen klagtes oor taal ontvang nie, en waar studente in hul fakulteite implementeringskwessies geopper het, is dit flink en doeltreffend hanteer.

'n Tweede taalimplementeringsopname onder voorgraadse studente is pas onderneem ná die aanvanklike een aan die begin van die jaar.

Sekere uitdagings word in verband met tolking ondervind, sowel as met die korrekte toepassing van een van die taalopsies, naamlik dubbelmediumonderrig. 'n Herhalende tema is die belang van die akkurate en korrekte vertaling van assesserings, kernnotas en PowerPoint-aanbiedings.

Die Raad het fakulteite geloof vir hul doelbewuste en voortgesette pogings om hul taalimplementeringsplanne volgens die bepalings van die Taalbeleid te implementeer, en sy waardering uitgespreek vir dosente se pogings om die beleid tot voordeel van studente toe te pas.

Wysigings aan verslagdoeningslyne

Die Raad het kennis geneem van die volgende veranderinge wat die bestuur aan verslagdoeningslyne by die Universiteit aangebring het:

  1. Die tien dekane sal voortaan aan die Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie (VR:NINS) verslag doen in plaas van aan die Rektor soos wat tans die geval is. Dít sal volgende jaar op die proef gestel en in September 2018 hersien word.
  2. Innovus maak tans deel uit van die verantwoordelikheidsentrum van die Bedryfshoof. Tog sal die Viserektor: Leer en Onderrig (VR:LO) voortaan betrokke wees by die ontwikkeling van kortkursusse deur Innovus.
  3. Innovus se ander werksaamhede, d.w.s. tegnologieoordrag, die beskerming van intellektuele goedere, en die kommersialisering van ander US-bates, sal vir afsienbare tyd onveranderd bly.
  4. Aangesien inligtingstegnologie inherent deel is van die Universiteit se werksaamhede, sal die Afdeling Informasietegnologie van die verantwoordelikheidsentrum van die VR:NINS na dié van die Bedryfshoof verskuif.
  5. Om die vestiging van 'n Afdeling Inligtingsbestuur moontlik te maak, sal die komponent van Institusionele Navorsing en Beplanning (INB) wat op beplanning en data fokus na die verantwoordelikheidsentrum van die Viserektor: Strategie en Internasionalisasie verskuif. Die komponent van INB wat op akademiese programbeplanning en gehalteversekering fokus, sal steeds onder die VR:LO val, maar sal by 'n ander afdeling ingedeel word.

Hierdie besluite tree vanaf 1 Oktober 2017 in werking en is bedoel vir volle implementering met ingang van Januarie 2018. Die veranderinge sal wysigings aan die Rektoraat se delegasieraamwerk tot gevolg hê.

Bestuursvergaderings in 2018

Die Raad is in kennis gestel van die volgende veranderinge in die topbestuursvergaderings vir 2018:

Uitvoerende bestuursvergaderings

  • Daar sal weggedoen word met die RBS in sy huidige vorm, en die benaming 'Rektor se Bestuurspan (RBS)' sal nie meer gebruik word nie.
  • Die US se uitvoerende bestuur sal as 'die Rektoraat' bekend wees. Dit sal uit die uitvoerende lede bestaan, met die Registrateur en Uitvoerende Bestuurder: Rektoraat as steunpersoneel.
  • Rektoraatsvergaderings vind vanaf 2018 elke tweede week plaas.
  • Kern- senior bestuurders kan na die tweeweeklikse Rektoraatsvergaderings genooi word om kwessies in hulle onderskeie portefeuljes bekend te stel, te motiveer of toe te lig.

Algemene Bestuurskomitee

  • Algemene Bestuurskomitee- (ABK-)vergaderings – wat uit die Rektoraat, dekane en senior bestuurders van die PASD-omgewings bestaan – sal een keer per kwartaal gehou word.
  • Die werksaamhede van die algemene bestuursvergaderings sal herbepaal word in 'n hersiene reglement.
  • Die Registrateursafdeling sal die sekretariaat voorsien.

Personalia

Die Raad het verskeie van sy lede met onlangse prestasies gelukgewens.

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, is tot ondervoorsitter van Universiteite Suid-Afrika (USAf) vir 2018 en 2019 verkies. Hy is ook aangestel om vir 'n tydperk van drie jaar vanaf 1 Augustus 2017 in die raad van die Vereniging van Statebondsuniversiteite (ACU) te dien.

Prof Eugene Cloete, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie, het 'n Nasionale Wetenskap- en Tegnologieforum (NSTF)/South32-prys ontvang vir sy buitengewone bydrae tot navorsing en innovasie in Suid-Afrika. Die prys erken, vier en beloon uitnemendheid in wetenskap, ingenieurswese, tegnologie en innovasie in Suid-Afrika.

Prof Leopoldt van Huyssteen, Bedryfshoof, is deur die Suid-Afrikaanse sagtevrugtebedryf met 'n Voorloperprys vereer vir sy leierskapsrol in die landbousektor oor 'n tydperk van 40 jaar. Hy het in verskeie komitees en rade gedien, onder meer drie jaar as raadsvoorsitter van die Grondkundevereniging van Suid-Afrika.

Prof André Keet, 'n ministeriële aanstelling in die US se Raad, is as voorsitter aangewys van die Transformasieoorsigkomitee, wat die minister van hoër onderwys en opleiding onlangs tot 10 lede uitgebrei het.

Me Ziyanda Stuurman het deur middel van videoverbinding deelgeneem aan haar eerste vergadering van die Raad as 'n ministeriële aanstelling, nadat sy voorheen as Studenteraadslid in die Raad gedien het. Ál vyf ministeriële poste in die Raad is nou gevul. Benewens me Stuurman en prof Keet, is die ander lede prof Gerhard Maré, me Sindi Lingela en mnr Anthony Dietrich.

Volgende vergadering

Die volgende vergadering van die Raad vind op 27 November 2017 plaas.