Kan seevoëls infraklank waarneem? En indien wel, gebruik hulle dit om hulle
pad oor die uitgestrekte oseane te vind?
’n Fisiologiese ekoloog van die Universiteit
Stellenbosch (US), dr. Susana Clusella-Trullas, sal onbekende vaarwaters verken
wanneer sy begin met haar soektog na die antwoord op hierdie vraag, in
samewerking met ’n span navorsers van die VSA, die Verenigde Koninkryk (VK) en
Nederland.
Hulle het onlangs ’n R1,3 miljoen se
navorsingstoekenning ontvang uit die Young Investigator
Grants van die internasionale Human Frontier Science Program. Hierdie geld is geoormerk vir navorsing oor
lewende organismes en hul komplekse organismes.
Die migrasie van seevoëls is steeds een van
die mees verstommende verskynsels in die diereryk waarvan ons maar min weet.
Oor die jare heen het wetenskaplikes daarin geslaag om te bewys dat sommige
voëls die stand van die sterre en die aarde se magnetiese veld gebruik om hul
pad te vind. Meer onlangs het ’n groep navorsers van die universiteite
van Oxford, Barcelona en Pisa aangetoon dat stormvoëls op
hulle reuksin staatmaak om hul pad terug na hul nes op land te vind, ná hulle
weisessie in en oor die see.
Dr. Clusella-Trullas sal saam met die
volgende navorsers werk: Jelle Assink, ’n geofisikus van die Royal Netherlands Meteorological
Institute in Nederland; Samantha Patrick, ’n gedragsekoloog van die Universiteit
van Liverpool in die VK; en Mathieu Basille, ’n ruimte-ekoloog van die Universiteit
van Florida in die VSA.
Die idee is om almal se spesialiskennis in te
span ten einde hierdie moeilike vraagstuk van alle kante af te probeer
uitpluis.
“As die fisiologiese ekoloog in die span sal
ek die gehoorstrukture van verskeie seevoëlspesies onsersoek ten einde hierdie
hipotese te toets. Aangesien sommige seevoëls migrasiereise oor geweldige groot
afstande aflê, is dit hoogs waarskynlik dat hul van infraklank gebruik maak as
’n medium om hulself mee te oriënteer, storms te vermy en eilandkuste waar te
neem,” verduidelik sy.
’n Paar studies het reeds getoon dat
wedvlugduiwe infraklank kan waarneem; en sommige van die meganismes en
strukture wat by bogenoemde groep hiervoor verantwoordelik is, is ook reeds
beskryf.
Sy sal vars karkasse vir hierdie navorsing
vanaf verskeie bronne verkry, siende dat seevoëls dikwels ook deel van vissersbote se vangste uitmaak.
“Ons sal deursnitte van die binne-oor van pas
afgestorwe seevoëls ondersoek en 3D- beeldingstegnieke gebruik om die strukture
wat infraklank dalk kan opvang, te probeer opspoor.”
Sy hoop dat sy in staat sal wees om die
meganismes waarmee seevoëls infraklank waarneem, te identifiseer. Dan wil sy
onder ’n groot versameling seevoëls hierdie sensoriese organe visueel uitbeeld en meet.
Hierdie data sal dan met behulp van ruimtelike modellering geïntegreer word met
ander data van die groter internasionale samewerkingsprojek.
Vir meer inligting oor die projek en hulle
vordering, besoek die blog by: https://seabirdsound.wordpress.com/
Op die foto bo, Dr Susana Clusella-Trullas van die US se Departement Plant- en Dierkunde. Foto: Stefan Els