Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
'Smart Water Meter' verskaf innoverende oplossing vir die vermorsing van water
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 10/03/2017

​Die Wes-Kaap gaan tans gebuk onder 'n ernstige droogte, en innoverende oplossings is meer noodsaaklik as ooit tevore. Gedurende die tweede Stellenbosch Forum-lesing van 2017, het dr MJ (Thinus) Booysen, medeprofessor by die departement, Elektries en Elektroniese Ingenieurswese by die US, twee toestelle bespreek wat hy help ontwikkel het om die probleem te takel: Geasy en die 'Smart Water Meter'.

Die Stellenbosch Forum-lesing het op Donderdag (9 Maart) by die Universiteit Stellenbosch plaasgevind, waar Booysen gepraat het oor die onderwerp "Connected through water and energy in the internet of things."

"Ons ervaar 'n ernstige watertekort in die groter Kaapstad-area, en tot onlangs, ook in ander dele van die land," het prof Wim de Villiers, rektor en visekanselier aan die US, in sy openingstoespraak gesê. "Sal dit nie wonderlik wees as tegnologie ook oplossings hiervoor kon bied nie? Maar iemand moet eers die navorsing doen en dit dan in tegnologie omskep wat ook kommersiële potensiaal het. Dit is presies wat ons spreker vandag sal aanspreek."

Verbruikers kan die 'Smart Water Meter' installeer om gedetailleerde informasie te kry oor hoe baie water hul elke dag gebruik, terwyl 'Geasy', 'n intelligente stelsel vir die bestuur van jou warmwatersilinder (geyser), jou toelaat om totale beheer te hê oor jou warmwatersilinder deur die gebruik van enige toestel met toegang tot die internet. Dit spaar ook elektrisiteit deur skedules te optimiseer.

Booysen het bewys hoe waardevol dit is om aan verbruikers te demonstreer presies hoe baie water hul mors as hulle die kraan oop los. In een gevallestudie het 'n koffiewinkel hul waterverbruik met 67% verminder nadat hulle een week van data daaroor gesien het.

"Dit gaan nie alleen oor inligting wat jy later kan analiseer nie, dit affekteer ook onmiddellik jou gedrag," sê Booysen.

Die 'Smart Water Meter' word vir R850 verkoop, wat alleen of saam met Geasy gebruik kan word.