Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SUNCOI help leerders chemie begryp
Outeur: Wiida Fourie-Bassson
Gepubliseer: 13/12/2016

Sonder toegeruste laboratoriums en chemikalieë sukkel dit met die onderrig van Chemie by minderbevoorregte skole. Maar daarvoor het dr Rehana Malgas-Enus, dosent aan die Universiteit Stellenbosch (US), 'n plan bedink en SUNCOI op die been gebring.

ʼn Onderwyser het eens opgemerk dat niemand van dié woonbuurt in Beacon Valley op die Kaapse Vlakte ooit 'n dokter sal kan word nie, wat nog te sê van 'n doktorsgraad in Chemie. Tog is dit presies wat Malgas-Enus op 28-jarige ouderdom reggekry het. Vandag, ses jaar later, is dié alumnus van die US 'n navorser en dosent in die Departement Chemie en Polimeerwetenskap by haar alma mater, waar sy in nanotegnologie spesialiseer.

Maar hierdie artikel handel nie oor haar of haar navorsing nie. Dit gaan eerder oor haar toewyding om kinders vanuit soortgelyke omstandighede te inspireer om bo hul omstandighede uit te styg. Net soos wat sy gedoen het. Kort ná Malgas-Enus se aanstelling by die US in 2012, het sy die destydse departementshoof, prof Klaus Koch, met haar idees vir 'n uitreikprogram genader. Met die departement en die nodige befondsing aan haar kant, was die volgende stap om uit te vind hoe om hierdie ideaal te verwesenlik.

"Ek wou nie my idees op die gemeenskap afdwing nie, daarom het ons eers 'n vergadering met onderwysers van die plaaslike skole belê om uit te vind wat hulle nodig het," verduidelik sy. Die antwoord was onverwags, maar helder en duidelik: "Help ons asseblief om aan die nuwe KABV- riglyne vir fisiese wetenskappe te voldoen," het hulle gevra.

KABV is die afkorting vir Kurrikulum en Assesseringbeleidsverklaring en is 'n hersiening van die bestaande Nasionale Kurrikulumverklaring. Sedert 2014 word daar van hierdie wetenskaponderwysers verwag om nege formele en 12 informele praktiese eksperimente vir Graad 10 tot 12 aan te bied en te assesseer. Maar die voorbeelde in die handboeke is nie altyd so duidelik nie. Boonop moet talle onderwysers in minderbevoorregte skole oor die weg kom met onvoldoende laboratoriumfasiliteite en min tot geen chemikalieë nie.

"Chemie gaan gebuk onder die wanopvatting dat dit 'n moeilike en obskure vak is," sê Koch. "Tog is dit 'n uiters praktiese, tasbare en fassinerende wetenskap. Daarom vereis dit 'n praktiese 'leer-deur-ervaring'- benadering indien jy iemand se belangstelling daarin wil aanwakker."

Trixie Niklous, 'n fisiese wetenskappe onderwyser van Hoërskool Zeekoevlei in Lotus Rivier, sê 90% van die skool se ouers kan nie die skoolgeld van R1 500 per jaar bekostig nie: "Die meeste families weet nie waar hulle volgende maaltyd vandaan gaan kom nie. Die skool verskaf ontbyt en middagete aan ons leerders; daar is nie nog geld om chemikalieë vir eksperimente aan te koop nie?"

Uiteindelik het Malgas-Enus die KABV-dokumentasie in die hande gekry, daardeur gewerk en 'n reeks eksperimente vir Graad 10 tot 12 ontwerp wat aan die riglyne voldoen. Die volgende hekkie was om die Wes- Kaapse Onderwysdepartement sover te kry om die eksperimente goed te keur. Eers tóé kon die inisiatief, genaamd SUNCOI (US Chemie Uitreik-inisiatief), begin.

"Ons moes seker maak dat dit vir die onderwysers en die leerders die moeite werd sal wees om hul Saterdae vir Chemie op te offer. Ek glo die feit dat die eksperimente binne die riglyne van die KABV val, is een van die hoofredes waarom die werkswinkels so gewild is," sê Malgas-Enus.

Sedert 2013 gryp bykans 900 leerders en 200 onderwysers hul wit laboratoriumjassies en brille om die voorgeskrewe eksperimente in verskeie van die US se Departement Chemie se goedtoegeruste laboratoriums uit te voer. SUNCOI steun op 'n groep toegewyde personeel en nagraadse studente in die Departement Chemie en Polimeerwetenskap.

Terwyl Malgas- Enus seker maak van die inhoud, sien die senior tegniese beampte, Jabu Lukhele, om na die tegniese en praktiese uitvoerbaarheid van elke eksperiment. Ná verskeie gesprekke en aanpassings neem hy die eksperiment na sy kollegas, Peta Steyn, Moebarrick Bickerstaff en Kwezi Mbalo, om die laboratoriums voor te berei. Sedert 2013 het dié groep nie 'n enkele SUNCOI-werkswinkel gemis nie.

Tertia Jaftes van Hoërskool Kylemore in Stellenbosch sê die werskwinkels is van groot waarde. "Ons het laboratoriums, maar daar is nie genoeg toerusting om al die eksperimente te doen of om elke leerder 'n kans te gee nie. Ons is verskriklik dankbaar vir hierdie goedvoorbereide en georganiseerde werkswinkels."

"Daar is beslis 'n verbetering in leerders se begrip van die teorie," sê Aldridge Jacobs van die Hoërskool Kylemore. "Ek kan duidelik in vraestelle agterkom dat hulle in daardie gedeeltes van die werk baie beter doen, omdat hulle die geleentheid kry om die teorie en die praktiese bymekaar te bring."

By die Hoërskool Zeekoevlei het die aantal leerders wat Fisiese Wetenskappe tot in Graad 12 neem, ietwat vermeerder nadat dié skool in 2015 by SUNCOI betrokke geraak het – dít nadat die skool dit oorweeg het om die vak af te skaf. Niklous sê die feit dat Malgas-Enus uit dieselfde gemeenskap as haar leerders kom, dien as 'n groot bron van inspirasie: "Hulle sien iemand wat uit hul gemeenskap kom, iemand wat universiteit toe gegaan het en 'n dosent geword het. As sy dit kan doen, kan hulle mos ook?"

Ten einde selfs meer leerders te bereik, bied SUNCOI 'n jaarlikse werkswinkel vir wetenskaponderwysers in die Metropool-suid en Wynlande- distrik aan. Om die gebrek aan hulpbronne aan te spreek, het die span 'n stelletjie met die minimum hoeveelheid chemiese reagense en basiese laboratoriumbenodigdhede saamgestel om die volledige eksperiment vyf keer uit te voer.

Wanneer sy terugdink aan haar grootwordjare op die Kaapse Vlakte, sê Malgas-Enus sy was bevoorreg om in 'n liefdevolle en veilige huis groot te word: "Selfs al het ek in Mitchells Plain grootgeword, het ek nooit koud of honger gaan slaap nie. Nadat my pa in 2003 oorlede is, het my ma se werk in 'n fabriek ons aan die gang gehou. Ek het hard gewerk om te kom waar ek nou is omdat ek weet hoe hard my ma vir ons gewerk het."

Sy voel sterk daaroor dat SUNCOI nie net 'n werwingsaksie vir Chemie is nie. "Ek gebruik Chemie as 'n voorbeeld om te wys daar is ander maniere om van die bendes en dwelms te ontsnap; om te besef dat jy wel die potensiaal het en dat niks of niemand jou mag terughou nie. Ek kan dit sê omdat ek self daar was. En as ék dit kon doen, kan hulle ook."

ONDERSKRIF: Dr Rehana Malgas-Enus in die laboratorium. Foto: Stefan Els

  • Hierdie artikel verskyn in die jongste uitgawe van die US-tydskrif, Matieland. Lees die tydskrif by www.sun.ac.za/matieland. Jy kan ook op hierdie webblad registreer om die tydskrif gratis te ontvang.