Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Onderwysprakties die 'beste leerskool'
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 27/10/2016

​Honderde studente-onderwysers doen elke jaar hul onderwysprakties (proeftermyn) by skole in die Wes-Kaap en vir die meeste van hulle is dit 'n uitdagende dog lonende ondervinding.

Adele Johannisen, 'n vierdejaar-BEd-Grondslagfasestudent en sekretaris van Universiteit Stellenbosch (US) se Akademiese Belangeraad (ABR), is by 'n Graad R-klas by Laerskool Rhenish geplaas.

Sy beskryf haar ervaring as 'n "wonderlike, positiewe een" en sê sy het baie praktiese vaardighede, soos hoe om 'n klaskamer veral ten opsigte van dissipline en roetine te bestuur, opgedoen.

"Die ondersteuning wat ek ontvang het, nie net van my mentor-onderwyser nie maar ook van ander onderwysers, was inspirerend. Dit is wonderlik om te weet dat daar onderwysers is wat oor jou welsyn en gehalte-opleiding besorg is."

Terwyl sy by die skool was, het sy egter besef dat sy beter gebruik moes gemaak het van die geleenthede wat die US haar gebied het om haar vaardighede ten opsigte van buitemuurse aktiwiteite uit te brei.

"Toe ek die hoof uitvra oor die kans om as nuwe onderwyser by 'n skool aan te sluit, was sy vraag: 'Watter buitemuurse vaardigheid sal jy aan die skool kan bied as jy aangestel word?' Ek besef nou dat ek 'n paar van die kursusse, soos netbal- of noodhulpkursusse wat die universiteit aanbied, moes bygewoon het."

Mkululi (MK) Nompumza, 'n BEd-student in sy derde jaar en vorige voorsitter van die Fakulteit Opvoedkunde se studentekomitee, het by Makupula Sekondêre Skool in Khayamandi, Stellenbosch, geproef.

Hy verkies om na skole in die laer kwintiele van die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel te gaan.

"Ek het baie geleer deur in skole te wees waar die meerderheid van die leerders isiXhosa as hul huistaal en nie-amptelike medium van onderrig het – en het spesifiek opgelet hoe die leerders sukkel om konsepte in hul amptelike onderrigmedium, wat Engels is, te leer, te lees en te skryf.

"Ek het begin begryp hoe uitdagings soos taal, die leerders se agtergrond en die hulpbronne wat vir onderwysers beskikbaar is, faktore is wat bydra tot ons land se onderwyskrisis."

Juline Rossouw, 'n BEd-student in haar vierde jaar en 'n Protea-netbalspeler, het haar proeftydperk by Laerskool Eikestad voltooi.

"Om in 'n skoolomgewing geplaas te word, is die beste leerskool. Elke skool en elke mentor-onderwyser is anders en jy leer elke keer iets nuuts. Ek weet nou watter soort onderwyser ek graag wil wees en hoe ek die leerders in my klas wil benader en onderrig."

Bevestig hul tyd as studenteonderwyser hul besluit om onderwyser te word of veroorsaak die blootstelling aan die "regte wêreld" soms twyfel?

"Ek dink daar is iets van albei," sê Adele.

"Die hoogte- en laagtepunte wat ek in die teorie en praktyk ervaar het, het bygedra om my die onderwyser te maak wat ek vandag is."

Juline erken dat mens soms tog begin twyfel.

"Maar ek het nog nooit my passie vir die kinders verloor nie. Om 'n onderwyser te wees, is 'n uitdaging en vereis harde werk, maar dit is ook bevredigend – ons kan potensieel elke dag 'n verskil in iemand se lewe maak."

Vir MK het die proeftydperk sy keuse om onderwyser te word, bevestig.

"Dit is deur my praktiese proefervaring dat ek meer en meer bewus geword het van die sosiale en intellektuele uitdagings van my gekose beroep – een waaroor ek baie passievol is. Ek wil nie net 'n onderwyser wees nie, maar ook 'n agent van sosiale verandering wat bydra tot verbetering in die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel."