Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
nGAP-pos bring verligting in Departement Voedselwetenskap
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 21/07/2016

Die Departement Voedselwetenskap in die Fakulteit AgriWetenskappe het een van vier nGap-poste ontvang wat aan die Universiteit Stellenbosch (US) toegewys is. Altesaam 79 toewysings is aan universiteite oor Suid-Afrika heen gemaak.

Die Nuwe Generasie Akademici-program (nGap) wat deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) aangebied word, is daarop gerig om universiteite te help om nuwe personeel in lyn met hul personeel- en ontwikkelingsplanne te werf.

Die DHOO dra die koste van die pos vir die eerste drie jaar. Daarna begin die universiteit tot die jong akademikus se indiensnemingkoste bydra. Die nGAP sal ook die nuut gewerfde dosente ondersteun om by onderwysontwikkeling- en navorsingontwikkelinggeleenthede te baat. Aansoekers moet jonger as 40 wees.

Prof Gunnar Sigge, Hoof van die Departement Voedselwetenskap, sê hy is baie verlig oor en in sy skik met die nGap-pos wat aan sy departement toegewys is aangesien personeelkapasiteit al die afgelope paar jaar 'n uitdaging is. Alhoewel daar nie van die nuwe aanstelling verwag sal word om 'n volle werklading is sy/haar eerste drie jaar te dra nie, sal die aanstelling help om die opleiding- en studieleidinglading van die huidige personeel te verlig.

Studentegetalle in die Departement Voedselwetenskap het sedert 2008 met 54% toegeneem terwyl die akademiese komponent slegs met een, van vyf tot ses, toegeneem het. Dit ten spyte van 'n eksterne evaluering wat voorgestel het dat die aantal akademiese personeel teen 2013 moes verdubbel.

"Voorts is studente van ander graadkursusse, byvoorbeeld BSc Agric (Akwakultuur) en BSc Landbou-ekonomie, ook ingeskryf vir sekere voedselwetenskapmodules wat die klasse nog groter maak," het prof Sigge bygevoeg.

"Daar was in 2015 altesaam 231 voorgraadse BSc Voedselwetenskap-studente terwyl daar terselfdertyd 30 MSc- en 22 PhD-studente was. Dit is dus duidelik dat die akademiese personeel 'n hoë voorgraadse onderriglading het, asook 'n hoë lading ten opsigte van studieleiding op nagraadse vlak. Aansoeke vir die voorgraadse BSc Voedselwetenskap-graad neem steeds toe met meer as 100 aansoeke om toelating in 2016. Daar is ook 'n toenemende tendens wat betref aansoeke vir die nagraadse programme in voedselwetenskap (MSc en PhD).

"'n Bykomende akademiese personeellid sal dus help met die voorgraadse program, die kundigheidbasis verbreed, navorsingsuitsette verhoog en nagraadse studieleiding-kapasiteit uitbrei."

Hy glo dat almal uit hierdie reëling sal baat. "Die nuwe werknemer kry die geleentheid om die akademiese wêreld te betree en het tyd om hom- of haarself te vestig terwyl die departement 'n ekstra pos kry en tyd het om te verseker dat hierdie pos ekonomies lewensvatbaar is."

Die belangrikheid van voedselwetenskap en voedselsekerheid, die verligting van honger en die bydrae tot gesondheid en welwees, word uitgelig deur die feit dat Voedselwetenskap 'n "skaars vaardigheid" in Suid-Afrika is.

"Goedopgeleide, skeppende en dinamiese voedselwetenskaplikes met veelvuldige spesialiseringsvelde is dus 'n kritieke vereiste om hierdie uitdagings aan te spreek," het prof Sigge gesê.