Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe era breek aan vir US met vrou in registrateurstoel
Outeur: Corporate Marketing/ Korporatiewe Bemarking
Gepubliseer: 15/07/2016

ʼn Nuwe era breek binnekort vir die Universiteit Stellenbosch (US) aan met ʼn vrou wat vir die eerste keer as Registrateur aangestel word. Dr Ronel Retief (45), Adjunkregistrateur: Tygerberg-kampus, neem die pos op 1 Januarie 2017 oor. Die huidige bekleër van die pos, mnr Johann Aspeling, tree einde vanjaar af.

"Ek sien daarna uit om die Registrateursrol op te neem en hoop om waarde toe te voeg, enersyds deur ingeligte advieslewering in terme van bepalende faktore binne die hoër onderwyssektor in Suid-Afrika, en andersyds deur uitnemende en empatiese akademiese administrasie wat studentesukses sal bevorder."

Retief het aan die US studeer en het die grade BA (1992), HonsBA (1993), MA (1996) en DLitt (2005) verwerf. Sy het in 1998 by die US aangesluit as Koördineerder: Navorsingsbefondsing in die Afdeling Navorsingsontwikkeling, waarna sy in 2003 as Assistentregistrateur by die Tygerberg-kampus aangestel is. Die pos is later opgegradeer na Adjunkregistrateur.

Benewens artikels in geakkrediteerde joernale, het Retief ook referate by konferensies gelewer. Sy ontvang ook by verskeie geleenthede die Rektorstoekenning vir Uitnemende Diens en dien op verskeie US-komitees. Sy lewer insette op nasionale vlak in onder meer plasingstoetse, keuringsaangeleenthede, akademiese administrasie en studente-ondersteuning.

Sy ontwikkel haar leierskapsvaardighede deur betrokkenheid by HERS SA en deelname aan programme van die US Bestuurskool, sowel as die Saïd Bestuurskool, Oxford Universiteit.

"Dit is ʼn sleutelpos wat dr Retief op ʼn deurslaggewende tydstip vir die Universiteit opneem. Haar uitstekende akademiese agtergrond en breedvoerige ondervinding in ʼn komplekse fakulteit waar diversiteit besonder uitgebrei het, sal haar goed te pas kom. Ons het die volste vertroue in haar," het prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, gesê.