Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Universiteit Stellenbosch en Security Watch Afrika onderteken ooreenkoms
Outeur: Korporatiewe Bemarking / Corporate Marketing
Gepubliseer: 28/06/2016

Die Universiteit Stellenbosch (US) en Security Watch Africa (SWA), ʼn prominente sekerheidsinstansie in Wes-Afrika, het  Vrydag 24 Junie  ʼn ooreenkoms van verstandhouding by die Wallenberg Navorsingsentrum by STIAS onderteken.  

Prof Eugene Cloete, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, en mnr Patrick Agbambu, Hoofuitvoerende Beampte van SWA, het die ooreenkoms namens die twee instansies onderteken.  Die ooreenkoms gee beslag aan die samewerking tussen die US se Sekerheidsinstituut vir Staatsbestuur en Leierskap in Afrika (SIGLA) en SWA. SWA-verteenwoordigers van Nigerië, Ghana en Gambië het die geleentheid bygewoon.

SWA, ʼn nie-regeringsorganisasie, glo sekerheid lê aan die kern van groei en ontwikkeling in Afrika. In die strewe om sekerheidsbewuste regerings in Afrika te versterk, gee hulle erkenning aan individue, regerings, agente en besigheidsentiteite wat in sekerheidsbestuur, goeie praktyk en bestuur in Afrika presteer.

Prof Cloete het gesê die US beskou homself as 'n nuwe Afrika-universiteit en heg daarom baie waarde aan vennootskappe met ander Afrika-universiteite en –organisasies. "Ons het reeds 'n groot voetspoor in Afrika, veral op die gebiede van voedselsekerheid en water, en nou ook wat sekerheid betref. Sekuriteit gaan in die toe toekoms regoor die wêreld 'n al groter kwessie word en daarom is inisiatiewe soos hierdie so belangrik."

Agbambu het op sy beurt gesê SWA is verheug oor die vennootskap met die US. "Die SWA wil graag deur vennootskappe soos dié 'n groep leiers te bemagtig om die kontinent te lei. Ons glo dat die oplossings vir Afrika se probleme vanuit Afrika moet kom. "Ons moet onsself posisioneer om oplossings te vind vir die sekerheidsuitdagings van die kontinent. Die positiewe wat uit hierdie vennootskap gaan vloei, sal tot voordeel van Afrika wees."

SWA bestuur onder meer ʼn vlagskip televisieprogram wat deur Africa Independent Television (AIT) uitgesaai word en ʼn tydskrif gemik op besluitnemers in die openbare en privaat sektore, korporatiewe instellings, internasionale agentskappe en semi-staatsinstellings.  SWA fasiliteer ook ʼn lesingreeks waartydens sekerheidsaangeleenthede geïdentifiseer en bespreek word met die doel om praktiese oplossings vir probleme voor te stel.

SIGLA, gesetel in die Fakulteit Krygskunde, bou leierskapskapasiteit en genereer kennis op die gebied van sekerheid vir volhoubare ontwikkeling. Hulle fokus ook op land- en maritieme sekerheidsbestuur.

Prof Francois Vrëy van die Fakulteit Krygskunde sê die ondertekening van die ooreenkoms sal "samewerking tussen SIGLA en SWA formaliseer met die oog op ʼn lesingsreeks, kort opleidingskursusse en die ontwikkeling van nagraadse programme vir Wes-Afrika kliënte oor sekerheidsbestuur."

SIGLA bied in November die SWA-lesingsreeks in Stellenbosch aan.

Foto: Op die foto is prof Eugene Cloete, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, mnr Patrick Agbambu, Hoofuitvoerende Beampte van SWA,​ en p​rof Sam Tshehla, Dekaan van die Fakulteit Krygskunde, onderteken die ooreenkoms.  Fotograaf: Justin Alberts.