Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Navorsingspublikasie beklemtoon US se sosiale impak
Outeur: Corporate Marketing / Korporatiewe Bemarking
Gepubliseer: 23/06/2016

"Hierdie publikasie is ʼn refleksie van ons navorsingsaktiwiteite wat ʼn bydrae lewer tot ʼn getransformeerde samelewing. Dit beklemtoon ons verbintenis tot die ontwikkeling van menslike kapitaal en belig ook die uitstaande werk van sommige van ons akademici wat sterk op navorsing fokus."

Só beskryf prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), die 2015-uitgawe van Research at Stellenbosch University wat onlangs deur die US se Afdeling Navorsingsontwikkeling bekendgestel is.

Dié jaarlikse publikasie bied ʼn blik op die innoverende en interessante navorsing wat aan die US gedoen word en dien as 'n platvorm om navorsingsuitsette met die breër publiek te deel.

Verder verskaf dit ook inligting oor die universiteit se gegradeerde navorsers (soos deur die Nasionale Navorsingstigting bepaal), Uitgelese Professore, Navorsingsleerstoele, Sentrums van Uitnemendheid sowel as tegnologiese innovasies wat hier plaasvind.

"Die doel van Research at Stellenbosch University  is om die nasionale en internasionale navorsingsgemeenskap, sowel as ander belangstellendes, 'n omvattende, dog toeganklike oorsig van navorsingsaktiwiteite aan die US te gee," sê me Maryke Hunter-Hüsselmann, Bestuurder: Navorsingsinligting en Strategie aan die US en redakteur van die publikasie.

​Sy voeg by dat dit ook die relevansie en impak van die US se navorsing en die bydrae hiervan tot ʼn beter samelewing uitlig.

 Die tema vir die 2015-uitgawe is juis US dra by tot `n getransformeerde samelewing deur ons navorsingsaktiwiteite.

"Op die wyse word aangetoon waar US-navorsers besluitnemingsprosesse beïnvloed het, waar direkte bydraes gemaak is tot die verbetering van mense se lewens, waar innoverende idees gelei het tot tegnologiese ontwikkelings, en waar nuwe konsepte gelei het tot meer volhoubare praktyke," verduidelik Hunter-Hüsselmann.

Sy het navorsers wat jaarliks tot die publikasie bydra bedank en gesê dit is ook ʼn pluimpie vir  hul harde werk en uitstaande navorsingsuitsette.

Die vorige uitgawes van Research at Stellenbosch University (vanaf 2010) het nasionale Marketing, Advancement and Communication in Education Award (MACE)-toekennings gewen.