Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kruger se leeus word bedreig deur tuberkulose
Outeur: FMHS Marketing & Communications
Gepubliseer: 24/03/2016

Mense is nie die enigste spesie wat deur tuberkulose geraak word nie – twee van Suid-Afrika se gewilde 'Groot Vyf' word ook bedreig deur die siekte, insluitend die magtige leeu.

Soveel as die helfte van leeus in die suidelike dele van die Krugerwildtuin (KW) is moontlik besmet met 'n vorm van diere-TB genaamd beestuberkulose (BTB), luidens nuwe navorsing deur die Universiteit Stellenbosch (US) se Diere-TB Navorsingsgroep.

"Na raming kom BTB voor in 54% van die leeubevolking in die suidelike gebiede van die KW, met 'n laer voorkoms in die sentrale gebiede. Hierdie syfers is gegrond op 'n nuwe molekulêre tegniek wat ons ontwikkel het om infeksie te bespeur," sê mev Tashnica Sylvester, 'n doktorale student aan die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe. Die voorkoms van BTB is al ook bevestig onder leeus in ander gebiede, insluitend die Hluhluwe iMfolozi-natuurreservaat in KwaZulu-Natal.

BTB is 'n siekte wat stadig vorder en daar word geskat dat die tyd van infeksie tot dood tussen twee en vyf jaar is.

"Die meerderheid leeus kom gesond voor. Maar leeusin 'n gevorderde stadium van die siekte kan simptome toon soos opgeswelde elemboë, wonde wat stadig genees, 'n pels in 'n swak toestand, gewigsverlies, hoes en moeilike asemhaling," sê Sylvester. Sy is deel is van die navorsingsgroep wat 'n diagnostiese toets ontwikkel het om BTB te diagnoseer met 'n enkele bloedmonster. Vantevore moes 'n leeu twee keer in drie dae gevang word om 'n TB-veltoets te doen, maar met die nuwe metode (geenuitdrukkingstoets) hoef 'n leeu slegs een keer gevang word.

Leeus kan met BTB besmet word as hulle besmette buffels en ander diere eet.

"Ongeveer 40% van die buffels wat in die suidelike deel van die KW getoets is, het BTB onder lede, en buffels is een van die leeu se vernaamste prooie. Aangesien buffels met BTB swakker is as die res van die trop kan hulle agterbly, en dus makliker gevang word," sê Sylvester.

'n Onlangse studie deur die Diere-TB Navorsingsgroep dui daarop dat leeus moontlik die bakterieë tussen mekaar versprei deur asemhalingsafskeidings (klein druppels wat oorgedra word wanneer hulle nies of hoes). Hierdie bevindings moet nog bevestig word.

Leeus is een van die top roofdiere wat die balans van dierespesies bepaal en daarom 'n impak het op die biodiversiteit van 'n ekosisteem.

"In 'n park soos die KW, wat Suid-Afrika se grootste wildreservaat en 'n kritiese biodiversiteithulpbron is, kan die verlies van leeus 'n beduidende invloed op die ekosisteem hê," sê Sylvester.

"In 2006 het die KW ongeveer R1.5-miljard vir die omgewing gegenereer. Leeus is een van die hooftrekpleisters vir besoekers en 'n verlies van een van die 'Groot Vyf' kan ekonomiese gevolge hê."

Alhoewel leeus wat besmet is met BTB nie 'n direkte bedreiging vir mense inhou nie, kan siek leeus wat te swak is om hulle gewone prooi te jag, nader dwaal aan gebiede waar mense en  vee woon.

"Meer bewustheid van TB onder wild is die eerste stap om die ekologiese-, bewarings-, sosioekonomiese- en openbare gesondheidskwessies wat met die siekte gepaard gaan, aan te spreek," sê Sylvester. "Aangesien BTB 'n groot verskeidenheid spesies aantas, insluitend huisdiere, wild en mense, is navorsing krities om sodoende die oorsprong, voorkoms en risikofaktore vir oordrag binne en tussen spesieste verstaan."

 

Media navrae:  

Wilma Stassen

+27 (0)21 938 9359

wstassen@sun.ac.za

Bemarking & Kommunikasie

Fakulteit Geneeskunde & Gesondheidswetenskappe         

Stellenbosch Universiteit

 

Website:       www.sun.ac.za/health

Facebook:     www.facebook.com/SUhealthsci

Twitter:         @SUhealthsci