Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US stel nuwe groep uitgelese professore aan
Outeur: Corporate Marketing / Korporatiewe Bemarking
Gepubliseer: 09/02/2016

ʼn Nuwe groep van 15 hoogleraars aan die Universiteit Stellenbosch (US) is Maandag (8 Februarie 2016) as Uitgelese Professore (Distinguished Professors) aangestel tydens ʼn funksie by STIAS. Dit is slegs die tweede keer dat die US hierdie eerbewys aan sy voorste akademici betoon. Die eerste groep Uitgelese Professore in 2014 aangestel is.

Die name van die nuwe ontvangers is in November 2015 bekendgemaak.

Die kriteria om in aanmerking hiervoor te kom sluit in: Die kandidate moet ten minste vyf jaar by die US as professor aangestel wees; deurlopende uitnemende prestasie oor die laaste drie jaar behaal het; internasionale statuur hê; en na gelang van die spesifieke fakulteitskonteks, bewese uitsonderlike prestasie en leierskap in hoëronderwys in navorsing en publikasies, nagraadse studieleiding, leer en onderrig, en gemeenskapsinteraksie gelewer het.

Die aanstelling geld vir vyf jaar en heraanstellings kan oorweeg word. 

Tydens die geleentheid het prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, gesê die titel "Uitgelese Professor" is ingestel om erkenning te gee aan die instelling se beste akademici wat die kruin van sukses in hul universteitsloopbane bereik het.

"Dit is erkenning aan julle, en bevestiging van die Universiteit se verbintenis tot akademiese uitnemendheid soos gereflekteer in die goeie aansien wat ons instelling tans wêreldwyd geniet." (Klik hier vir sy volledige toespraak)

Die name van uitgelese professore is:

Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe

Prof Amanda Gouws, Politieke Wetenskap

Prof Johan Thom, Antieke Studie

Prof Marlene van Niekerk, Afrikaans en Nederlands

Fakulteit Natuurwetenskappe

Prof Leonard Barbour, Chemie en Polimeerwetenskap

Fakulteit Opvoedkunde

Prof Aslam Fataar, Opvoedingsbeleidstudie

Fakulteit Agriwetenskappe

Prof Kennedy Dzama, Veekundige Wetenskappe

Prof Florian Bauer, Wingerd- en Wynkunde

Fakulteit Ingenieurswese

Prof Petrie Meyer, Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese

Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe

Prof Nic Terblanche, Ondernemingsbestuur

Fakulteit Regsgeleerdheid

Prof Sandy Liebenberg, Publiekereg

Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe

Prof Mark Cotton, Pediatrie en Kindergesondheid

Prof Anneke Hesseling, Desmond Tutu TB Sentrum

Prof Gerhard Walzl, Molekulêre Biologie en Mensgenetika

Prof Robin Warren, Molekulêre Biologie en Mensgenetika

Prof Soraya Seedat, Psigiatrie

  • Foto: Die groep uitgelese professore saam met prof Wim de Villiers en die dekane van die onderskeie fakulteite by Maandag se geleentheid.
  • ​​Fotograaf: Hennie Rudman