Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Sandra Liebenberg genomineer as lid van die VN se Komitee vir Ekonomiese, Sosiale en Kulturele Regte
Outeur: Korporatiewe Bemarking / Corporate Marketing
Gepubliseer: 08/02/2016

Prof Sandra Liebenberg, houer van die HF Oppenheimer Leerstoel in Mensregte en uitgelese professor in die Fakulteit Regsgeleerdheid aan die Universiteit Stellenbosch, is deur die Suid-Afrikaanse regering genomineer om te dien op die Verenigde Nasies se Komitee vir Ekonomiese, Sosiale en Kulturele Regte.

Die Komitee vir Ekonomiese, Sosiale en Kulturele Regte is die VN se liggaam bestaande uit 18 onafhanklike kundiges wat die implementering van die Internasionale Verbond vir Ekonomiese, Sosiale en Kulturele Regte deur sy lidlande monitor. Nominasies vir lidmaatskap van hierdie komitee word deur lidlande gemaak. Lede word verkies vir 'n termyn van vier jaar.  Lede dien daarop in hul persoonlike kapasiteit en kan herverkies word indien hulle weer genomineer word.  Meer besonderhede is hier​ beskikbaar.

Die Suid-Afrikaanse Departement van Internasionale Verhoudinge en Samewerking het gesê dié nominasie vir hierdie posisie is in erkenning van haar "omvangryke ervaring in menseregte, veral op die gebied van ekonomiese, sosiale en kulturele regte".

Die verkiesing van lede sal in April vanjaar in New York plaasvind.


Meer oor Prof Liebenberg.

Prof Liebenberg is die akademiese voorsitter van die Fakulteit se nagraadse navorsingsprojek oor Combating Poverty, Homelessness and Socio-Economic Vulnerability under the Constitution. Die Universiteit van die Witwatersrand het op 18 Julie 2011 'n LLD in Regte aan haar verleen, 'n uitnemende prestasie is.

Sy het verder ook op die Tegniese Komitee gedien wat die Grondwetlike Vergadering oor die Handves van Menseregte in die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, in1996 geadviseer het. 

Sy was voorheen betrokke by die Community Law Centre aan die Universiteit van die Wes Kaap, waar sy in 1997 die stigter was van die Socio-Economic Rights Project. Sy was intensief betrokke met navorsing en litigasie in die veld van sosio-ekonomiese regte by die sentrum , veral by die sentrum se amicus curiae toetreding in die bekende sake van Government of South Africa v Grootboom and Minster of Health and Others v Treatment Action Campagn and Others.

In haar huidige posisie aan die Universiteit van Stellenbosch verleen sy gereeld haar deskundige raad aan Nie-Regereings organisasies in die litigasie van sosio-ekonomiese aangeleenthede. Sy dien ook op die redaksie van die South African Journal of Human Rights, die African Human Rights Law Journal , die Human Rights Law Journal enSpeculum Juis. Sy is die voorsitter van die Nie-Regerings organisasie, SERI (Socio-Economic Rights Institute OF South Africa ) en is 'n raadslid van die Advisory Board of Council for the Advancement of the South African Constitution (CANSAC).

Prof. Liebenberg publiseer wyd in die veld van sosio-ekonomiese regte en is die outeur van die boek Socio-Economic Rights Adjudication under a Transformative Constitution(Claremont: Juta & Co Ltd, 2010).