Die Depatement Ondernemingsbestuur aan die Universiteit Stellenbosch het onlangs die 2024-konferensie van die Suider-Afrikaanse Instituut vir Bestuurswetenskappe (SAIMS) aangebied. Die vier dae lange geleentheid met insiggewende aanbiedings, meestersklasse en paneelbesprekings oor die tema, A Sense of Good Business, het saamgeval met die eeufees van die Departement.
Ter viering van dié herdenking is daar op die laaste dag besin oor Ondernemingsbestuur oor die afgelope eeu en die vraag oor hoe dit in die toekoms daaruit sal sien. Sprekers het verskeie akademici van die Departement ingesluit, waaronder dr Debbie Human-Van Eck. Sy het die sessie afgeskop met die vraag: “Hoe weet jy wat goeie beteken indien jy nie ʼn oomblik stil word en daaroor dink nie?”
Leer en deel lesse uit die verlede
Prof Johan Fourie van die US Departement Ekonomie het die belangrikheid van geskiedenis om eietydse sakepraktyke te verstaan, uitgelig. Hy het benadruk dat geskiedenis eerstens as ’n waardevolle hulpmiddel kan dien waarmee huidige omstandighede verbeter kan word. Tweedens moet akademici oortuigende wyses vind om hierdie navorsing bekend te maak en gehore te betrek wat nie gewoonweg aan akademiese literatuur blootgestel word nie.
“Ons vaar baie beter as in die verlede en ons moet aan kreatiewe maniere dink om hierdie boodskap met ander te deel. As akademici behoort ons meer realisties te wees oor die reikwydte van boeke. Ons moet inligting meer toeganklik maak deur innoverende maniere te vind.”
“Mense onthou storie,” het hy gesê. “Dis daarom belangrik om nuwe handelswyses te vind waarop ons lesse wat uit die geskiedenis geleer is, kan oordra met behulp van stories. Ons kan nie net op die klaskamer staatmaak nie.”
Evolusie van besigheidsbestuursonderwys
Wat die onderwerp van verandering betref, het prof Suzette Viviers en dosent Sabrina Matthee hul navorsingsprojek oor die geskiedenis van die US Departement Ondernemingsbestuur en sy groei oor die afgelope eeu bespreek.
Met sowat 10 000 studente wat tans vir ’n verskeidenheid programme ingeskryf is, het die Departement só ontwikkel dat dit gespesialiseerde grade aanbied wat met huidige besigheidsbehoeftes belyn is. Dit sluit entrepreneurskap, bemarking en finansiële bestuur in. Aangesien verandering ʼn onveranderlike waarde in onderrig is, moet kurrikula voortdurend aangepas word om aan die vereistes van ’n vinnig ontwikkelende sakelandskap te voldoen.
Viviers en Matthee het albei beklemtoon hoe belangrik dit is dat opvoedkundige kernwaardes met sakepraktyke in die werklike besigheidsomgewing ooreenstem en dat suksesvolle sakeondernemings hierdie waardes weerspieël. Hulle het vier noodsaaklike lesse in die onderwyspraktyk van besigheidsbestuur uitgelig; lesse wat personeel hul eie gemaak het en wat bygedra het dat die departement oor die afgelope eeu gefloreer het: die ontwikkeling van module-inhoud, die belangrikheid van kernwaardes, interdissiplinêre integrasie, en ’n toekomsgesentreerde onderwysbenadering.
Ander voorvereistes vir sukses sluit die volgende in: nuuskierige akademici wat in lewenslange onderrig glo; dosente wat aktief navorsing in hul onderskeie velde doen en wat bedryfsvennote, denkleiers, beleidsmakers en toonaangewende akademici op die globale verhoog betrek en met hulle saamwerk; dosente wat innovasie in onderrig, leer en assesseringsmetodes met ope arms verwelkom; ondersteuning van topbestuur; en professionele en administratiewe ondersteuning aan personeel.
Volgens Viviers het die volgende spreekwoord hulle sessie opgesom: “Die mens wat nie navorsing doen nie, het niks om te onderrig nie.”
Toekomsrigtings
Prof Gert Human, voorsitter van die Departement Ondernemingsbestuur, het uitdagende vrae gestel waarvoor hy weliswaar nie antwoorde het nie. Hy het die toenemende belangrikheid van sosiale konstrukte in besigheid bespreek, en die behoefte aan buigsaamheid in organisatoriese strukture.
“Ons worstel met twee kwessies in ons departement: Wat is die belangrikste spanningskragte en verskuiwings wat ons in die toekoms in die gesig sal staar?” het hy gesê.
Spanning sluit dié tussen kwantiteit en kwaliteit, relevansie en impak, innovasie en bestuur, en besigheidsdoelwitte en vryheid in.
Hy het sy bekommernis uitgespreek oor die druk binne die akademie om wetenskaplike uitsette te produseer en het mense gewaarsku om nie navorsing in ’n blote produksielyn te verander nie. “Ons moet ’n weg in bestuurswetenskappe vind om kwaliteit op skaal te lewer,”.
Human het voorbrand gemaak vir ʼn breër definisie van impak; een wat nie net bydraes aan plaaslike gemeenskappe insluit nie, maar ook relevansie in ’n verskeidenheid kontekste. Hy het bygevoeg dat dit lyk asof dit reeds gebeur.
Hy het verder die feit beklemtoon dat die wetenskap van besigheid fundamenteel ʼn toegepaste sosiale wetenskap is en het ʼn beroep gedoen op die herevaluasie van die benadering tot bestuursonderwys in Suid-Afrika. Hy het sy aanbieding afgesluit met die vraag: “Terwyl ons probeer om ons eie plek as bestuurswetenskappe in Afrika te vind, betrek ons genoeg mense?”
Ten slotte
Sprekers het gesamentlik ʼn beroep gedoen op ʼn meer holistiese benadering tot onderrig in besigheidsbestuur en ’n terugkeer tot grondslagonderwerpe soos geskiedenis en filosofie om die leerervaring te verryk. Die insigte wat gedurende die konferensie bespreek is, het nie net die belangrikheid om by verandering aan te pas beklemtoon nie, maar ook die idee dat goeie sakepraktyke tradisionele grense oorsteek en gemik is op positiewe sosiale impak.