Meer as sestig mense het die afgelope naweek hande gevat om 16 kilometer van Stellenbosch na die Bethlehem-plaas in Kylemore te stap in die Universiteit Stellenbosch (US) se vierde jaarlikse staptog in sosiale geregtigheid. Die staptog het die Suid-Afrikaanse jeug gevier en bewustheid geskep vir die Bridge the Gap en #Action4Inclusion geldinsamelingsinisiatiewe om te verseker dat geen student weens skuld agtergelaat word nie.
Thuli Madonsela, Direkteur: Sentrum vir Sosiale Geregtigheid aan die US, was aan die voorpunt met haar unieke teenwoordigheid en is vergesel deur die US Raadsvoorsitter, dr Nicky Newton-King, en die Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie, prof Sibusiso Moyo, wat ook die medevoorsitter van die Raad vir Sosiale Geregtigheid se kampioene is, en Basetsana Kumalo, sakevrou en 'n voormalige Mej Suid-Afrika. Die legendariese Springbok-rugbyspeler, Tendai "Beast" Mtawarira, en sy span van The Beast-stigting het spierkrag aan die groep stappers verleen.
Nadat elke deelnemer die geleentheid gekry het om hulleself voor Die Stal, die US se Alumni-klubhuis op Coetzenburg, bekend te stel, het die groep langs die Eersterivier deur die tuine by die Fakulteit Teologie, in Ryneveldstraat langs tot by die US se landmerkgebou, die Ou Hoofgebou, gestap. Hier het Thembalethu Seyisi, van die Sentrum vir Sosiale Geregtigheid, die aanhef tot Suid-Afrika se Grondwet voorgelees en die groep het die volkslied gesing. Naas die installasie wat die aanhef tot die Grondwet by die Regsfakulteit uitbeeld, het Madonsela die grondwetlike beginsels verduidelik wat die reg op onderwys vir almal begrond.
“Dit is nie net die regering se taak om die Suid-Afrika te skep wat ons Grondwet in die vooruitsig stel nie. Ek en jy en almal moet hande vat om daardie land tot stand te bring. Om uiting te gee aan menseregte, het hulle bene nodig, en vandag het ons almal gestap om bene aan geregtigheid te gee – soos reëndruppels wat gesamentlik die see vorm, kan ons saam 'n verskil in studente se lewens maak.
“Ek is nie in graad 11 huis toe gestuur nie, want vriendelike vreemdelinge het dit vir my moontlik gemaak om verder te studeer [deur daarvoor te betaal]. So, vandag dra ons almal by om die lewens van talle studente wat met studieskuld moet worstel, te verbeter. Ons kan nie die verlede verander nie, maar ons weet van beter en ons kan beter doen," het Madonsela gesê.
Die volgende stop was die historiese Lückhoffskool in Banghoekweg. Hier het Wilfred Daniels, een van Suid-Afrika se legendariese atletiekafrigters, die groep die storie en betekenis van dié skool vertel. As gevolg van die Groepsgebiedewet van 1950, is leerders in 1969 gedwing om hulle geliefde skool te ontruim en na die nuwe Lückhoffskool in Idasvallei te verhuis, met sommige leerders wat hulle skoolbanke saam met hulle gedra het.
Die voormalige Rektor en Visekanselier van die US, wyle prof Russell Botman, het in 2007 'n proses aan die gang gesit vir die simboliese hertoewyding van die ou Lückhoff-skoolgebou aan die oorspronklike eienaars. Vandag huisves dit – as 'n lewende museum – die US se Afdeling vir Sosiale Impak asook talle Stellenbosse NRO's.
Die direkteur van Ida's Valley Trails en een van Idasvallei se kampvegters, Eon Hendrickse, het aan elke deelnemer 'n klip oorhandig wat hulle moes saamdra en iewers moes begrawe as simbool van die las wat hulle moet dra. “Ek sal vergewe, maar kan nie die verlede vergeet voordat ek nie sien dat die mense wat rondom my woon, voldoende behuising en die voorregte wat hulle verdien nie," het Hendrickse gesê.
Van hier af het die groep die ou Helshoogtepas gevolg, deur Idasvallei en die al langs die Idasvallei Reservaat-roete na die plaas Zorgvliet gestap. Daar is vandag nog 'n ysterboei in 'n boom op die plaas waar slawe vroeër vasgebind is – 'n sterk herinnering aan baie ontberings wat die mense in hierdie land verduur het.
Op die ou Bethlehem-plaas het Mtawarira, wat die laaste woorde op die dag ingekry het, gesê daar is geen groter saak as om die jeug te ondersteun nie. Mtawarira het sy visie en passie gedeel vir die ongelooflike werk wat sy Beast-stigting doen, en gesê hy en Madonsela het vandat hulle die eerste keer ontmoet het, nog altyd 'n gedeelde visie gehad: “Om die jeug te bemagtig en aan elkeen die geleentheid te bied om die beste te word wat hulle kan wees".
“Ek het Stellenbosch vandag op 'n heel ander manier ontdek. Ek het ook besef dat skuld en 'n gebrek aan finansiering studente nie moet verhinder om hulle drome na te streef nie. Hulle moet toegelaat en in staat gestel word om hulle wildste drome te kan verwesenlik, soos ek gedoen het. Ek het op 16 'n beurs gekry wat my lewe verander het. Ek kon na 'n bekende privaat skool gegaan, het toegang tot die beste geriewe en opvoeding gehad, wat my die mens gemaak het wat ek vandag is. Ek sou nie 'n wêreldkampioen geword het as ek nie by daardie skool kon skoolgaan nie.
“Ek glo elke jongmens verdien daardie gelyke kans en geleentheid om uit te gaan en die leiers van die toekoms te word en hulle drome uit te leef," het Mtawarira gesê.
FOTO: Henk Oets