Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US bied belangrike internasionale konferensie oor sosiale geregtigigheidonderwys aan
Begin: 16/11/2022, 08:00
Einde: 15/12/2022, 16:00
Kontak:Dr Stephan van der Merwe - 021 808 2707
Plek: Old Main Building

​Die Fakulteit Regsgeleerdheid en die Regskliniek van die Universiteit Stellenbosch (US) bied binnekort vir die eerste keer die Global Alliance for Justice Education- (GAJE-)konferensie in vennootskap met die International Journal of Clinical Legal Education en die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Regsklinieke by Universiteit (SAULCA) aan. 

Hierdie 11de GAJE-konferensie word as 'n belangrike internasionale geleentheid oor sosiale geregtigheid beskou en word van 11–15 Desember 2022 by die Fakulteit Regsgeleerdheid op die Stellenbosch-kampus aangebied. Dit word deur die beheerkomitees van die toepaslike internasionale organisasies in medewerking met hulle eweknieë by die US se Fakulteit Regsgeleerdheid en die Regskliniek gereël. Konferensiegangers kan die geleentheid persoonlik of aanlyn bywoon. Die tema van die konferensie is 'Justice Education: Building Resilience and Strong Connections in Times of Global Challenges' (oftewel Geregtigheidsonderwys: Om veerkragtigheid en sterk konneksies te midde van globale uitdagings te bou).

Volgens die organiseerders is vanjaar se konferensie veral toepaslik omdat “die wêreld steeds ongekende veelvoudige uitdagings in die gesig staar wat met oorlog, gesondheidskrisisse, klimaatsverandering en ekonomiese, maatskaplike en politieke onstabiliteit verband hou – alles goed wat onderrig en kennisproduksie baie ernstig raak. In hierdie tyd raak geregtigheidsonderwys wat sosiaal toepaslik is, nog belangriker. Dit is nie net weens die potensiaal daarvan om uiters belangrike praktiese regsprobleme te pak waarmee samelewings gekonfronteer word en om innoverende reaksies daarop te vind nie, maar ook om veerkragtige samelewings te bou wat die veelvuldige uitdagings kan oorkom."

Die organiseerders voeg by dat die konferensie as 'n platform vir 'n verskeidenheid vooraanstaande wetlike geregtigheidsopvoeders en kampvegters vir sosiale geregtigheid van regoor die wêreld sal dien om hierdie huidige uitdagings te bespreek, asook hoe die samelewing veerkragtiger kan word. 

Van die sprekers is prof Thuli Madonsela, Direkteur van die Sentrum vir Sosiale Geregtigheid aan die US, en die bekende regsprofessor, David McQuoid-Mason. 

Die konferensieagenda sal ook baie ander boeiende en belangrike aanbiedings insluit wat innoverende benaderings en navorsing oor onderrigmetodes sal beklemtoon ten einde studente se deelname, diversiteit en maatskaplike geregtigheid te bevorder. 

  • Vir meer inligting oor die GAJE-konferensie, skakel mnr Stephan van der Merwe, senior prokureur, dosent en notaris publiek by die US Regskliniek in verbinding by 021 808 3600 / 2707 of stuur 'n e-pos aan sjhvdm@sun.ac.za.
  • Om die konferensie aanlyn by te woon, registreer asseblief hier: https://www.gaje.org/Upcoming-Conferences. ​