Navorsers en studente in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, Universiteit Stellenbosch word uitgenooi en aangemoedig om gebruik te maak van die navorsings- en internasionaliseringsmeganismes wat deur die FGGW-afdeling vir Navorsing en Internasionalisering Ontwikkeling en Ondersteuning (NIOS) aangebied word.
NIOS werk onder leiding van prof Nico Gey van Pittius, Visedekaan: Navorsing en Internasionalisering. NIOS het ten doel om 'n vriendelike, professionele en doeltreffende diens te lewer vir die bevordering van navorsing in die FGGW. Breë gebiede van navorsingsontwikkeling en -steun wat deur NIOS gedek word, sluit in: ontwikkeling en versterking van navorsingskapasiteit onder personeel en studente; koördinering van navorsingsbefondsingsaansoeke en -toekennings van die US en nasionale en internasionale befondsingsliggame; voldoening aan regulatoriese vereistes soos die etiese goedkeuring van navorsing; en samewerking met die Kantoor vir die Bestuur van Navorsingstoekennings.
NIOS bestaan uit sewe kantore: die Navorsingskapasiteit-ontwikkeling en -befondsingskantoor, die Tygerberg Doktorale Kantoor, die Kliniese Assistent-Navorsingsteunkantoor, die Voorgraadse Navorsingskantoor, die Kantoor vir Gesondheidsnavorsingsetiek, die Dierenavorsingseenheid, en Tygerberg Internasionaal. Saam bedien hierdie eenhede die navorsing, befondsing en etiekverwante behoeftes van die fakulteit se personeel, studente, en navorsingsvennote; en handhaaf nou bande met die Afdeling Navorsingsontwikkeling (ANO) van die US om 'n aantal ander navorsingsverwante kwessies aan te spreek.