Medicine and Health Sciences
Welkom by Universiteit Stellenbosch

​​​Voornemende Voorgraadse Studente

Gegradueerdes in Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe van die Universiteit Stellenbosch is nasionaal en internasionaal bekend vir hulle etiese gesindheid, kultuur van omgee en die hoë gehalte van gesondheidsorg wat hulle aan hul kliënte, pasiënte en gemeenskappe bied.  

Die Fakulteit se strewe dat die samestelling van die studente ’n weerspieëling van die demografiese profiel van die land sal wees, maak van die Tygerberg-kampus ’n ware multikulturele tuiste. Die kampus bied ’n taalvriendelike omgewing wat verskillende taalgroepe akkommodeer.

Toegang tot voorgraadse programme in Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch is onderworpe aan ʼn gestruktureerde keuringsproses. Studentegetalle in Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe word beperk deur regulasies van die Raad vir Gesondheidsberoepe en die SA Verpleegkunderaad; die gesondheidsdienste en die universiteit se beskikbare infrastruktuur en begroting; asook die hoë eise van die programme, wat gewoonlik net suksesvol voltooi word deur kandidate wat bogemiddeld op skool presteer het. ​


Opedag 2024

Vanjaar het meer as 4 000 voornemende studente en hul gesinne die Universiteit Stellenbosch se Tygerberg-kampus besoek. 

Indien jy dit gemis het, kan jy steeds al die belangrike inligting oor studies by ons hier kry:  https://blogs.sun.ac.za/open-day/


 

Tygerberg-kampus kampustoere

Huidige studente lei die kampustoere en die hoofattraksies op die Tygerberg-kampus word besoek. Die toere plaas die lewe van 'n huidige student op kampus in perspektief vir ouers en voornemende aansoekers. Toere word van Maandag tot Vrydag (9:00-15:00) aangebied. As gevolg van 'n groot aantal besoekers en tydsbeperkinge, word koshuise nie tydens kampustoere besoek nie. Geen toere word oor naweke aangebied nie.​

Besprekings: florenced@sun.ac.za

 

​Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe-inligtingsessies

Inligtingsessies word gestruktureer om voornemende aansoekers 'n oorsig van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe se aansoekproses, toelatingsvereistes, finansiële ondersteuningstelsel, akademiese organisasie en studentelewe te gee. Ouers en studente woon die sessies saam by en word aangemoedig om vrae te vra.

Ons verwelkom skoolgroepe van 10 of meer op kampus vir groepbesoeksessies. Groepbesoeke word op meeste weeksdae aangebied (die hele jaar) en ons beveel aan dat jy jou besoek ten minste twee weke vooruit bespreek. Ons vra dat, ongeag die graad waarin studente is, groepgroottes tot minder as 50 deelnemers beperk word.

Alle individuele en groepbesoeke moet vooraf met die Kantoor vir Studentewerwing en -ondersteuning gereël word.

Besprekings: florenced@sun.ac.za

Klik hier om ons regstreekse YouTube-uitsending van die V&A-sessie oor die 2024-aansoekseisoen te kyk: https://www.youtube.com/watch?v=EdeAvSxqrzM