Die Stigting is in 2004 gestig deur William “Bill” Frankel OBE – ’n vriend van die Universiteit Stellenbosch (US). Dit is ’n onafhanklike liefdadigheidsorganisasie wat in die Verenigde Koninkryk geregistreer is (registrasienommer 1107297) met die doel om alumni en vriende van die Universiteit te bemagtig om verdienstelike studente direk te ondersteun en om die Universiteit se strategiese doelwitte te bevorder.
Die Stigting speel ’n sleutelrol in die bevordering van die US se missie deur alumni en ondersteuners in die VK en Europa die geleentheid te gee om op betekenisvolle wyse tot die lewens van studente én die breër universiteitsgemeenskap by te dra.
Fondse wat deur die Stigting ingesamel word, stel ons in staat om uiteenlopende inisiatiewe te ondersteun – insluitend finansiële bystand vir studente, akademiese en emosionele ondersteuning, sowel as projekte wat die koshuiservaring verbeter. In onlangse jare is daar ook gefokus op dringende behoeftes soos ontberingverligting en inisiatiewe wat inklusiwiteit bevorder – alles met die doel om toegang tot hoër onderwys te verbreed en studentesukses te versterk.
Deur belastingdoeltreffende skenkingsmoontlikhede aan ondersteuners in die VK en Europa te bied, help die Stigting om die Universiteit se wêreldwye netwerk van vriende en alumni te versterk – ’n netwerk wat uitnemendheid, veerkragtigheid en geleenthede vir toekomstige geslagte ondersteun.
Bestuur en Deursigtigheid
- Geregistreerde liefdadigheidsorganisasie: Ingeskryf by die Britse Liefdadigheidskommissie (nr. 1107297) en Maatskappyehuis (nr. 05304075).
- Vrywilligersgedrewe bestuur: Die Stigting word deur ’n toegewyde groep trustees bestuur wat hul tyd vrywillig afstaan; geen personeel ontvang vergoeding nie.
- Hoë vlak van deursigtigheid: Jaarverslae en geouditeerde finansiële state word betyds ingedien en is publiek toeganklik via die Britse Liefdadigheidskommissie se aanlyn register.
Bestuur en Toesig
Die Universiteit Stellenbosch SA Stigting VK word bestuur deur ’n raad van toegewyde trustees wat strategiese leiding en fidusiêre toesig bied, en toesien dat die Stigting in ooreenstemming met sy liefdadigheidsdoel funksioneer. Die trustees dien op ’n vrywillige basis en bring uiteenlopende professionele kundigheid en ervaring na die Stigting se leierskap.
Hul verantwoordelikhede sluit in die hersiening en goedkeuring van toekennings, die beskerming van die Stigting se finansiële integriteit, en die versekering van volle nakoming van die Britse liefdadigheidswetgewing. Die trustees is daartoe verbind om deursigtigheid, verantwoordbaarheid en die vertroue van skenkers en belanghebbendes — in sowel die VK as Suid-Afrika — te handhaaf.
Die trustees:

| Andrea Barry Direkteur: Strategie vir die Pupkewitz-groep
Alma mater(s): Universiteit Stellenbosch (US) Harvard Besigheidskool
Kwalifikasies: BCom Aktuariële Wetenskap 2006 (US) Meestersgraad in Besigheidsadministrasie - MBA 2017 (Harvard)
Andrea Barry is ’n gerespekteerde Afrika-sakeleier en speel ’n sleutelleierskaprol in die Pupkewitz-groep – ’n 100 jaar oue Namibiese onderneming met ’n gediversifiseerde portefeulje maatskappye wat hoofsaaklik in die nywerheidskleinhandel bedrywig is. Andrea is verbind tot die voortsetting van die nalatenskap van haar oorlede oupa, die Namibiese sake-ikoon en filantroop Harold Pupkewitz, wat passievol aan ’n suksesvolle besigheid gebou het om betekenisvol tot die Namibiese ekonomie te kan bydra en in die gemeenskap te kan terugploeg.
Andrea word groot in Namibië en begin haar loopbaan in die versekeringsbedryf in Suid-Afrika, waar sy as aktuaris kwalifiseer en daarna senior poste in produkontwikkeling, kapitaal-solvensie, verkope, en sake-intelligensie by Liberty beklee. Sy word later die eerste Namibiër wat tot die voltydse MBA by die Harvard-sakeskool toegelaat word. Aan Harvard maak sy dit haar missie om Namibië op die kaart te plaas, die besoeke van drie Ivy League-sakeskole aan Namibië te inisieer, en in 2017 as die medevoorsitter van die Africa Business Conference te Harvard – die grootste studentbestuurde konferensie oor Afrika in die wêreld – op te tree.
Vandag werk sy uit haar Londen-kantoor as die Direkteur: Strategie vir die Pupkewitz-groep, wat die maatskappy se belange in die nywerheidskleinhandel, motor-, eiendoms-, finansiële tegnologie , en vervaardigingsbedryf laat groei en diversifiseer. Andrea lei die werwing van en toesighouding oor topbestuur en is ’n rentmeester van die Pupkewitz-handelsmerk. Sy dien sedert 2012 as ’n direkteur van die beheermaatskappy en is voorsitter van die direksies van talle filiaalondernemings. Andrea is ook ’n trustee van die Pupkewitz-stigting, die korporatiewe maatskaplike beleggingsarm van die Pupkewitz-groep en een van Namibië se vlagskipstigtings.
|

| Dalton Odendaal Konsultant by Harbottle & Lewis Alma mater(s): Universiteit Stellenbosch (US) Universiteit van Oxford Universiteit van Cambridge King's College London (KCL)
Kwalifikasies: BCom cum laude 1989 (US) LLB cum laude 1991 (US)
LLM 1993 (Cambridge) Baccalaureus in die Siviele Reg 1996 (Oxford) Nagraadse Sertifikaat in Sportreg (KCL) Dalton Odendaal is 'n konsultant by Harbottle & Lewis LLP. Hy was 'n vennoot in dié firma se sportregafdeling voordat hy hom by die Londense reëlingskomitee vir die Olimpiese en Paralimpiese Spele aangesluit het, waar hy van 2007 tot 2012 as hoof van kommersiële regsdienste gedien het. Ná die Londense Spele het Dalton as direkteur van bedryfsontwikkeling by die Britse Olimpiese Vereniging gewerk, en was hy verantwoordelik vir die herstrukturering van die vereniging se borgskap- en lisensiëringsprogram. Hy is die stigter en direkteur van 'n sportregtebestuursmaatskappy wat eienaars van sportregte oor die kommersiële ontginning van hulle regte adviseer. Dalton was hoofregsadviseur vir die eerste Invictus-spele in 2014. Hy bied steeds regsteun aan die Invictus-stigting, en sy maatskappy hanteer die kommersiëleregteprogram vir die Invictus-spele.
|

| Liesl Fichardt Vennoot by Quinn Emanuel Urquhart & Sullivan Alma mater(s): Universiteit Stellenbosch Universiteit van Notre Dame Universiteit van Kaapstad Chartered Institute of Taxation (CIT) Kwalifikasies: BCom Regte 1987 (US) LLB 1989 (US) LLM cum laude 1991 (ND) Hoër Diploma in Belasting 2008 (CIT) Liesl Fichardt is hoof van internasionale belastinggeskille by Quinn Emanuel Urquhart & Sullivan, en voormalige hoof van belastinggeskille by Clifford Chance. Sy word hoog aangeslaan op die Chambers & Partners- en Legal 500-ranglyste en is onder die voorste belastingspesialiste in die Verenigde Koninkryk op International Tax Review se lys van leiers in omstrede belastingsake. Sy is die voormalige voorsitter van die Britse tak van die Internasionale Fiskale Vereniging en dien ook in die internasionale belastingkomitee van die Regsvereniging van Engeland en Wallis. Boonop is sy lid van die advieskomitee vir die MSc in Internasionale Belasting aan die Universiteit van Oxford.
|

| Philip Lochner Stigter en uitvoerende hoof van PedalSure Alma mater(s): Universiteit Stellenbosch (US) London Business School (LBS) Kwalifikasies: BCom Regte 2001 (SU) MBA 2012 (LBS) Philip Lochner is die stigter en uitvoerende hoof van PedalSure. Hy het ook al gedien as die Verenigde Koninkryk se algemene bestuurder vir Orca, as ondervoorsitter van finansies en bedryf (Noord-Amerika) vir HiFX sowel as bestuurder by Infrastructure Finance Corporation Limited. |

| Prof Deresh Ramjugernath 13de Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch Alma mater(s): Universiteit van KwaZulu-Natal
Kwalifikasies: BSc Ing (Chemies) in 1993 MSc Ing (Chemies) wat in 1995 opgegradeer is na 'n PhD PhD in Chemiese Ingenieurswese in 2000 Prof Ramjugernath het 1 April 2025 amptelik sy nuwe amp aanvaar. Ramjugernath, 'n gesoute en hoogs ervare hoëronderwysleier met uitgebreide senior uitvoerende ervaring in die sektor in Suid-Afrika, dien sedert Januarie 2021 as die Viserektor: Leer en Onderrig aan die US.
Voordat hy na Stellenbosch verhuis het, was hy Viserektor: Navorsing en Pro-Visekanselier: Innovasie, Kommersialisering en Entrepreneurskap by die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN).
Hy beskik oor uitgebreide direksie- en bestuurservaring nadat hy op verskeie maatskappydireksies en organisasierade gedien het.
Ramjugernath is 'n hoogsgerekende wetenskaplike op die gebied van chemiese ingenieurswese en spesifiek in chemiese termodinamika en skeidingstegnologie (hy het op 31-jarige ouderdom die jongste volle professor in sy vakgebied in Afrika geword). Hy het tot 2018 die DWT/NNS Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel (SARChI) vir Fluoorprosesingenieurswese en Skeidingstegnologie beklee.
Hy was die studieleier vir meer as 130 meestersgraad- en PhD-studente wat gegradueer het en het meer as 20 postdoktorale genote gelei. Daar het al meer as 350 eweknie-beoordeelde vaktydskrifartikels deur Ramjugernath verskyn en hy het al het ten minste 300 referate by internasionale konferensies aangebied.
|

| Bill Frankel Voorsitter van die Stigting

Alma mater(s): Universiteit van Kaapstad Bill Frankel is in Suid-Afrika gebore en het hier grootgeword. Hy is 'n alumnus van die Universiteit van Kaapstad. Nadat hy die graad BA Regte in 1964 verwerf het, het hy in ballingskap gegaan, 'n jaar aan die Universiteit van Sydney aan sy LLB gewerk, en daarna teen die einde van 1965 na die Verenigde Koninkryk verhuis. Hier het hy hom opnuut gekwalifiseer en is hy in Junie 1970 as prokureur in die Britse hooggeregshof toegelaat. In September daardie jaar word hy vennoot in een van die voorste regspraktyke in Londen, waar hy tot en met sy uittrede in 2014 as regspraktisyn gewerk het. Bill was vanaf 1966 vir meer as 25 jaar die geheime regskonsultant vir Canon Collins se internasionale verdediging- en bystandsfonds vir Suider-Afrika (IDAF), waar hy hoofsaaklik verantwoordelik was vir die geheime versending van geld na Suider-Afrika om die regskoste van bykans elke politieke verhoor gedurende apartheid te betaal.
Hy het 'n OBE van die koningin ontvang nadat hy ingesluit is by haar millenniumerelys vir die bevordering van menseregte. Bill is bedrewe op die gebied van menseregte, konstitusionalisme en die onderwys. Hy dien as 'n trustee en voorsitter van 'n aantal liefdadigheidsorganisasies, waaronder organisasies in die Verenigde Koninkryk wat deur die universiteite van die Witwatersrand, Stellenbosch en Fort Hare sowel as die Konstitusionele Hof bevorder word. Daarbenewens is hy voorsitter van die Claude Leon-stigting, een van die grootste Suid-Afrikaans geregistreerde skenkersorganisasies, wat hoofsaaklik op onderwys en menseregte konsentreer. Bill is in 2007 as eregenoot van die Royal Society van Suid-Afrika aangewys vir dienslewering aan wetenskaponderwys en -navorsing. Die visekanselier van die Universiteit van Kaapstad het hom in 2014 met 'n silwer medalje vereer ter erkenning van sy onvermoeide werk op die gebied van onderwys, menseregte en konstitusionalisme, en sy voortgesette steun vir vele verdienstelike sake deur sy filantropie, wat steeds 'n verreikende en diepgaande impak binne sowel as buite Suid-Afrikaanse grense het. In 2015 het Bill boonop die Suid-Afrikaanse Orde van Luthuli (silwer) ontvang vir sy uitstekende dienste in die bevrydingstryd teen apartheid, veral sy geheime en belangrike bydrae tot IDAF.
|