Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Skool vir Rekeningkunde sosiale impak inisiatiewe verander lewens
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 19/06/2023

Die Skool vir Rekeningkunde het onlangs weereens sy uitnemendheid ten toon gestel deur twee sosiale impakprojekte aan te bied wat die lewens van jong gevangenes en skoolonderwysers in die Wes-Kaap op ʼn positiewe wyse beïnvloed het.

Die projekte, wat gelei word deur die waardes en strategiese temas wat in die Universiteit Stellenbosch (US) se Visie 2040 sowel as die Nasionale Ontwikkelingsplan ingebed is, is onderskeidelik in samewerking met die Departement van Korrektiewe Dienste en die Wes-Kaapse Departement van Onderwys aangebied.

Ex-Cell-projek

Altesaam 20 gevangenes van die Drakenstein Korrektiewe Fasiliteit wat op die punt staan om op parool vrygelaat te word, het in Mei dié opleidingsprogram bygewoon. Deelnemers is verskillende vaardighede geleer om hulle te help om sakeplanne te ontwikkel sodat hulle na hul vrylating in die sakewêreld kan meeding.

Juan Ontong, dosent in die Skool vir Rekeningkunde, wat die projek saam met mededosente Sher-Lee Arendse-Fourie en Ilse Frans op die been gebring het, het gesê: “Ons het 'n week lank verskeie vaardighede aan hulle oorgedra rondom die ontwikkeling van 'n sakeplan en om werk te kry. 'n Paar weke later was hulle genoodsaak om hul sakeplan aan die groep en ons as beoordelaars voor te lê. Tydens 'n afsluitingsfunksie op 22 Mei het ons bywoningsertifikate aan hulle toegeken en pryse vir die topaanbiedings oorhandig.”

Die program behels ook dat US-dosente en gevangenes deur dialoog en die deel van ervaring met en van mekaar leer. Ontong verduidelik: “Ons het formele aanbiedings om die verskillende onderwerpe van die werkswinkel te dek, maar daar is ook baie besprekings gebaseer op werklike ervarings. Die idee is om hulle soos mense te behandel en nie soos misdadigers nie, en om hulle te wys dat dit wel moontlik is om in die samelewing geïntegreer te word. Ons konfronteer soms moeilike kwessies. Byvoorbeeld, baie van hulle voel nie gemaklik om hul kriminele rekord op hul CV's te deel nie. Maar ons moedig hulle aan om liewers eerlik daaroor te wees en eerder hul positiewe eienskappe meer uit te lig.”

Sedert sy ontstaan in 2021 het ongeveer 60 jong gevangenes van die Drakenstein Korrektiewe Fasiliteit aan die program deelgeneem.

“Die idee is om hulle nie net toe te rus met die nodige sakevernuf nie, maar om hulle te inspireer om te begin dink dat daar alternatiewe maniere is om 'n eerlike bestaan buite die tronk te maak,” het Ontong gesê.

Dosente wat vanjaar aangebied het, was: Juan Ontong, Sher-Lee Arendse-Fourie, Waldette Engelbrecht, Cecileen Greef en Carli Smit (almal van die Skool vir Rekeningkunde). Ilse Frans (tans werksaam in die dekaanskantoor vir die EBW-fakulteit) was ook 'n aanbieder.

Onderwyserverrykingsprogram

Altesaam 161 Engels- en 95 Afrikaanse ekonomiese en bestuurswetenskappe-onderwysers van skole regoor die Wes-Kaap het byeengekom om dié program by te woon wat op 31 Maart en 1 April 2023 by die Kaapse Instituut vir Onderrig en Leierskap plaasgevind het.

Die doel van hierdie jaarprogram – 'n reeks werkswinkels wat deur die Skool vir Rekeningkunde aangebied word – is om onderrigvermoëns te versterk deur kennis en vaardighede te verskaf aan onderwysers wat tans hierdie vakke onderrig. Dit beoog ook om hulle te help om hierdie konsepte beter aan leerders te verduidelik.

Waldette Engelbrecht, dosent aan die Skool vir Rekeningkunde, brei uit: “Basiese finansiële geletterdheidsbeginsels en daaropvolgende rekeningkundige konsepte bevat aanvanklik skrikwekkende en onbekende terme. Ons deel met die onderwysers die vaardigheid om hierdie konsepte op 'n logiese stap-vir-stap manier te verduidelik, asook voorbeelde waarmee skoliere kan identifiseer.”

Sy het bygevoeg: “Ek sien dit as 'n sosiale verantwoordelikheid en 'n geleentheid om terug te ploeg wat onderrig en leer aanbetref. As onderwysers bygestaan en opgelei word, sal dit hopelik daartoe lei dat skoliere beter toegerus sal wees om tersiêre instellings te betree en dat hulle 'n beter kans sal staan om hul graad te voltooi en die arbeidsmag te betree.”

Die fokus van die werkswinkels was vanjaar op graad 7 en het onderwerpe soos rekeningkundige konsepte, inkomste en uitgawes, begrotings en spaargeld gedek.

“Elke jaar word 'n verskillende graad met uitdagende onderwerpe in hul kurrikulum vir die program gekies,” sê Engelbrecht.

Die Onderwyserverrykingsprogram word sedert 2018 aangebied en ongeveer 250 onderwysers (Engels en Afrikaans) van regoor die Wes-Kaap neem jaarliks aan die program deel.

Dosente wat vanjaar vir die program aangebied het, was: Waldette Engelbrecht, Juan Ontong, Pfunzo Mulandana, Danielle van Wyk, Christoff Botha en Petro Gerber (almal van die Skool vir Rekeningkunde).