Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
'n Dag in die lewe van: Larona Matee
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 12/05/2022

Larona Matee se werk by die Eenheid vir Gelykwaardigheid van die Universiteit Stellenbosch (US) draai om empatie, prosedurele billikheid en vertroulikheid. Dié gekwalifiseerde maatskaplike werker is 'n gevallebeampte wat klagtes van diskriminasie en teistering hanteer.

Aangesien Mei met die viering van Werkersdag begin het, wy ons hierdie reeks artikels aan ons personeellede en hulle belangrike bydrae tot die Universiteit. Lees verder om meer oor Larona se werk uit te vind.

Wat behels jou rol by die US?

As 'n gevallebeampte, hanteer ek personeellede en studente se klagtes met betrekking tot onbillike diskriminasie, seksuele teistering en seksuele aanranding. Dít sluit in advies oor die formele of informele prosesse wat gevolg moet word wanneer iemand 'n saak by die Eenheid vir Gelykwaardigheid aanmeld. Boonop behels my rol om uit te reik na die beweerde respondent om daardie persoon óók daarvan bewus te maak dat die saak aangemeld is, sowel as van die prosesse wat gevolg moet word. My rol is nie om te oordeel of enige aanbevelings te doen nie, maar om sowel die klaer as die beweerde respondent advies en ondersteuning te bied. Daarom is empatie, prosedurele billikheid en vertroulikheid die hoekstene van ons werk.

Hoe lyk 'n tipiese dag by die werk vir jou?

Die Eenheid vir Gelykwaardigheid het onlangs 'n aanlyn aanmeldingsplatform* bekend gestel, waar studente en personeel voorvalle van onbillike diskriminasie en teistering kan aanmeld. My dag begin deur hierdie aanmeldingsplatform vir enige nuwe sake na te gaan. Indien daar sake aangemeld is, volg ek die nodige prosesse om die voorlopige ondersoek te doen, en bied advies en ondersteuning. Ek voltooi onder meer innamevorms en dien verslae in by die hoof van die Eenheid vir Gelykwaardigheid en raadgewers.

Raadgewers oorweeg alle tersaaklike inligting en beveel dan die gepaste benadering aan wat die Universiteit moet volg. Aanbevelings en intervensies kan insluit bemiddeling, 'n kommissie van ondersoek, advies aan 'n klaer om 'n grief ingevolge die grieweprosedure vir personeel in te dien, die aanvoor van 'n dissiplinêre proses teen studente, verwysing na Menslike Hulpbronne, of terugverwysing na die betrokke lynfunksie vir intervensie en opvolgwerk. My rol behels dus vergaderings, samewerking en die handhawing van goeie verhoudings met ander steundienste by die Universiteit, waaronder Menslike Hulpbronne, Studentedissipline en vele ander.

Hoe het jou studie of vorige ervaring jou vir hierdie pos voorberei?

Voordat ek die pos by die US aanvaar het, het ek vir drie jaar as 'n maatskaplike werker by 'n openbare hospitaal gewerk, spesifiek in die buitepasiëntsaal, waar ons met traumapasiënte gewerk het. Om in so 'n onvoorspelbare omgewing te werk het my vir my huidige pos op die gebied van krisisintervensie voorberei.

Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US?

Ek geniet dit veral om institusionele opleidings- en interaksie-geleenthede vir studente en personeel te ontwikkel wat met onderwerpe oor sosiale geregtigheid soos toestemmingskwessie onder studente, konflikoplossing en basiese empatie en mediasie verband hou.

​Vertel ons iets interessant van jouself wat min mense sou verwag?

Ek is mal daaroor om kos te maak.

* Die Eenheid vir Gelykwaardigheid nooi studente en personeellede wat onbillike diskriminasie, teistering of viktimisasie beleef om dit aan te meld. Klik hier vir verdere inligting oor die aanlyn aanmelding- en moniteringsplatform én oor hoe om 'n klag in te dien.



Fotograaf: Stefan Els