Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US bied syferfoendi ’n unieke kans
Outeur: Sandra Mulder
Gepubliseer: 01/03/2022

​Hoewel die 17-jarige Kimberley Lucas van Wentworth, KwaZulu-Natal, verlede jaar vier onderskeidings in graad 12 behaal het, waaronder 99% vir wiskunde, het sy nie by enige universiteit aansoek gedoen nie. Dít, het sy gereken, is slegs ryk mense beskore. Soos baie van haar portuur in Wentworth wat uit maatskaplik en ekonomies benadeelde omstandighede kom, het sy aanvaar dat sy iewers 'n los werkie sal moet soek of by die huis sal moet sit. “Ál wat ons kon doen, was om klaar te maak met skool en dan iewers te gaan werk," sê Kimberley.

Lewe verander binne minute

Gelukkig het Beverley Hargreaves, 'n deernisvolle wiskundeonderwyser by die Sekondêre Skool Umbilo, hiervan te hore gekom. Hargreaves en vriend Marlon Burgess het elke moontlikheid ondersoek om Kim op universiteit te kry en uiteindelik met prof Singh van ʼn tersiêre instelling in KwaZulu-Natal kontak gemaak. Prof Singh het hulle na prof Jonathan Jansen, uitgelese professor in die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Opvoedkunde, verwys. “Toe ek hoor hierdie jong toppresteerder is van Wentworth het ek dadelik verstaan waarom sy nie by enige universiteit aansoek gedoen het nie. Diensarm gemeenskappe het komplekse sosiologieë wat in gedagte gehou moet word," sê prof Jansen.

Prof Jansen het besef dat Kim beslis vir tersiêre studie in aanmerking kom, en het by die US se finansiëlebystandskantoor navraag gedoen. Minute later het Kim 'n volbeursaanbod vir studie in Aktuariële Wetenskap ontvang, kompleet met betaalde verblyf en etes. “Kim is ongetwyfeld 'n genie," sê prof Jansen. “Dít is waarom ek so bly is dat die US beurse opsygesit het vir toppresteerder-instapstudente, juis om vir begaafde jongmense soos Kim voorsiening te maak. Met dié geleentheid het die US haar lewe verander."

Oorgehaal vir sukses

Dis haar tweede week op Stellenboschkampus, en Kimberley is nog effens oorweldig deur die omwenteling in haar lewe, maar sê sy pas stadig maar seker aan by haar nuwe lewe as 'n Matiestudent. “Ek geniet dit hier, en almal is vriendelik. Almal in Wentworth is trots op my," sê die nuweling, wat nie net die eerste in haar familie is om aan 'n universiteit te studeer nie, maar ook die eerste in Wentworth.

Sy sê sy het altyd ver weggebly van die maatskaplike euwels van dwelms, bendes en geweld in haar buurt, en eerder op haar skoolwerk en studie gekonsentreer om die beste moontlike punte te behaal. “So, toe ek nie finansiering by die Nasionale Finansiëlehulpskema vir Studente kry nie, was ek eers hartseer, want ek wou graag universiteit toe gaan. Maar toe aanvaar ek dit, vergeet daarvan om iewers aansoek te doen, en begin dink aan waar ek 'n werk sal kan kry. Enige werk sou goed gewees het vir my," sê die saggeaarde Kim.

Sy is besonder dankbaar teenoor prof Jansen en die US vir die geleentheid, en teenoor US-gegradueerde Emily O'Ryan, wat haar ná haar aankoms op Stellenbosch die kampus gewys en haar in die koshuis Nemesia help nesskop het.​

Noudat klasse behoorlik aan die gang is, geniet dié syferfoendi haar lesings. Sy is oorgehaal om hard te werk en haar studie te voltooi, en dan as aktuaris te werk. “Ek sal eendag 'n professionele aktuaris wees, 'n goeie salaris verdien en 'n huis koop," sê Kim. “Ek weet nog nie waar ek sal woon nie ... dalk raak ek geheg aan die Kaap. Ek ek sal die ander mense van Wentworth help wat wil studeer, maar nie soos ek 'n geleentheid kry nie."

  • Kim het toevallig in haar eerste paar dae op kampus die Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, ontmoet, wat haar informeel by die US verwelkom en haar alle sukses met haar studie toegewens het.rec kim.jpg