Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US gaan RW Wilcocks-gebou hernoem
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 30/07/2020


Die Universiteit Stellenbosch (US) het 'n proses van stapel gestuur om die RW Wilcocks-gebou op sy Stellenbosch-kampus te hernoem. Personeel en studente van die US, asook verteenwoordigers van die Stellenbosse gemeenskap, is uitgenooi om aan die proses deel te neem.

Die RW Wilcocks-gebou is in 1966 in gebruik geneem en is vernoem na prof RW Wilcocks, wat van 1935 tot 1954 die Universiteit se Rektor was.

“Visuele simbole ontlok verskillende emosies en ervarings by mense, veral in 'n diverse en histories verdeelde land soos Suid-Afrika," sê die Registrateur van die US en voorsitter van die staande Komitee vir die Naamgewing en Vernoeming van Geboue, Lokale en Ander Fasiliteite/Persele (Naamgewingskomitee), dr Ronel Retief.

“Dit is ons innige wens dat hierdie langverwagte hernoemingsproses van hierdie prominente gebou, wat ook as die ingang tot die Stellenbosch-kampus op die hoek van Ryneveld- en Victoriastraat gesien word, voorsiening sal maak vir breë deelname ten einde hierdie instelling en die omliggende gemeenskap se reis te weerspieël."

Die hernoeming van die RW Wilcocks-gebou maak deel uit van 'n langtermyn- en breedvoerige visuele regstellingsproses op die US se kampusse in 'n poging om nie net hinderlike simbole te verwyder nie, maar ook om nuwe visuele simbole bekend te stel wat op 'n gedeelde geskiedenis en ons uiteenlopende verhale dui en om openbare ruimtes te skep wat almal welkom laat voel. Hierdie proses is 'n paar jaar gelede bekendgestel en groot vordering is die afgelope paar jaar gemaak om studente- en personeel-vriendelike leef- en werksruimtes te skep wat aan die behoeftes van 'n uiteenlopende groep studente, personeel en ander belanghebbers voldoen, terwyl dit terselfdertyd ook 'n kultuur van verwelkoming op die kampus bevorder.

Ingewikkelde proses 

“Dit is 'n ingewikkelde proses om die naam van die RW Wilcocks-gebou te verander en dit was die afgelope paar maande en jare die onderwerp van debatte deur verskeie rolspelers," sê dr Leslie van Rooi, Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie en voorsitter van die Visuele Regstellingskomitee.

“Die Universiteit erken die uiteenlopende sienings en menings wat personeel, studente, alumni en die publiek oor die huidige naam het, maar ons kan terselfdertyd ook nie die feit ignoreer dat die nalatenskap van prof Wilcocks in kontroversie gehul is weens sy verbintenis met apartheidverwante aangeleenthede en rasgebaseerde beleide, asook weens sy verbintenis met Hendrik Verwoerd nie. Ons kan ook nie opeenvolgende Studenterade en ander leiers van studentebewegings, asook personeel, se pleidooi ignoreer om die naam te verander nie." 

Van Rooi voeg by dat daar goed-gedokumenteerde kritiek van die Suid-Afrikaanse sielkunde-akademiese gemeenskap (prof Wilcocks se vakgebied) oor die huidige naam is. “Wat belangrik is, is dat die Universiteit oor die verloop van die jare spesifieke versoeke van die akademiese vakgebiede en afdelings wat in die gebou gehuisves is, ontvang het om die naam te verander. Dit sluit in die departement Sielkunde, die Afdeling Navorsingsontwikkeling en Universiteit Stellenbosch Internasionaal.

Wat werklik belangrik is, sê Van Rooi verder, is dat die Universiteit in 'n baie spesifieke tydvak opereer en dat die huidige konteks die US dwing om vernuwend oor die name van geboue en simbole te dink. “Dit is alles in ag geneem toe die besluit geneem is om die proses om 'n nuwe naam vir die gebou te vind – in ooreenstemming met die beginsels van die US se beleid oor die naamgewing en vernoeming van geboue, lokale en ander fasiliteite en persele – van stapel te stuur.

“Dit is van die uiterste belang om geboue en koshuise se name so te kies dat dit op 'n gedeelde geskiedenis dui wat ons uiteenlopende verhale vertel en wat openbare ruimtes skep waar almal welkom voel. Die hernoeming van die RW Wilcocks-gebou is 'n geleentheid om hierdie proses uit te brei en om 'n kritiese gesprek oor name en geboue in die algemeen aan te moedig."

Proses

'n Uitnodiging vir voorstelle vir 'n nuwe naam is aan alle US-personeel, studente en die gemeenskapstrukture wat lid is van die US se Institusionele Forum, gestuur. Die sluitingsdatum vir die indiening van voorstelle is 26 Augustus 2020.

Alle voorstelle, wat deur ten minste tien US-studente, permanente of voltydse personeel, en/of lede van die verteenwoordigende gemeenskapstrukture op die IF geteken is, sal deur die Naamgewingskomitee oorweeg word. Elke nominasie moet ook deur 'n motivering vir die spesifieke naam vergesel word en kan ondersteunende dokumente soos die toepaslike navorsing, publikasies of meningsartikels insluit. 'n Kortlys sal aan die Rektoraat vir hul oorweging voorgelê word. Die Rektoraat sal die voorgestelde naam by die Uitvoerende Komitee van die Raad ter tafel lê vir goedkeuring.

Die huidige naam sal in die loop van die komende weke van die gebou verwyder word, maar sal – soos die geval was met die HB Thom-teater (nou bekend as die Adam Small-teaterkompleks) – in die gebou gekontekstualiseer word.

MEER INLIGTING

Onlangse naamsveranderinge

Van die naamsveranderinge die afgelope paar jaar sluit in die Coetzenburg-sentrum (voorheen die DF Malan-sentrum), die Universiteit Stellenbosch-biblioteek (JS Gericke-biblioteek), die Adam Small-teaterkompleks (HB Thom-teater), die Pieter Okkers Huis (Joubertstraat 7, en nou vernoem na die eerste inwoner, mnr Pieter JA Okkers (1875–1952) en Huis Simon Nikoli House (Victoriastraat 39).

Nuwe koshuise sluit in Huis Russel Botman House (wat na wyle prof Prof Russel Botman vernoem is), Huis Ubuntu House, Nkosi Johnson Huis en die Jan Mounton-gebou (wat tans in aanbou is).   

Ander onlangse projekte:

  • Die Kring", 'n brons kunsinstallasie bestaande uit 11 merkwaardige Suid-Afrikaanse vroulike denkleiers, wat laat verlede jaar langs die Rooiplein aangebring is.
  • Verwelkomingsboodskap in 15 Suid-Afrikaanse tale, insluitende braille, gebaretaal en San, is op bankies in openbare ruimtes op kampus gegraveer.
  • 'n Kaart van die Die Vlakte-gemeenskap is by die Lettere en Sosiale Wetenskappe-gebou aangebring. Die gebou is geleë op grond vanwaar gesinne ingevolge die Groepsgebiedewet in die sestigerjare verwyder is.
  • Die totstandkoming van die Lückhoff Lewende Museum
  • Die aanbring van die US se eeufees restitusiestelling by die US Biblioteek


FOTO: ANTON JORDAAN