Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Data-Ingenieurswese sal ten volle deur ECSA akkrediteer word
Outeur: Liesel Koch
Gepubliseer: 21/10/2019

Die Fakulteit Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch het onlangs 'n bevestiging ontvang dat die nuwe BIng-graad in Data-Ingenieurswese ten volle deur die Ingenieursraad van Suid-Afrika (ECSA) akkrediteer sal word vir registrasie as Professionele Ingenieur. Deur die ooreenkomste in die Washington Accord beteken dit dat die graad ook in 'n aantal ander lande aanvaar sal word as die vereiste akademiese kwalifikasie vir registrasie as professionele ingenieur. Hierdie lande sluit die VSA, Kanada, die Verenigde Koninkryk, Singapoer, Japan, Nieu-Seeland en Australië in. Kyk hier vir volledige lys.

Hierdie graad is 'n spesialisasiestroom in die bestaande voorgraadse graad in Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese, die BIng (E&E). Die doel van hierdie nuwe spesialisasie in Data-Ingenieurswese is om ingenieurs voor te berei vir die Vierde Industriële Revolusie, waar die wêreld van werk fundamenteel verander het en daar 'n vloedgolf van data is wat gestruktureer, gemodelleer en ontleed moet word om organisasies wat deur data gelei word, in staat te stel om onderliggende kennis te ontdek en om ingeligte besluite te maak.

Data-ingenieurs is verantwoordelik vir die ontdekking van neigings in datastelle en die ontwikkeling van algoritmes om rou data meer bruikbaar te maak. Dit vereis 'n aansienlike stel tegniese vaardighede, insluitend 'n diepgaande kennis van databasis-ontwerp en verskeie programmeringstale. Data-ingenieurs is dikwels verantwoordelik vir die bou van algoritmes om makliker toegang tot gestruktureerde en ongestruktureerde data te gee, maar dit verg 'n begrip van die doelstellings van 'n organisasie met die gebruik van groot datastelle. Data-ingenieurs het uitstekende kommunikasievaardighede nodig om met verskillende belanghebbendes binne en buite die organisasie te skakel om te verstaan wat sakeleiers van Groot Data wil bekom en ook om hul bevindings op 'n manier wat die gehoor maklik kan verstaan, aan te bied.

Data-ingenieurswese sluit alle take in wat benodig word om data beskikbaar te stel vir analise, kennisontdekking en besluitnemingsprosesse. Die hooftaak van die data-ingenieur is om 'n organisasie se data-pyplynstelsels te ontwikkel en in stand te hou, en om algoritmes te implementeer om data in 'n bruikbare formaat vir analise te omskep. Die take van 'n data-ingenieur sluit in die insameling van data, die stoor van data, datasinkronisasie, data-transformasie, data-skoonmaak, databestuur, en die ontwikkeling van datamodelle.

Daar is nog 'n beperkte aantal plekke beskikbaar vir eerstejaarstudente wat in 2020 vir hierdie nuwe graad wil inskryf. Voornemende studente wat belangstel om 'n loopbaan in Data-Ingenieurswese te volg, word aangemoedig om die voorsitter van die Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese​, Prof Herman Engelbrecht, direk te kontak by ee@sun.ac.za of tel 021 808 2139. Slegs leerders met volgehoue onderskeiding in wiskunde sal in hierdie laat stadium oorweeg word.

Bedryfsvennote kan die dekaan, prof Wikus van Niekerk (wikus@sun.ac.za, 021 808 4204) kontak vir meer inligting.

Gaan na afdeling 2.11.6 in die dokument (Ingenieurswese Jaarboek 2020) om die kurrikulum van die nuwe Bing (E&E) in Data-Ingenieurswese te sien.​